Dag 13 van die Grendelstaat

In 1984 skryf John Deacon, die baskitaarspeler van Queen die trefferliedjie – I Want To Break Free.
Nou sit en wonder ek – het hulle iets geweet wat ons gemis het? Hoe bitter graag WIL ons almal nou uitbreek!
Ons sit in ons huise vasgekluister - Corona Krygsgevangenes. Ons hou onsself besig so goed ons kan maar dit verander nie die feite hiervan nie.
Fisies afgesonder van alles en almal wat nie saam met jou in jou “sel” leef vir die 21 dae nie.
Ons grense, ons hele wêreld, strek skielik net tot by die motorhek of die voordeur. Daarbuite loop ‘n mikroskopiese onding rond. Ons kan hom nie sien nie maar boeta, ons is so terdeë bewus van hom! Sy tentakels sny diep deur die die hart van Die Samelewing soos ons dit geken het. En lank nadat die mensdom ophou gons het oor Covid-19 gaan sy gevolge steeds met ons wees. Sommiges gaan rou oor geliefdes wat hulle verloor het. Ander oor inkomstes, oor lewenswyses, oor besittings, oor besighede.
Of oor hulleself.
Oral waar jy kyk sien en lees jy oor dit. Mense beveel ons heeldag aan – klim af van sosiale media af, dit gaan jou net gek maak.
Hulle is nie verkeerd nie.
Wat hulle nie in ag neem met so ‘n swart en wit argument nie, is dat sosiale media skielik vir massas mense ‘n reddingsboei geword het.
Dit laat mense voel daar is lewe buite hulle tronkmure, laat hulle besef hulle is nie alleen midde in die storm nie, laat hulle deel voel van ‘n groter geheel.
Sosiale media is nou ‘n belangrike konneksie.
Vir baie mense so noodsaaklik as wat dit ‘n tweesnydende swaard is.
Die behoefte van die Krygsgevangenes van Corona om gekonnekteer te voel aan die buitewêreld is nou baie groter en sterker as om jouself nog meer af te sny as wat jy reeds is.
Vir nou sien baie net die slegte van hierdie wind van verandering. Want ons leef in dit en ons is emosioneel daarin vasgevang.
Hopelik gaan ons ook juig oor nuwe geleenthede, nuwe uitdagings, ‘n nuwe toekoms.
Hopelik gaan mense mekaar meer waardeer hierna.
Maar tot dan….
WE JUST WANT TO BREAK FREE!!!
Riaan Coetzee
Kopiereg
8 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf