Dag 23 van die Grendelstaat

Ons is Hokbefok Jou Honour.

Ons veg. Ons veg oor die polisie, ons veg oor die weermag, ons veg oor drank, ons veg oor sigarette, ons veg oor Trump, ons veg oor wie het die beste statistieke vir Covid, ons veg oor wie se skuld dit is, ons veg oor mense wat op hulle maatjies klik by die regering, ons veg oor alles.

Maar eintlik veg ons teen onsself.


Dis ‘n Covid fenomeen  – sluit genoeg mense vir lank genoeg in hulle huise toe en ontneem hulle al hulle regte. Maak dit erger deur vir hulle voor te skryf dat hulle nie mag drank en hulle gunsteling gifpyle koop nie. Hou hulle weg van inkomste af. Hang die doodskadu oor hulle koppe met ‘n virus. Of die idee van ‘n virus. Of watookal jy wil hê dit moet wees.

Dis genoeg om enige iemand gek te maak.

Dit doen.

En dit wys.

Jy hoef net ‘n uur op sosiale media te spandeer om te besef hoe mense uitgemergel is deur hierdie spook van onsekerheid en angs en senuwees.

Die slim mense met wit jasse en dik brille reken die rouproses het 5 stappe.

Ontkenning. Woede. Bedinging. Depressie. Aanvaarding.

Of dit nou altyd in presies daardie volgorde is of moet wees die wis ek nie, ek is geen kenner nie. Maar dit is maklik genoeg om uit te werk dat ons nou mooi in die hoofstroom van die woede deel is. Waarskynlik met ‘n stewige sopie depressie bygevoeg vir geur.

Bedinging het reeds begin met instansies wat voorleggings aan die regering doen om hulle besighede weer oop te kry sodat hulle kan begin geld genereer – ons moet almal goed betaal maandeinde.
Waar was ons nou weer? O ja! Ons is eintlik nou verby kwaad – ons is de bliksem in. Vir ‘n minister met ‘n 1920’s rampokker hoed wat sy vinger rondswaai onder ons neuse. Vir mekaar. Vir die weer. Vir die magtelose gevoel. Ons is kwaad want ons kan nie gaargedraaide hoenders koop nie. Al het ek seker 2 jaar laas een gekoop is ek sommer nogsteeds de moer in daaroor. Ons is kwaad omdat ons geld opdroog en ons nie goed sal kan betaal op maandeinde nie. Ons is kwaad want Vrydag en Dinsdag en Donderdag voel almal presies dieselfde!

Ons is de moer in dat ons gedwing word om pynappelbier te brou – skelm. Ek is ‘n uiters onsuksesvolle drinker maar het jy al ‘n regtig goeie enkelmout whisky geproe gemeet teenoor pynappelbier?

Terloops – whisky vir die engeltjiepiepie wat in Skotland gemaak word. Whiskey vir die wat meer van die Ierse variante hou. Die Skotte gooi daai ekstra “E” in vir effek. En ja, met net so ‘n teelepeltjie of wat water by om die aroma molekules te laat ontbind van die alkohol molekules en sodoende die reuk van die whisky aan te wakker. As jy hom beter ruik proe hy ook sommer beter.

Kortom – ons is hokbefok!

Jou Honour.

En watter beter ontladingsplek vir hierdie opgekropte woede is daar nie dan ons goeie vriend – Facebook? Dis ideaal!  Niemand is naby genoeg aan mekaar om handgemeen te raak nie, so ons kan mekaar vervloek en vergil en verskree en verslegsê (ek dink ek het sopas ‘n nuwe word ontwikkel) tot die hane kraai.

Sodat almal notisie kan neem van ons inperkingswaansin.

Dis seker nie TE sleg nie. Behalwe dat dit net mooi niks doen vir die gevoel van onvergenoegdheid wat ons almal in ‘n meerdere of mindere mate ervaar nie. So nadat ons virtueel geskop en “gedonnor” het, is ons maar net weer waar ons was voor ons ons speelgoed uitgegooi het.

Sal ons geestesgesondheid ook opgeteken word as ‘n slagoffer van Covid-19?

Ag ja, so sit en tob ek hier onder die sterre terwyl ek behaaglik teug aan ‘n sopie virtuele whisky.

Sonder die ekstra E.

Riaan Coetzee
Kopiereg
17 April 2020 

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf