Dag 11 van die Grendelstaat
Die jaar toe ons maskers moes begin maskers dra.
Sosiale media is lekker. Elkeen kan daar voorgee hy of sy is die mooiste, slimste, mees seksie, rykste, plooilose, gryshaar lose, mees ingeligte, oulikste mens op aarde.
Kompleet met daai irriterende eendjie bek wat hoogmode gemaak is deur waarskynlik een of ander oornag Instagram model.
Jy weet, daai een waar jy poseer vir ‘n selfie en jou bek so ‘n tuit trek laat dit lyk soos ‘n hoenderpoepholletjie.
Hierdie enetjie gaat Kimberley toe meneer, en hierdie enetjie gaat Kaapstad toe. Skuus ou Leon, daardie fantastiese stukkie humor in een van jou ou flieks spring nou skielik hier in my gedagtes in.
Dalk wil ons net graag soos Daffy Duck lyk.
Maskers.
Sosiale media het die ruimte geskep vir maskers, sodat ons aanlyn ‘n teenwoordigheid kan skep wat ons in so baie gevalle na iemand laat lyk wat min of glad nie ooreenkom met die regte persoon nie.
Ek self wys maar ‘n klein deel van die eie ek op my sosiale media. In die regte lewe is ek ook baiekeer snaaks en eenlyn replieke vir allerlei situasies het al meermale my vriende net hulle koppe laat skud en dan maak hulle my vas sodat die braai kan voortgaan.
Maar daar is soveel meer. Ek kies net om dit slegs met ‘n baie klein groepie mense in die regte lewe te deel.
My profielfotos egter, is my eie. En dis op datum.
Daar is geen filters gebruik nie. En daar is geen eendjiebekkies nie. Tensy ek doelbewus grap. Want ek hou van my plooie en my grys hare dankie. Dis verdien.
Jy al gesien, Karen, hoe sommige jong dames glad nie ‘n foto kan plaas sonder om haar bek te trek asof sy ‘n tequila gedrink het en die suurlemoen hak in haar kies vas nie?
En nog meer, hoe lief ons geraak het vir filters wat ons plooie wegstryk soos ‘n toorkunsie. Sodat ons pragtig kan lyk. En jonk en vol lewe.
Ek het al meermale in mense vasgeloop wat op my eie Gesigboekie uithang waar hulle my herken, omdat my foto’s op datum is, maar ek agterna moet loop loer wie hulle is. Want die fotos is van generiese blonde poppe wat 20 jaar jonger is as die huidige model.
Almal het hulle redes hiervoor – en dit gaan baiekeer oor ‘n wye reeks onsekerhede oor jouself wat ‘n weervoorspeller sal laat lyk of hy ‘n siener is.
En toe kom Die Virus in 2020.
En skielik moes ons REGTIG maskers begin dra, en vir baie lang tye by die huis bly.
Ons mag nie maskara koop nie, of haarkleursel, of hare laat sny nie, of kollageenlippies loop kry nie.
Dis nie “essential” nie kameraad.
Ons mag net maskers dra, bo-oor ons maskers. Want virus.
En daar begin die wonderwerk.
Ons begin skielik mense sien sonder hulle maskara. Met deurmekaar hare waarin die grys in baie gevalle duidelik deurslaan. Plooie, donker kolle onder die ogies van sleg slaap, mondjies nie getuit nie. Nie mooi in style gesny soos wat die haarkapper dit vir hulle doen nie.
Die werklike mens. In hulle volle glorie. Soos 'n vlinder wat sy pad oopveg uit die harde dop van sy papie.
En dis ‘n fees. Dis pragtig! Dis oorspronklik!
Welkom terug.
Kyk nou net hoe pragtig is ons. Nou moet ons dit net weer begin glo.
Wie sou ooit kon dink dat ‘n masker bo-op jou gesig sal lei daartoe dat ons aanlyn maskers begin wegval?
Dankie Covid. Jou ou bliksem.
Riaan Coetzee
Kopiereg
6 April 2020
Kopiereg
6 April 2020
Opgedra aan Ansuretha, wat hierdie gedagte in my brein geplant het.
Comments