Dag 103 van die sosialistiese staat van grendel.

Dra jou masker of gaan tronk toe.
So spreek die agbare ministers van die regering van hulle vroom televisie platforms af na hulle landsburgers.
Dieselfde burgers vir wie hulle vir 26 jaar lank al oor en oor bewys presies hoeveel minagting hulle voor het, en presies hoe min hulle gepla is oor dieselfde burgers se wel en weë.
Dieselfde minsters wat al jare dien in 'n regering wat van die kop af gevrot is tot binne in sy murg in. Die regering met die verotte siel. Die regering wat slegs een missie in die lewe het - om hulleself te alle koste te bly verryk en die hele sisteem te gebruik om hulle gatte uit die tronk te hou.
Dis dieselfde ministers wat skielik so begaan is oor ons heil, oor ons gesondheid, oor ons drink- en rookgewoontes, dat hulle hele industrieë op hulle knieë dwing in hulle ydele koorsagtigheid om tog net te lyk of hulle omgee. Soveel so dat 'n regering sy burgers nie net aktief blameer vir die situasie as gevolg van hulle suipgewoontes nie, maar uit hulle pad gaan om hulle gewoontes te reguleer en vir hulle voor te skryf daarin. Die deel wat hulle duidelik gemis het, is dat mense wat wil suip, gaan suip. Al moet hulle geld uitkrap wat hulle nie het nie om drank op die florerende swartmark te koop. Al wat 'n regering veronderstel is om te doen is om maatreëls in plek te stel om sodaniges wat wette en regulasies oortree, so goed en hard as moontlik te straf. Persoonlik voel ek absoluut vere as 'n dronkgat wat bestuur dekades se tronkstraf kry. Maar doen dit dan net. Ongelukkig is die regstelsel ook gebreek en faal telkemale hierin. Die regering het dit gebreek. Maar dis makliker om ons te blameer as om pa te staan vir hulle aksies.
Dit sit nie in 'n regering se broek om vir sy mense voor te skryf dat hulle nie mag drink nie.
Gareth Cliff som dit goed op deur te sê dat daar hospitale is vir sotte wat so wil suip dat hulle mekaar seermaak en hulleself op die paaie afskryf. Hordes mense in hierdie land bestuur in elk geval soos sotte en dit as hulle nugter is. Hulle het nie drank nodig om ongelukke te veroorsaak nie, hulle doen dit in elk geval.
Hospitale en 'n regstelsel wat hulle gatte moet toegesluit kry. Hospitale was nog nooit veronderstel om gebou te wees vir Corona nie. Tot etlike maande gelede het ons nie van Corona geweet nie. Julle, die regering, sou die grendeltyd gebruik om fasiliteite te bou hiervoor. Daar is een in die Wes Kaap wat die provinsiale regering opgesit het, en een in die Oos Kaap wat deur privaatbesighede laat bou is. Verder het die regering niks gedoen behalwe om dadelik aan daardie 500 biljoen te begin steel nie.
Nou wil dieselfde sotlike lot kom staan en misdadigers maak van nog meer mense wat as 'n norm 100% wetsgehoorsaam is. Asof dit nie genoeg is dat daar al 'n kwartmiljoen mense in hierdie tyd aangekla is van allerlei Corona verwante goed nie, terwyl werklike misdadigers gedy. En boeta, gedy hulle! Dis absoluut kersfees elke dag! Maar ons sluit iemand toe wat skelm sigarette koop of met sy branderplank loop speel. Hoera!
Dieselfde regering wat te slapgat is om die taxi industrie dieselfde te hanteer as wat hulle die res van ons hanteer wil nou mense laat toesluit as hulle nie maskers dra nie. As jy steeds dink hierdie het slegs met 'n virus te doen moet jy deel wat jy skelm rook want jy is besig om 'n groter les te mis. En dit is geen samesweringsteorie nie. Dis 'n magsvertoning.
Dieselfde regering wat soveel biljoene en biljoene gesteel het, en steeds steel, en steeds is niemand in die tronk nie. Hulle wil ons nou in die tronk kry vir 'n masker.
As dit nie 'n wrang smaak in jou mond laat nie, weet ek regtig nie so mooi wat in jou denke aangaan nie. As daar teen die tyd tientalle minsters en ander senior regeringslui met hulle Johnny Walker Blue Label deurdrenkte gatte in die tronk gesit het, was dit dalk minder van 'n dwarsklap gewees en makliker om te sluk.
Dit is nie normaal vir 'n regering wat homself as 100% bo die wet verhewe sien en elke dag in sy optrede dit bewys om sondermeer misdadigers van landsburgers te maak bloot net omdat hulle probeer lyk of hulle die situasie hanteer nie. Hulle hanteer net mooi niks. Hulle het geen idee wat om met hierdie taai toffie te maak nie, hulle val net rond en probeer desperaat voorkom of hulle in beheer is.
Maar ons weet reeds die kanse dat hierdie president enigsens sy brawe woorde sal laat deursien om korrupsie uit te roei, is nul. Hol woorde van wat veronderstel moet wees om 'n leier te wees.
Dieselfde regering vol sotte wat ons meedoënloos vir die afgelope 26 jaar lank in hierdie moeras in bestuur, sodat ons eindig met 'n gebreekte gesondheidsisteem wat nie eers die gebruiklike situasie sonder Corona kan hanteer nie. Wat nooit sal verantwoordelikheid vat vir hulle aandeel in die gemors waarin ons onsself bevind nie.
Hulle wil ons nou laat misdadigers maak vir 'n masker. Verstik gerus daaraan as u wil. Kug kug.
Geagte hogere regeringslui wat skielik probeer maak of julle werklik omgee - kry eers u eie huis in order voordat u vir my wil kom voorskryf wat ek in my huis mog doen. O, en fok u.
Riaan Coetzee
Kopiereg
14 Julie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Die Regte Rooikappie En Die Wolf

Dag 48 van die grendelstaat

Dag 19 van die Grendelstaat