Dag 16 van die Grendelstaat
Stuck in the middle with you…
Onthou julle daai liedjie?
Ek reken honderde miljoene mense voel presies net so.
Aan die een kant word ons gebombardeer met ‘n nimmereindigende stroom informasie deur die hoofstroom media, regerings en hulle lakeie.
Aan die ander kant gebeur dieselfde met elke individuele opinie en mening, elke teorie, elke sameswering, elke rasionele en irrasionele kommentator se indrukke, terugvoer wat hulle gehoor het by iemand wat dit by iemand gehoor het, wat dit weer by iemand anders gehoor het, elke histeriese geweeklaag en bevreesde rugsteuning van dit wat elkeen se idees die beste pas.
Ek het onlangs genoem dat sosiale media ‘n tweesnydende swaard is.
Dit is in hierdie deurmekaar, onseker, vreemde tyd ‘n lewensaar vir so baie waardeur die bloed van konneksie met die buitewereld bruis.
Maar dit is ook ‘n mynveld wat jou reeds brose gemoed kan vat en hom vergruis as jy dit nie goed bestuur nie.
En reg in die middel sit ons, vasgevang tussen hierdie informasie en disinformasie strome wat nie werklik veel doen om mense se vrese aan te spreek nie. Inteendeel.
Vasgevang In Die Middel.
Met. Jouself. Met jou denke.
Luister dus maar met ‘n baie ligte oor na al die stories, gebruik ‘n baie fyn sif om daardeur te sif, of vermy dit sover jy kan.
Dit sal jou vir heelwat langer weerhou van stapelgek raak.
Gebruik veel eerder hierdie tyd om op jou geliefdes te fokus as hulle saam met jou is. Of kontak te behou met die wat op ‘n afstand is. Fokus om dankbaar te wees dat jy nog lewe en gesond is. Of raak bietjie kreatief, lees daai boek wat jy al so lank van praat, vang op met slaap, leer ‘n nuwe vaardigheid, doen aanlyn kursusse, raak net bietjie rustig – ‘n baie goeie leermeester van my se gunsteling sêding is – haal net asem.
So doen dit. Haal net asem. Rus. Spandeer tyd aan jouself, jou eie geestesgesondheid, jou kinders, jou lewensmaat.
Fokus op die goeie. Op dit wat jou rustig maak. Gister was so ‘n onstuimige dag vir so baie en ek het net weer besef – ons kan slegs bestuur dit wat in ons denke aangaan. Die res is buite ons beheer.
Bedank sommer vandag nog as die hoofbestuurder van die heelal. Dis nie jou werk nie.
Hier kom so baie veranderinge na dese.
Indien ons nie met groot liefde en omgee na onsself ook gaan kyk nie gaan die herstelproses ‘n onoorkombare brug word.
Intussen is ons maar in die middel êrens, siftend na die waarheid wat ons bly ontwyk.
Riaan Coetzee
Kopiereg
11 April 2020
Kopiereg
11 April 2020
Comments