Dag 17 van die Grendelstaat
Covid het duidelik nie ons kort aandag periode verbeter nie.
Net toe ek gedink het ons sink nog dieper die malput in, begin ek waarneem dat al meer mense weer besig raak om plasings oor Trump te maak.
Die spesifieke onderwerp het natuurlik al ‘n kultuur van sy eie geraak so ek vermoed dit moet verblydend wees dat mense weer kans sien om oor hom te veg in plaas van Covid.
Ek probeer nog net verstaan of dit ‘n silwer of ‘n oranje wolkrandjie is.
Covid blyk wel ‘n paar ingekerkerde culture te verander.
Die hele ding waar bekendes en beroemdes soos Hollywood akteurs, kits Instagram modelle en ander miljardêr musici vir die mensdom die pas aangetoon het is skynbaar besig om uit te sterf. Hulle sit algar ook in hulle paleise vasgevang, maar is so smagtend na aandag dat hulle nogsteeds vir hulle aanhangers video’s stuur vanuit baddens so groot soos sitkamers en sitkamers so groot soos vliegdekskepe.
Sterk wees vriende, ons ly saam met julle. Hou dop hoe manmoedig ons die hele situasie hanteer.
Dramatiese pouse terwyl hulle die kaviaar afsluk met Franse sjampanje.
Daarsy liewe vriende, my berader lig my in dat ek nog goed doen en darem nog nie gek geraak het nie maar o wee ek wil so graag uitgaan! Dalk met my golfkarretjie op die landgoed rondry sodat ek net weer gras onder my wiele voel! Ai, dis werklikwaar moeilik, hierdie tyd.
Maar die keisers se onderrokke hang skielik uit. Selfs lojale volgelinge begin deur die skyn sien, begin al meer en meer negatief reageer op hierdie narsistiese pogings om in die kollig te bly – en begin venynig raak teenoor hulle eertydse helde. Ricky Gervais lag homself sekerlik daagliks ‘n papie.
Dalk lui die Groot Verandering se klok ook ‘n einde in van hierdie vals, opgeblaasde "celeb" kultuur.
Daar is ook ‘n ander sub-kultuur besig om te vestig. Die een het oornag opgespring soos ‘n ongewenste paddastoel wat nou pronk op jou nuwe Persiese tapyt in die formele sitkamer. Niemand weet werklik wat om daarmee te maak nie.
Die informant kultuur. Mense wat ‘n baie fyn ogie hou op hulle bure en enige beweging in die straat en dan daardie kliklyn slaan soos ‘n kitaar om hulle te verkla. Hulle bel hom so warm dat hy gloei soos ‘n resieskar se uitlaatpyp.
Nog ‘n nuutjie is die pseudo krimineel kultuur. Drank en sigarette is verboten mein Herr. Maar mense soek hulle plesiertjies sterk genoeg dat die onafwendbare swartmark kultuur in ons midde ingesluip het soos ‘n dief in die nag.
Maklik genoeg vir ons nie-rokers om smalend vir rokers te sê hulle moet net ophou. Nie altyd so eenvoudig as jy die roker is nie. Soos met karwagte is dit maklik genoeg om smalend daaroor te raak as dit jou nie affekteer nie.
Mag Covid tog ook weer meer mense meer menslik maak.
Die dag toe die Minister met Al Capone se hoed afkondig dat hierdie items nie te koop sal wees in die Grendelstaat tydperk nie, het hy onwetend ook die begin van die swartmark era aangekondig.
Mense koop hulle rokies nou vir pryse wat 20 jaar gelede waarskynlik ‘n deposito op ‘n klein karretjie sou wees en as jy net kyk na die hoeveelheid soeke op Google vir resepte vir tuisgemaakte alkoholiese verversings hoef jy nie ‘n doktorale tesis te hê om te weet wat in baie huise aangaan nie.
Intussen, terwyl hierdie nuwe konkoksies klaar gis, het ons begin eiers drink...
Help!
Hierdie virus is ons moderne mens se Rubicon. Maar as ons ingee aan die malligheid kan dit ons Hiroshima wees.
Of dit nou wel eventueel die kil massamoordenaar uitdraai wat miljoene slagoffers saamneem as hy eendag vort, of toe inderdaad net ‘n veel erger griep as wat ander beweer – dis die modern mens se grootste beproewing ooit.
En soos altyd bring so ‘n skielike verandering op hierdie tipe skaal die beste en die slegste in mense uit.
Waak! Waak daarteen dat dit eerder die beste in ons uitbring. Dat ons na afloop hiervan eerder kan getuig dat die mensdom ‘n verbeterde weergawe is van wat was.
Nou moet ek gaan.
Die koue swembad watertjies roep my
Roep my uit die agteryard!
Roep my uit die agteryard!
Riaan Coetzee
Kopiereg
12 April 2020
Kopiereg
12 April 2020
Comments