Posts

Showing posts from May 3, 2020

Dag 45 van die grendelstaat

Julle Weskapers gaat ammal innie hospitale ingesit worre!! Toets nou net positief dan ry julle agter in die ambulanse, al is jy nie eers siek nie! Dalk moet hulle begin met die Stormers - dan is dinge heelwat makliker vir die Bulle in die toekoms. Dis net 'n idee - maar as julle iemand op die Bulle se bestuur ken, vertel hulle van my. Terwyl julle herkou aan my voorstel vertel ek julle solank van die keer toe ek die olifant gestoei het. Dit is laat op die Saterdagaand en dis beter nuus as virusse en politiek. In 2003, altans ek dink dit was in 2003, het ons die voorreg gehad om hier in Suid Afrika 'n wonderlike totale sonsverduistering te kon gadeslaan. Die enigste ding was net dat dit meer Noord net soveel beter ervaar kon word. So sit ek 'n my beste vriendin toe af, rigting Phalaborwa. Ons beplan om 'n aand daar oor te slaap by vriende en dan die volgende oggend eerstelig die wildtuin in te ry om die verduistering daar te ervaar. Ons het egter beplan om ...

Dag 44 van die grendelstaat

Image
Die Kubaanse dokters het glo Corona! Fok. Weet jy. Gerugte wil hê dat tot 27 van die 200 ingevoerde mediese slawe van die Kubaanse regering positief getoets is vir Corona. As dit waar is gaan selfs Hollywood sukkel om 'n gemors soos hierdie na te maak vir die grootskerm. Dis nou 'n tuisdoel op 'n totaal ander vlak. Olè! Dit herinner my aan 'n ander keer wat ek myself sommer 'n paar maal in een middag amper in 'n paar selfopgelegde tuisdoele bevind het. Dit was warm. Snikhete hitte wat jou lyf laat voel soos 'n sny brood wat sopas klaar gerooster is. So warm dat die kraaie nie meer gaap nie - hulle huil. Dis Desember in die Timbavati. Ons is weer daar op hierdie tyd van die jaar, want enige verskoning om in die bos te kan wees is die regte een. En ek vrek van die hitte. Ek is gek oor die bos ook, maar ek voel soos 'n stuk 3 weke oue biltong. So ek kerm al van vroegoggend se stappie in die veld ek gaan swem vandag. By die eienaar se huis, h...

Dag 43 van die grendelstaat

Image
Dis volmaan - los alles net en loop staan eers buite en waardeer dit. Dis 'n bisarre, onsmaaklike, bitter, senutergende tyd. Hoe langer dit aangaan hoe groter word ons trauma. Trauma oor werk en inkomsteverlies, trauma oor geliefdes wat nie meer met ons is nie, trauma oor verlore vryhede, verlore geleenthede wat nie weer herwin kan word nie, of oor die feit dat ons n ie ons hartsmense kan sien en druk en mee saam kuier nie. Te veel om te noem. Ons is midde 'n trauma tsunami. So gaan uit, gaan staan buite en drink 'n koffie of 'n pynappelbier, vat net 10 minute en drink net die wonder in van 'n pragtige volmaan. Leef jouself net absoluut, met volle oorgawe, in daardie paar minute in. Fokus net op die maan, die sterre, die manier hoe die omgewing verlig word. Vergeet net vir daardie paar minute van alles wat jou nagte om laat wakker rondrol. Haal diep, diep asem. Raak bietjie kalm. Leef net. Dis nou selfs nodiger as ooit om mooi met ons binnekante te werk te gaan. Ons...

Dag 42 van die grendelstaat

Ek moet eintlik net vir my 'n nuwe fokken bra koop! Elke dan en wan loop jy in iemand vas wat jou hele dag ophelder. Vandag was so 'n dag - ek moes apteek toe om goed te loop kry vir Oupa Piet. Toe ek klaar is besluit ek om sommer gou by Spar ook in te stap. Seker maar omdat ek 'n masker fetish begin ontwikkel en dis die ideale plek om hordes maskers bymekaar te sien. So val ek toe weer in die ry in. Die keer gelukkig 'n kort ry. Ek moet seker maar sê dit was 'n rytjie. En almal het maskertjies. En by die deur word ons handjies gespuit. Ek soek iets vir die asem ook - kan niemand meer organiseer nie?! Gou 'n paar goed gegryp - die keer het ek gelukkig die bankkaarte onthou - en op pad na die betaalry toe stap ek verby een mevrou wie se masker om haar nek hang. Nou dis nou net daar waar sy baie bly kan wees ek klik nie. Want dit was darem wragtag die ideale teelaarde vir 'n prysenswaardige gemoedsbekakking. Instede kyk ek haar so verby my masker en knip vir h...

Dag 41 van die grendelstaat

Die hele wêreld het die kluts kwytgeraak. En dit word net erger. In Australië mag die polisie glo selfs in jou huis inkom en jou verwyder vir korrektiewe optrede as jy iemand in jou eie huis soen. Sosiale afstand is kritiek mense! Stuur vir jou vrou maar 'n vonkpos en vertel haar sy soen lekker. Moet net nie daad by die woord voeg nie. Of soen haar in die spens sodat geen straatspioen julle sien nie. Selfs vry is nie meer vry nie. In Missouri in die VSA is daar na dese 900 ontsettend bekommerde spioene. Hulle het op ander mense en besighede geklik, wat beteken dat hulle name in 'n databasis vasgevang is wat deur die staat se konsentrasiekamp wagte bestuur is. Probleem is dat daardie data op een of ander "onverklaarbare" wyse uitgekom het en publiek gemaak is op sosiale media - so nou weet almal wie die staat se spioene in hulle midde is! Die vryskut spioene is nou bang vir 'n middernagtelike klop aan hulle deure. Kan jy nou meer. Ander weer het geklik ...

Dag 40 van die Grendelstaat

Ek voel die inkerkering kan nou maar gerus oorgee. Op hierdie dag in 1945 onderteken Admiraal Hans-Georg von Friedeburg die finale oorgawe dokument van die Duitse magte in die Nederlande, Denemarke en Noordwes Duitsland voor Veldmaarskalk Montgomery, in Monty se tent, by Lüneburg Heath, naby Hamburg. Op 4 Mei 1535 is 5 monikke van die London Charterhouse Klooster op gruwelike wyse tereggestel omdat hulle verseg het om Koning Henry VIII as die hoof van die Kerk van Engeland te erken. Ou Henry was ook lief om sulke swierige hoede te dra en staan bekend dat hy gedurende sy tyd as Britse Monarg die magte van die Koningshuis geweldig uitgebrei het. Hy het ook glad nie gehou van mense wat nie 100% gemaak het soos hy dinge bepaal het nie. Om die waarheid te sê is menige mense wat Henry ontstig het – en hy het maklik ontstig geraak – tereggestel sonder enige noemenswaardige verhore. In sy latere lewe is hy telkemale beskryf as ‘n egotistiese koning wat uiters onseker van homself was en ...

Dag 39 van die grendelstaat

Die stilte is deur sirenes vervang. Ek hoor skielik op een dag meer sirenes as in maande in die tyd voor Covid. Dis teneerdrukkend. Is dit die klank van die nuwe "vryheid", die era waarin die ganse mensdom gek geraak het en miljoene wetsgehoorsame burgers oornag in misdadigers verander is deur magsbehepte regerings? Alles onder die dekmantel van hierdie allesoorheersende vrees wat sistematies en doeltreffend in almal ingehamer is. Ek wil nie deel uitmaak hiervan nie. Jy beter seker maak jou onderklere hou, want dit is nie essensieël genoeg geag dat dit onder Vlak 5b van die grendelstaat aangekoop mag word nie. As jou stukkie boudflos dus gaatjies in het moet jy maar die ekstra ventilasie geniet en glimlag. In Meksiko waar dwelm kartels die pas aangee, is die New Generation Cartel besig met 'n reuse reklametog om hulleself as omgeemense te probeer uitbeeld. Hulle gewapende lede is oral in die gebiede wat onder hulle invloed val aktief besig om kos aan honger Meksika...

