Dag 15 van die Grendelstaat

Oftewel Dag 1 van die Verlenging van die grendelstaat
Ons steier soos ‘n voosgeslane bokser. Gisteraand het die president afgekonding dat die hele ding verleng word met nog twee weke.
Die atmosfeer is gedemp, somber. Niemand weet werklik wat om daarvan te maak nie, wat om daarmee te maak nie, of wat de donner om volgende te maak nie.
Dis Paasnaweek. En die paaseiers is vrot.
Ons probeer asemhaal. Ons probeer net een tree voor die volgende een gee. Ons maak simpel grappe, soos ons maar altoos doen in somber en moeilike tye. En dit laat ons lag maar selfs ons lag is vandag effe gedemp.
Elkeen probeer maar net om die hele ding te verwerk op sy of haar eie manier. Party praat, ander huil, party soek enige ontvlugting wat hulle kan kry, ander kruip in hulle dop in en wil net stil wees. Sommiges skryf daaroor.
Enige iets wat mens net besig hou – al is dit net nominaal besig.
Gemoedsbekakking.
Ek wil regtig nie vandag hoor hoe wonderlik die president is nie. Of hoe ministers 30% van hulle weelderige salarisse afstaan nie. Daar is ‘n swetterjoel mense wat baie baie meer as dit verloor.
Bly eerder net fokken stil asseblief. Ek sukkel om te lofsang terwyl die haaie besig is om aan my voete te vreet.
Ek wil nie samesweringsteorieë hoor nie. Ek wil nie hoor hoe positief jy is nie, of hoe ongelooflik voorbereid en hoe jy eintlik al lankal uitsien na so ‘n verandering sodat jy tog net leedvermakering vir almal kan vertel hoe cool jy is nie. Bly eerder net stil.
Ek wil nie eintlik eers hoor hoe in ons moer in ons is nie – ek weet.
Moenie vandag vir my vertel van silwer randjies en nuwe beginne en versies stuur en positiewe kwotasies in my gesig gooi van mense wat lankal dood is nie. Bly eerder net stil.
Ek wil vandag net probeer my ewewig terugvind. En ek moet dit by myself doen. Moenie vir my vertel geluk word net in jouself gevind nie – ek fokken weet.
Dalk sal ek more weer met jou daaroor gesels.
Vandag wil ek net asemhaal. En tot verhaal kom. Ys teen my kennebak hou waar die hou geval het wat my voete onder my uitgeruk het.
Ek is Suid Afrika, en ek voel vuisvoos.
Riaan Coetzee
Kopiereg
10 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf