Dag 2 van Suid Afrika se grendelstaat

Ek word oorval deur 'n intense behoefte om in Afrikaans te skrywe. Ek skrywe meestal in Engels omdat ek heelwat mense op my gesigboekie het wie se voertaal nie Afrikaans insluit nie.
Maar vanaand vloei my gedagtes net beter in Afrikaans.
Dis n interessante rit, hierdie Virus Mallemeule.
In my kop kan ek duidelik die tipiese kermis musiek hoor. Effe blikkerig vir effek.
Ek voel half uit plek uit, effe ongemaklik. Verwag heeltyd iets moet nou gebeur maar niks doen nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek 3 weke verlof gehad het nie. Dit sou net beter gewees het in my tent in die Kruger Wildtuin.
Ek slaap in my kantoor. Plek ingeruim en n bed hier ingedra, lampie, waaier, gasstofie. Eintlik kamp ek maar nie in n tent nie. Ek geniet dit. Dis iets anders in 'n baie anderse tyd.
Ek geniet as 'n norm om alleen te wees. Ek doen regtig. Ek is baie gelukkig en gemaklik om 2 weke in my tent af te pak in die wildtuin.
Maar ek het nie kans gesien vir 21 of dalk meer dae nie.
Nie met die vreemdheid van hierdie ongekende situasie nie.
So hier is ek. En my Pa ook, my broer en sy gesin. Mense. Bekende stemme. Dit help.
Ek beny nie mense wat die ding as 'n solovaart aandurf nie. Julle moet sterk wees. Ysters. Want dis nodiger as ooit. Julle bly deurentyd in my gedagtes.
Hier is 'n swembad so ek swem, die water kon net kouer gewees het. My swemtye is vreemd. Seker ook so vreemd soos die tydperk.
My slaaptye is vreemd. Koffietye. Alles tye. Slim mense reken onteenseglik - jy moet n roetine kry.
Goed. Eintlik nee. Fok eers die roetine.
Ek wil net eers grondvat.
So vir ten minste die eerste paar dae laat ek net gaan. Ek oefen wanneer die gevoel my beetpak. Ek het tot n lekker swaar sandsak saamgekarring vir die doel. Ek slaap wanneer my oë toeval. Ek lees, ek luister na Vusi, ek noem hom Slim Vusi, op Youtube. Kyk heelwat videogrepe daar van die Vloggers wat ek gereeld volg. Ek lees baie. Ek het hordes boeke saamgetrek.
Die stilte maak my gereeld wakker deur die nag. Dan wonder ek of ek droom. Die stad sonder die gebruiklike stadsrumoer is, wel, dis seker so bietjie soos om te piepie sonder om te poep.
Lekker, tog vreemd. Ek bly Will Smith se gesig sien in die einde van die mensdom fliekie waar hy en sy hond die enigste oorlewende in New York is. Dalk is ek die wit Will. Hier is gewis alreeds 'n spul zombies.
Ek verstaar my aan die sterre. Met minder ligte wat brand is hulle weergaloos helderder as gewoonlik. Nie heeltemal bos helder nie, maar genoeg.
Ek probeer nog my ewewig terugkry. Soos ons almal skat ek.
Dis onwerklik om te dink die hele mensdom gaan op dieselfde tyd hierdeur. Regoor Moeder Aarde worstel mense met dieselfde verwarring, vrese, ontstuimigheid.
Vrae waarop daar nog nie antwoorde is nie. Dit sal eers met tyd kom, soos ons die nuwe wêreld betree. Na Corona. Want Voor Corona is vir altyd geskiedenis.
Hulle verwonder hulle waarskynlik ook aan die stilte.
Verbeel jou jy sit saam met Trevor Noah op sy woonstel se stoep in Manhattan en jy hoor skielik hoe 'n uil verbyswiep agter 'n muis aan.
Ek vermoed jy loop skink net daar n dop om oor die skok te kom. Want dit klink nie eers naastenby soos daardie geel huurmotors se hoeters nie.
Ek veg om my humorsin te behou. Ek soek heeltyd goed wat my spontaan laat lag. Dis medisyne vir my, soos my koue water eskapades en Wim Hoff asem oefeninge wat ek al etlike jare beoefen. Medisyne is nodig. Maar vir my siel.
My broer reken hoeka hy soek wat ek rook want ek lag my in my moer in vir alles. So tussenin de moer in raak vir goed en mense en dinge wat gebeur. Wipplank, maar meer aan die lag en kalm kant as die ander kant. Emosies. Vreemde en interessante goed.
Eintlik probeer ek net aanpas by hierdie nuwe omstandighede. Ek is grotendeels kalm, ek is allermins nie paniekbevange nie.
Ek vermoed ek is dalk soos 'n grotman wat een nag in sy spelonk aan die slaap geraak het en wakker geword het in 2020. Ek vermoed daar is honderde miljoene van ons grotmanne en vroue. Ek verwonder my aan al die nuwe dinge maar sukkel om dit te vergelyk met die ou dinge wat ons bestaan tot op hede was.
Dis effe skrikwekkend, baie nuut, vreemd, met soveel grys areas. Maar doer êrens, diep in my wese, is daar tog 'n roering van opwinding ook. Want verandering kan opwindend ook wees.
Hoop ek.
Wens ek.
Glo ek.
Sterkte aan ons.
Kopiereg.
Riaan Coetzee
28 Maart 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf