Branderplank ry in die Kruger Wildtuin


Mal oor die Kruger wildtuin, ekke. Die bos praat mos met my. Afrikaans meestal, maar ook partykeer in ander tale. Almal diep gesprekke.

Laasjaar is ek en my ou maat Dawie en sy vrou Sonja toe af daardie kant toe. 10 wonderlike dae gekamp in Letaba. Baie lekker kamp vir die wat belangstel.

Altyd te veel mense na my persoonlike mening, maar as jy heeltemal alleen wil wees deesdae moet jy maar Kalahari toe, of Tankwa Karoo toe! Dis net dat die bos my so roep man. Kan nie wegbly nie.

Vat maar ‘n groot hamer vir tentpenne hoor. Dis makliker om ‘n leeu se boude af te vee as om die pennetjies in die grond in te kry. Klomp sweet en Suiwer Afrikaans later was ons toe darem klaar. En ek bedoel: Klaar.

Stort, ‘n knertsie vir die gemoed want teen die tyd was ek en ou Dawie darem erg jammer vir onsself sien, en loop soek leeus. Of blou ape as jy nie leeus kry nie. Net iets om van die moeë lyf te vergeet.

Goeie 10 dae gewees. Klomp TanneManne gesien, daai met die groot pote en die geel oë wat so dwarsdeur jou kan kyk. Tot ‘n aksiebelaaide “daar sien die vlakvark sy gat” op die laaste middag toe die arme ding 2 leeus vir familie aansien.

Meer olifante as wat daar parlementêre komitees is om “ongerymdhede” te ondersoek.  Letaba is olifant wêreld.

Ek slaap in my tentjie, direk langs die draad. Op my opblaasmatrassie. Lekker lekker gedurende nag 1. En nag 2.

Nag 3 is waar die dinge toe begin het. Word ek so 3 uur se kant wakker met ‘n linkersy wat voel of ‘n tandarts hom ingespuit het, so dood is hy. Vat my toe so ‘n paar sekondes om uit te werk wat nie meer dieselfde is nie. Toe besef ek!

Ek slaap op ‘n afblaasmatras!

Ja, die wetterse ding het die gees gegee. Mense, grond kan hard wees. Maar boere maak planne, so staan ek toe op en vat enige ding wat ek kan kry wat sag lyk en pak dit op die grond neer. En toe die afblaasmatras met die reste van die lug wat nog oor was.

So ‘n NOU bedjie, wat ‘n enkelbed na ‘n koningsgrootte bed laat lyk! En ek’s nie ‘n pikkanien nie. So kry ek toe maar my 6 voet 3 lyf daar op en begewe my in droomland in.

Maar ek slaap niks lekker nie. Want toe praat my BED met my, nie die bos nie.

Baie stram opgestaan, sommer 5 uur al. Koffie en uit by die hek toe die oopmaak. En die volgende aand maak ek maar weer so, want ons gaan eers Saterdag Phalagat toe om by vriende te gaan ontbyt eet. En daar kan ek ‘n lekker kampbed score.

Magtag man. Na daai tweede oggend was die grap lankal verby! Dawie stel toe voor ons moet dalk maar later as ons nou eers wild gaan kyk het terugkom en ‘n ietsie drink om te besin oor die matrassie, en dan probeer kyk waar hy stukkend is.

So kom dit toe dat die twee manne afsit Letaba se swembad toe met die matras op die Toyota Venture 4 x4 se dak. Stokstyf opgeblaas. Ons gaan daai gat soek!

Altwee van ons in die vlak kant met die wetterse matras. Jy al probeer om ‘n opgeblaasde lugmatras onder die water in te druk? En jy het gedink kurk dryf lekker!

Ons besluit ons toe maar hy sal vashou. Ek, want dis mos my matras, sal opklim. Mos groot man, sal die ou matrassie lag-lag in n duikboot verander.

Was ‘n goeie teorie gewees hoor. In die praktyk egter het ons nie gereken op die matras se verdomde ingeboude strewe na oorlewing nie! Want sink die doen hy nie. Ek balanseer op hom soos ‘n sirkus akrobaat! Groot bewondering gekry vir branderplank ryers daai dag!

Die groen kant is bo. En ek moet heen en weer stap op die ding want net die stuk onder my is onder water. Die res dryf bo, klaar! Ons merk egter geen merkwaardige borrels wat ‘n lekplek kan verklap nie. Nou ja. Draai hom om en herhaal die oefening.

Ek klim op, en toe ek daai tweede tree gee, kyk Dawie mos om na die oulike dametjie wat saam met haar kêrel daar ingestap het om te kom kyk hoe die swembad lyk. Net kyk, want dit die water is hopeloos te koud om te swem.

En sy greep verslap op die matras.

En daai verdomde matras skiet onder my uit soos ‘n poep uit ‘n bad uit! Ek doen so ‘n semi agteroor salto (ek HET ook mos Spiderman gekyk), en land in die vlak water, knieg eerste tref ek die bodem.

Sopnat. Yskoud.  En my knieg voel of hy hier net duskant my lies sit. En my ego is, wel, verwoes.

Dawie bewys himself toe mos ‘n ware pel. Lag sy gat af. Vark. Die meisie lag. Haar man lag. Ek sweer tot vandag toe ek het twee neushoringvoëls ook hoor lag.  Almal lag behalwe ek.

Want dit is te blerrie seer. Maar ek sit ‘n brawe gesig op, hinkepink kar toe en so is ons terug na ons kamp plek toe.  Paar stywe knertse later was die pyn meer verdoof, maar ek het vir 3 dae mank geloop! En NOG ‘n aand so ongemaklik geslaap op die koop toe.

Dit het darem nie die vakansie so bederf dat dit nie meer lekker was nie. Inteendeel, ons was dit almal eens dat dit een van ons beter wildtuin vakansies was.

Maar tot vandag toe weet ons nie waar die matras gelek het nie.

En al gat wat ek gesien het, was my eie.

Maar ek het bewys dat jy in die wildtuin KAN surf. Niemand het iets gesê van suksesvol nie!

Riaan Coetzee
Kopiereg
September 2008 

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf