Dag 20 van Grendelstaat

My hart dink nogsteeds dis die voorlaaste dag. My brein is ‘n ander storie – hy kan nie ophou lag vir my hart nie.

My binnekant is seker ‘n donnerse sirkus!

Ek het gedink ek is nou al min of meer gewoond aan die nuwe stadstilte. Tot 20 oor 5 vanoggend toe die einste stilte my wakker forseer.

My brein het ‘n rukkie geneem om te besef wat aangaan, so duidelik het ek vir ‘n verandering diep geslaap. Dis ‘n bonus. En mens moet nou elke bonus vat wat aan jou geskenk word.

Toe staan ek maar op en loop spring in die swembad. Die water begin darem nou nader aan my tipe temperatuur staan, so ek moet darem al so effe begin veg teen die asemsnak ding as ek inloop. Dan raak dit lekker. Mense dink ek is mal. Ek dink weer almal wat dit nie doen nie is.

Die waarheid is seker dat ons almal mal is.

Dit was briljant, soos altyd, om in die koue water te staan en te voel hoe my brein alles afsny en net fokus om asem te haal en my lyf warm te hou. Daar is iets so primitief in hierdie aksie dat dit verslawend is. Vir my in elk geval.

Seker nie sleg insoverre dit verslawings aanbetref nie – ander mense drink ‘n vol bottel brandewyn of Stroh rum uit net om ‘n aanlyn uitdaging beter te doen as hulle maatjies. Lewers van rubber, duidelik. Die virus sal waarskynlik te bang wees om daar te in, netnou versuip hy.

Opgevolg met ‘n koorsagtige reeks koffies. Want koffie is lewe indien jy getwyfel het!

Ons internet is ook op sy Corona. Hy hoes en proes die heel dag soos ‘n asmatiese doedelsak. Ek kan nie wag vir 5G nie. En ek kan nie glo ek het dit hardop gesê nie…!

Hier net voor 4 die middag sak daar skielik ‘n lieflike donderbui uit oor Centurion wat wondere vir die temperatuur doen. Nie dat dit oormatig warm was nie, maar nou is dit beter. Dit klink en ruik vars en skoon.

Reën is lewe en hernuwing. Reën is normaal.

Dis amper asof Moeder Aarde ‘n boodskap stuur – ek weet julle gaan deur ‘n tyd van verandering, maar ek sal wag vir julle…

“I'll wait, I'll wait to be the one
To catch you when you're falling
Always, always, I'll be the one
To answer when you're calling”
The Strumbellas – I’ll Wait

Dankie aan die rooikop vir die liedjie. Dis so gepas.

Ons veg manmoedig voort.

Want ons is so donners hardegat.

Riaan Coetzee
Kopiereg
15 April 2020



Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf