Dag 21 van die Grendelstaat
Die einde van die begin. Nee wag – die begin en die einde. Die einde maar die begin. Watookal. Julle weet wat ek probeer kwytraak. Dis so deurmekaar soos ‘n hawelose man onder huisarres.
Vandag was ek bloot net moerig en omgekrap en gatvol. En verlore. Ek het reeds uitgewerk dat sulke dae ook gaan gebeur, waar jy voel soos die vergete bottel bier wat agtergebly het nadat die polisie ‘n klopjag op ‘n onwettige drinkgat uitgevoer het.
Toe besluit ek alles se moer – ek gaan wildtuin toe.
Ek pak toe ‘n paar peuselgoed, klomp geelvet biltong, genoeg water, my fles varsgeroostede Boeretroos, verkyker en kaart en ek sit af Orpen hek toe.
Die gevoel om by een van die Kruger Wildtuin se hekke in te ry is vir my ‘n magiese een. Ek weet ek ry nou my gunsteling plek op aarde binne, dit laat die opgewondenheid letterlik oorkook. Ek kan beswaarlik wag om by hulle kantoor uit te stap nadat ek betaal het sodat ek net deur daardie poorte kan inry en voel hoe die wêreld se probleme van my skouers afrol.
Orpen kamp bied nie vir my regtig veel nie so ek spandeer nie tyd daar nie – ek wil in, ek wil die bos inasem en voel hoe my siel verkwik word.
Slegs ‘n kilometer verder draai ek links af van die H7 pad tussen Orpen en Satara op die grond voerpad na die Tambotie en Maroela kampe.
Maroela is my gunsteling omdat ek altyd met my tent gaan kamp. Baie klein, jy moet maar by Orpen loop addisionele voorraad koop, en hier word slegs ‘n klein hoeveelheid kampeerders toegelaat met tente of karavane. Geen rondawels of geboude akkommodasie nie. Dis perfek vir my en die wildbesigtiging van my tent af as ek teen die draad staan was nog altyd bogemiddeld goed. Maar vandag is ek effe haastig so ek ry net ‘n draai deur die kamp en laat my bek water om weer eendag my tentpenne daar in te kan kap.
Ek sluit weer aan by die H7 teerpad, rigting Satara.
Dis pragtig groen, effe aan die ruie kant maar wie gee om – ons ry in die Wildtuin! Ek ry stadig, want haastige mense mis alles behalwe die mees opsigtelike gebeurtenisse – soos wanneer ‘n leeu letterlik in die middel van die pad staan en aanbied om jou voorruit te was.
Wat is daardie beweging?? Daar net neffens die magtige ysterhout boom links van die pad? Ek hoor hulle voordat ek hulle nog sien – dit klink amper soos ‘n groot swem voëls! Maar hierdie voëls het wit stertkwaste en groot ronde ore. Hulle lywe is geverf in wilde skakerings van swart, bruin, rooi, geel en wit. Lycaon pictus. Een van my gunsteling spesies – Afrika wildehonde! Wat ‘n voorreg!
Ek spandeer goed ‘n halfuur by hulle voordat ek aanbeweeg. ‘n Man is honger ook nog en oggendete by Satara roep.
Nie 10 kilometer verder nie, teen die walle van die droë Timbavatirivier, word my dag net meer volmaak toe ek ‘n pragtige luiperd gewaar waar hy besig is om die rivierbodem te kruis, waarskynlik op pad om ‘n lêplek in sy gunsteling boom te soek.
Dis asof hy besef ek vergaap my aan hom – hy stop ‘n paar keer en kyk terug oor sy skouer. Dis asof hy regdeur my kyk. Goeie tyd vir ‘n koffie, al bewe die hande van die opwinding.
Die pad lewer altyd wonderlike verassings op. Ek sien olifante, koedoes, kameelperde, McDonalds Bokkies is oral, soos altyd. Die wit M wat op hulle gatkante gevorm word as die stert teruggevou word staan uit teen die rooivaal van hulle lywe. Ek hoor ‘n visarend roep, en dan antwoord sy maat uit ‘n ander rigting. Dis waarskynlik die mees perfekte klank wat die natuur kan oplewer en ek versuip my in die loutere plesier daarvan.
