Dag 19 van die Grendelstaat

Die tye verander. Die wêreld soos ons hom geken het verander. Die ekonomie verander. Die hele gesig van besigheid gaan waarskynlik verander.

The Times They Are a-Changin'

“Come gather 'round, people
Wherever you roam
And admit that the waters
Around you have grown
And accept it that soon
You'll be drenched to the bone
If your time to you is worth savin'
And you better start swimmin'
Or you'll sink like a stone
For the times they are a-changin'”
-          Bob Dylan

Dalk, hopelik, gaan mense ook verander. Ten goede. Alhoewel ek soms twyfel daaroor as ek so kyk na die venyn en nydigheid, veral op sosiale media.

Aan die ander kant weer kyk en luister ek na die mense wat ek persoonlik ken - ek hoor die bekommernis en onsekerheid. Maar ek hoor ook die omgee, ek hoor die suiwerheid van hulle harte.

Ek hoor hoe hulle kos aandra vir die buurman wat alleen bly en nogsteeds moet werk in die tyd. Ek ervaar die wonder van geld wat sommer net in my rekening beland, naamloos. Ek hoor hoe mense inkopies doen vir mense in hulle straat wat bejaard is en nie meer gemaklik rondbeweeg nie. Ek hoor hoe iemand gras sny en sommer sy buurman se gras buite sy erf ook vir hom sny, ongevraagd. Geen dankie verwag nie. Ek hoor hoe mense navraag doen onder mekaar – is jy nog met ons, hoe gaan dinge daar by julle, hoe hanteer jy nog die situasie?

Dit laat my dink ons staan regtig 'n kans om beter hier uit te stap.

Ek het vandag besef dis nodig om anker uit te gooi in hierdie see van ontstuimigheid.

Toe loop lê ek op die gras en kyk vir die wolke en die bome. Ek voel die gras onder my lyf. Ek hoor die voëltjies. Ek hoor hoe die takke en blare ritsel as die wind speel-speel aan hulle torring. Ek sien die wolke en die blou blou lug van die hemelruim. Ek voel die sonlig op my vel.

En ek haal sommer net asem. My gedagtes dartel soos skoenlappers al om die gekartelde randjies van die wolke rond.

Vry. Want geen grendelstaat kan my gedagtes inhok nie.  

En is is dankbaar.

Dankbaar dat ek, desondanks al hierdie onsekerhede, al die geharwar in die media, al die oor- en weer gevegtery, steeds gesond is.

Steeds kan sien om my te verheerlik in die natuur. Kan hoor en ruik en voel.

Dankbaar dat daar soveel mense is wat omgee vir my en lief is vir my, skete en al.

En ek besef - alles is nie verlore nie.

Selfs in tye van reusagtige, amper onwerklike verandering, bly sommige dinge steeds onwrikbaar staan.

En dit is goed.

Riaan Coetzee
Kopiereg
14 April 2020







Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf