Dag 14 van die Grendelstaat

Eergister het ek ‘n tikkie vryheid ervaar!
Ek was vir die heel eerste keer sedert hierdie moerkoerdery begin het, winkels toe.
Met my masker. Want ek het een gekry en ek moes hom darem net een keer gebruik.
Ek reken ek het so effe soos ‘n Meksikaanse dwelmkartel sicario gelyk, kompleet met 'n pet en sonbrille. Ek het selfs die winkels so binnegevaar en niemand het my snaaks aangekyk daaroor nie.
Ek weet net nie of sicarios ook naarstigtiglik sonbrille en leesbrille moet ruil elke keer as hulle die inkopielyste wil konsulteer nie. En of hulle brille dan ook bly toewasem as gevolg van maskerasem nie.
My meegevoel met bankpersoneel wat kalm moet bly as al hulle kliënte gemasker ingestap kom.
Ek het aanvanklik soos 'n regte rebel gevoel - kyk hoe maak ek die hek oop Karin...kyk! Ek gaan strate toe, sien jy!
Die bravade het nie lank gehou nie. Ek bieg dat ek al die pad Spar toe gesit en rondkyk het soos iemand wat skelm omkyktwak gerook het in die 80's.
Die parkeerterreine was nie oorvol nie en daar was tot karwagte.
Baie mense het ‘n problem daarmee - ek kan net nie. Die arme mense werk soos dit is vir aalmoese, en as hulle dit nie doen nie is daar niks. Net mooi niks.
Ek sou reken as jy in so 'n posisie is, is die virus waarskynlik die minste van jou probleme. Jou volgende maaltyd is ‘n groter dringendheid. Dis gans te maklik om vir iemand kwaad te raak as jou maag lekker volgevreet is.
Dit was ongemaklik interessant om die stille staar-oorlog tussen gemaskerdes en ongemaskerdes gade te slaan. Gee tog net dat dit nooit in 'n internasionale sport ontaard nie. Asseblief en dankie!
Ek het dit nogtans so geniet om ander mense te sien dat ek amper die mense in die ry vir ‘n braai genooi het oor Paasnaweek.
Amper.
En dit het my binnekant goed gedoen. Ek is ernstig – ek voel sommer net ligter. Die batterye is bietjie herlaai. As jy my twee weke gelede vertel het dat ‘n uitstappie vir inkopies so ‘n helende effek op my gaan hê sou ek vir jou gelag het.
Ek lag nie nou nie.
Twee keer het iemand dit te naby aan my gewaag. Laat ons mekaar nou mooi verstaan, persoonlike spasie het nou p e r s o o n l i k e s p a s i e
geword.
Dis elke virus vir homself!
Toe draai ek so halfpad na hulle toe en maak of ek hoes.
Soveel vlugvoetigheid het ek lanklaas gesien. Wat my laat dink het dis dalk 'n briljante idee om 'n kar alarm te ontwerp wat klink soos iemand wat hoes.
Hulle oë wat so mooi koelrond gegaan het van skok bokant die maskers het my later gisteraand weer bygeval toe ek vir ‘n halfuur buite gesit staar het vir die wonderlike visuele spektakel van die supermaan.
Hy was net so pragtig rond soos daai twee skarrelkarnallies se oë.
Toe vlieg daar boonop 'n vliegtuig oor. Een verlate vliegtuig. Slegs weke gelede sou mens beswaarlik opgekyk het. Die keer het ek amper my nek afgeruk en vinnig ingestorm om ‘n brandewyn te skink. Tot ek onthou het – ek is nou droog.
Die brandewyn is klaar.
Fok.
Maar ek dwaal af. Vergewe my – ek lei waarskynlik aan Corona Brein.
Die winkels was glad nie vreeslik vol nie so alles het tot my verbasing pynloos en relatief vinnig verloop. Woollies was duidelik ‘n ander storie want die ry van mense wat daar wou in het doer om die hoek gestrek, kompleet met spoggerige sosiale afstandbeheer tussen lede! Gelukkig moes ek niks daar kry nie.
Dit was heerlik om weer te besef daar is meer aan my spasie as net die erf.
My tikkie vryheid.
Ek het wragtag toe nie eers rede gehad om die Polisie se Skinderlyn te gebruik om iemand te verkla nie en ek het so uitgesien daarna…
Maar ek het darem Ina se koek gekry.
So nou kan daar sjokolade koek gebak word.
Riaan Coetzee
Kopiereg
9 April 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf