Dag 82 van die grendelstaat
Wonderwerke gebeur regtig, ek het dit vandag beleef! Ek stap in by 'n gunsteling koffiewinkel vir 'n haastige bekertjie liefde. Ek het 'n snobbistiese koffie benadering, synde ek self in die bedryf staan. Ek sal veel eerder water drink as slegte koffie. En beslis nie kitskoffie nie. Met die instap merk ek 'n splinternuwe melktert op. Hy vang my oog soos 'n bloedrooi nuwe Ferrari by 'n tweedehandse motorhandelaar. Hy lyk sommer so "jy weet jy wil my eet" lekker. Ek besluit toe net daar om maar te vra vir 'n stukkie, synde Vrydag en dag 82 en dis effe koelerig en sommer net want ek kan. Met groot plegtigheid word die snymes nadergehark en met groot presiesheid word 'n reuse sny uitgemeet en gesny, sy rante so netjies soos 'n weermagbed tydens basiese opleiding. Ek staan die petalje met groot oë en gadeslaan omdat my bek water want ek kan nie onthou wanneer laas ek 'n lekker stuk melktert geproe het nie. Die sny word versigtig uit...