Dag 93 van die grendelstaat
Visvangstories
Toe ek jonger was het ek ernstig visgevang. Die wat swem en jy kan braai. Soos ek ouer geword het, het ek meer begin fokus op visvang op die bank en in die fliek. Maar desjare was dit ernstig hengel.
En baie OBS wanneer ons privaat gehengel het. As jy kompetisie papgooi en hulle vang jou die karp aas in jou Coke gooi, gooi hulle jou uit.
Een winter is 'n paar van ons af na 'n plek met die naam Wolwespruit reservaat. Vaalrivier, grens van die Vrystaat en die Noordwes. Dit was destyds nog Wes Transvaal..
As jy 'n rowwe sirkel trek tussen Bothaville, Leeudoringstad en Bloemhof aan die Noordwes kant en Hoopstad en Wesselsbron aan die Vrystaat kant het jy 'n idee waar dit is. Daai tyd was dit nog lekker wild gewees, en daai deel van die wêreld raak leeukoud. Maar vrees is daar nie, en OBS is daar wel. Sommer baie van. Ons slaan haastig stoele en visgerei op en laat loop solank die lyne sodat die vis kan begin honger raak. Toe begin ons OBS gooi en rustig raak.
Dis ernstig visvang die, al OBS ons ernstig. Ons slaap in ons slaapsakke langs die stokke en vang regdeur die nag. As daai katrol skree KWEEEEEEEEE soos 'n ou grote laat loop met die aas dan is jy wakker en op en besig, want daar was groot karp en babers in daai waters. Ons hark ook 'n paar netjiese visse bymekaar en toe die son sy kop uitsteek het almal se nette al iets in.
Dis toe dat iets my een stok van sy mikke afruk en water toe vat. Ek laat val my koffie - weet jy wat vat dit om my sover te kry om my koffie te laat val - en laat spaander agter my stok aan! Die rivier het 'n redelike deel waar hy egalig dieper raak voor die bodem sommer net wegraak. Nou moet jy weet - my weermag slaapsak was spierwit geryp daai oggend. My swart visstokke en selfs die lyn tot waar hy in die water in verdwyn - alles spierwit geryp. Want dis koud. En die water is kouer as 'n politikus se siel. Die was darem nou baie lank voor my yswater swemkaskenades. Ek is in die water in met 'n gejuig want ek soek my visstok terug.
Die manne vertel my ek was die een oomblik daar, so amper halflyf in die water, toe ek my stok in die hande kry en die volgende oomblik was ek net weg. Net my hoed dryf op die water soos 'n nagedagte. Ek is op pad bodem toe, maar darem met my visstok. Ek het geen idee hoe diep ek daar in is nie, maar ek onthou hoe ek vir 'n vale hel gespook het om met net een beskibare hand weer tot by die oppervlak te kom. Ek breek die oppervlak soos 'n kernduikboot wat 'n noodoefening uitvoer en ploeter so met die een hand kant toe terwyl ek my visstok agterna sleep en daai vis vloek dat die see hom nie kan skoonwas nie. Ek onthou duidelik hoe ek in my kop gegil het - "as ek vandag versuip gaan ek daai vis kruppel bliksem!!!"
Nou ja, nodeloos om te sê was dit toe darem nie nodig om die vis tot 'n boksgeveg uit te daag nie. Wie het gesê visvang is nie gevaarlik nie!
Aanvanklik het ek begin met twee 14 voet stokke wat jy die twee helftes so inmekaar druk en dan die katrol opsit. Dit was baie stywe stokke gewees, inteendeel insoverre dit visstokke aanbetref was hulle feitlik op blou pilletjies. Soos wat ek ernstiger begin hengel het, het ek agtergekom as jy damhengel vir karp is dit gereeld nodig om daai bol aas diep te moet inkry, en daarvoor was stokke nodig wat heelwat meer speling ingehad het wat meer afstand sou gee. Heelwat slapper stokke.
So koop ek toe vir my twee 14 voet stokke - ek dink amper dit was iets soos Carp 4000 stokke as my geheue my nie versaak nie. Maar hulle was so slap soos 'n Ford Cortina se lugdraad.
Soos die dinge toe uitwerk het ons toe die Saterdag net na ek hulle gekoop het 'n groot kompetisie aan by 'n dam buite Ventersdorp. Dit sou dus die eerste keer wees wat ek met die slap stokke sou vis.
Ek weet nie of jy al 'n hengelkompetisie gedoen het nie. Die hengelaars kry elkeen 'n pen nommer, en elke pen word deur twee hengelaars gedeel. Een links en een regs van die pen. Dan is daar 'n paar meter, nie baie nie, tot by die volgende pen. Jy het dus effektief maar iets soos 'n 2 of wat meter wye laan in die water waarin jy moet hengel, wat uiteraard strek tot so diep jy kan ingooi. En glo my, daar was manne wat 'n visstok kon swaai dat daai lyn gons soos hy trek voor hy water tref. Diep in, baie diep.
Dan hengel jy 4 ure gevolg deur 'n kort breek en almal skuif na 'n ander pen toe vir die tweede 4 ure skof. Streng reëls so dis 'n ernstige ding.
My penmaat was 'n gesoute Springbok gewees. Geen idee meer wat sy naam was nie. Maar hy wil nie eers hê jy moet na sy kant toe kyk nie, so ernstig geheim is sy kas doepas wat hy gebruik om die karpe te vra om te kom groet. Hy raak sommer bemoerd as hy besig is om aas aan te sit en jy lyk net of jy te naby staan.
Nou ja, ek kry my goed reg, die fluit blaas en die kompetisie is aan. Dit gebeur gereeld dat almal eers goed papgooi om 'n voerplek te probeer bewerkstellig, so dan brei jy net so 'n fris bol mieliemengsel aan die gewig sonder hoeke of aas en jy laat loop so 'n paar van hulle. Hou in gedagte die tipe akkuraatheid wat geverg word, want jy will hulle almal in min of meer dieselfde kol probeer kry in jou "laan" sodat jou buurmanne nie voordeel trek nie.
Met al die goed in gedagte, en terdeë bewus dat ek omring is van baie ervare nasionale en provinsiale hengelaars, tree ek toe aan met my eerste mieliebol vir voerplek. Met die nuwe slap stok natuurlik. Ek neem die posisie in soos 'n gesoute hengelaar, oor my kop, die lyn liggies tussen my duim en visstok vasgehou, die swaar bol mielies gereed om in 'n missiel te verander. Ek haal lekker diep asem want die senuwees pla maar, ek het toe nog nie lank gevis nie. Dalk twee of drie jaar. Van die manne om my vis al letterlik hulle lewens lank.
En ek tree vorentoe en swiep daai slap stok vorentoe dat hy so 'n fluitgeluid deur die lug maak en laat los!
"Bliksem!" dink ek, "vandag gooi ek tot op die ander wal, ek sien nie eers die bol mielies raak nie!!"
"Koes kêrels!!!!" hoor ek van my regterkant af al teen die streep hengelaars op soos die noodkreet opgeneem word!
Dis toe geen wonder ek sien nie my bol voerplek mielies nie - die verdomde slap stok het my hele hengelaar loopbaan sommer net daar 'n reuse knou gegee! My lyn lê en blink te pragtig in die oggendsonnetjie - bo-oor seker die naaste twintig of dertig penne se lyne! En van diep was daar toe nie sprake nie - hy het nie verder as tien meter in die water in geval nie. Kyk, as daar 'n karp onder hom was het ek hom bewusteloos gegooi. Maar hy het seker 'n goeie sestig meter ver getrek!
Met 'n gesig so rooi soos 'n tamatie begin ek die pynlike opkatrol proses, al teen die lyn af.
"Jammer julle, skuus manne, sal nie weer nie, was net 'n glipsie, jammer ek leef..." al teen die linie hengelaars af. Party lag, ander glad nie. Uiteindelik is ek weer gereed om 'n tweede keer te probeer. Ek lig die stok bewerig oor my kop en staan reg en net toe ek wil gooi gil my penmaat kliphard "DEKKING!!!!" en omtrent al die hengelaars om my val langs hulle stokke plat en bedek hulle hoofde, asof hulle met handgranaat opleiding besig was. Wat seker nie vergesog was in lig van wat ek hulle aan onderwerp het nie.
En daar staan ek met wydgestrekte oë en 'n angsaanval in my broek.
Ek laat loop, maar ek bewe so dat die donnerse bol aas 'n lewe van sy eie kry en die keer na die ander kant toe trek, weer oor 'n spul lyne. Een slim vark loop kry 'n weermag staalhelm uit sy bakkie en sit die op en skree "Laat loop maar boeta ek is reg vir jou!"
Nodeloos om te sê was daar geen einde aan die spottery soos ek sukkel nie, en hoe meer ek opgewen raak hoe meer sukkel ek. Ek was later heel lus om op te pak, maar gelukkig ontferm 'n paar gesoute manne hulle oor my en kom staan by my om my touwys te maak oor die korrekte metodiek met slap stokke. Teen die einde van die eerste helfte het ek steeds geen vis in my net gehad nie maar ek het 'n helse leerkurwe oorwin en my ingooie was sommer heel spoggerig.
Teen die einde van die tweede helfte het ek darem 'n paar mooi vis gevang gekry, die spottery het steeds nie einde gekry nie, maar van die sukkelende, swetende visvakleerling van die oggend was daar geen sprake meer nie.
Nooit weer het ek gesukkel om 'n visstok te laat sing nie. Maar daai dag sal altyd helder in my gedagtes bly as 'n vuurdoop soos min.
Vandag vang ek bitter min vis, maar ek kan steeds daai stok laat musiek maak as ek hom vorentoe sweepslag.
En ek sien nou nog hoe daai klomp bliksems grond toe duik.
Riaan Coetzee
Kopiereg
1 Julie 2020
Kopiereg
1 Julie 2020
Comments