Dag 38 van die grendelstaat

Vandag was lnternasionale Kaalgat Tuinmaakdag. Al die bure het 'n petisie begin om die grendelstaat met onmiddellike ingang opgehef te kry. Party mense waardeer ook niks! Ek het net bietjie rondgehang. Elke dan en wan laat ek die motorfiets luier vir so 'n halfuur sodat die olie kan sirkuleer en die battery laai. Hy staan mos nou net. Vandag was effe anders. Ek het vergeet hy staan en brom onder die agterste afdak. Ek is hier in my kamer doenig en wonder heeltyd wie is so slim om sy kragopwekker te gebruik op 'n sonskyndag met elektrisiteit. Dit het my nogal gepla maar elke keer wat ek twee en twee bymekaar wou sit het my interne sakrekenaar probleme ontwikkel en die antwoord was 5. Twee ure later gaan ek buite toe om te probeer bepaal watter buurman is die geniale een met die oorywerige kragopwekker. Toe ek by die motorfiets verbyloop sien ek sy ligte brand. Toe val dit my by dat ek die geniale een is. Die bure het seker ook gewonder wie is so slim om 'n...

Dag 37 van die grendelstaat

Ses en net meer as 'n halwe kilometer! Dis hoe ver ek vanoggend gepativeer het. Toe die klok 6 slaan ruk ek die hek oop en storm die strate in met my beste rebelse lyftaal. Daai van - hou vas my bier en hou my nou fyn dop. Behalwe net dat ek nie bier het nie. Die gevoel van vryheid was heerlik, soveel so dat ek eers na die tweede kilometer onthou het ek moet na my asem begin hyg. In die uur wat ek in totaal op straat was het ek seker omtrent 'n twintig stuks mede wettige rebelle gesien. Almal groet mekaar vriendelik en 'n hele paar voeg by - whoohoo vryheid! Fietsryers, stappers, drawwers. So lekker om weer interaksie met ander te kon geniet. Snaaks genoeg geen mense wat in daardie tyd met hulle honde gestap het nie. Wat het gebeur sedert hulle laas so gekla het hieroor? Was dit so lank terug dat die honde oud geword het? Daar moet natuurlik altyd daai een wees. Een antie wat nie groet nie maar eerder van die oorkantste sypaadjie skree - waar is jou masker?! ...

Dag 36 van die grendelstaat

Ek mis Elizabeth se mieliepap. Liewe ouers, niemand maak mieliepap soos sy nie. My een vriendin reken dis maklik man. Jy vat water, moer mieliemeel en sout by en roer. Toe doen ek dit! 'n Uur later het ek maar roereiers gemaak. My vermoëns in die kombuis is meer gesentreerd om eiers, koffie en grondboontjiebotter toebroodjies. As Gordon Ramsay my op 'n kookkursus kry gaan selfs hy nuwe vloekwoorde aanleer. Elizabeeeeeeeeth ek mis jou! Ek verneem dat dames van die nag hulle dienste gaan uitbrei om hare sny in te sluit. Dis mos nou vindingryk, ek wonder net of hulle dit net daar op die hoek gaan doen. As pappa dus sê ek gaan net n knippie kry gaan mamma hom waarskynlik laat agtervolg. Die grendelstaat affekteer letterlik almal. Vandag staan ek en kyk hoe my skoonsussie wasgoed ophang. Op die waslyn sit 'n tortelduif. Hy beweeg nie so sy moet letterlik om hom wasgoed hang. Hy sit en kyk net belangstellend na wat sy doen, geen vrees nie. Toe gesels sy maar met hom. ...