UIteindelik bekruip ek Satara se hoofhek. Kry parkering en gelukkig ook ‘n oop tafel by die Tindlovu restaurant. Teen die tyd is die honger al erg so ek bestel ‘n lekker ontbyt en nuttig dit terwyl ek luister na die murmurering van die windjie deur die bome en uitkyk oor die lowergroen grasperk en bome waaruit blouape my sit en waarneem. Wagtend op ‘n kans om iets te gryp en te laat spaander.
Maag lekker vol ry ek uit by Satara en draai regs terug in die rigting waarvan ek ingekom het. Die keer ry ek net verby die pad terug Orpen toe en draai links uit op een van die beter wildbesigtigings paaie in die wildtuin – die S100. Dis ‘n grondpad wat al langs die N'wanetsi Rivier afloop. Ek maak ‘n punt om te stop by die Shibotwana en Nsasane Watergate.
Slim plan!! By Shibotwana bevind ek myself midde in ‘n tamaai trop buffels. Reuse wat selfs nie huiwer om leeus aan te vat nie. Dis effe vreesaanjaend as ‘n goeie 80 plus buffels al om jou voertuig verbywei en van die groot bulle stop om diep in jou oë te kyk.
By Nsasane watergat vind ek die pot goud aan die einde van die spreekwoordelike reënboog – leeus!
Beslis my groot gunsteling van die katte en inderdaad van alle diere. Daar, nie 10 meter weg van my af nie lê 4 wyfies en dut, en omtrent 5 meter duskant hulle sit die ou grote en bespied sy domein. Hy brul. Daardie onmeetbaar diep stem tril deur my liggaam en laat my nekhare regop staan. Ek is in die sewende hemel. As ek leeus sien is my dag altyd volmaak. Ek spandeer dus heelwat meer tyd by die trop as wat ek moet maar nou ja, as ‘n man Boeretroos in die hand het en ‘n trop leeus wat net hier lê en leeudinge doen dan kan hoor en sien maar regtig verbygaan. Alles is onder beheer.
Die S100 stel nie teleur nie. Olifante, nog buffels, sebra, wildebeeste. By die t-aansluiting met die Gudzani pad draai ek links en weer vorentoe links in Old Main Road en al die pad terug na die teerpad tussen Satara en Olifants.
By die t-aansluiting met die Olifants/Satara teerpad hardloop twee jagluiperds oor die pad. Ek is net betyds om ‘n goeie kyk in te kry toe is hulle weer weg tussen die gras.
Nie 2 kilometer voor Satara nie loop daar twee leeus in die teerpad. Een verdwaalde hiëna volg hulle versigtig op ‘n veilige afstand, altyd reg om ‘n gelukkie te gryp as hulle op iets eetbaar sou afkom.
Dis my grendelstaat fantasie so daar is geen ander voertuie nie en ek kan behaaglik alleen langs hulle ry vir ‘n goeie 500 meter voordat hulle soekend afwyk die ruigtes in.
Na ‘n vinnige waterafslaan by Satara is dit ek en die pad terug Orpen hek toe waar ek afgesien word deur ‘n manjifieke roofarend wat my met ‘n wuif van sy vlerke groet. Net voor toemaaktyd sluk ek ‘n laaste koffie af uit my fles langs die pad tussen Maroela en Orpen en ek snel daarna deur die hekke uit met die hekwag wat toemaak agter my.
My verbeeldingsvlug skakel sy landingsligte aan terwyl ons die aanloopbaan van die lughawe by Realiteit nader, gereed om huis toe te gaan.
En dit, Generaal Grendelstaat, is hoe jy ‘n kak dag in ‘n goeie een omskep.
Riaan Coetzee
Kopiereg
15 April 2020
Kopiereg
15 April 2020
Comments