Dag 12 van die grendelstaat
Ek verstaan ten minste nou waarom taxis steeds in hierdie tyd, desondanks nood regulasies om die virus te beveg, soos sardientjieblikkies volgepak word.
Ek meen, een ding wat ek het is tyd om oor alles na te dink.
Jy pak eenvoudig genoeg mense in dat daar nie plek oorbly vir 'n virus nie!
Maklik né.
Hoe is dit dat ek tot dag 12 gevat het om dit uit te werk!
Wat 'n absurde tydperk beleef ons nie!
Dis moeilik om te dink dat kinders, jare van vandag af, gaan leer van Die Jaar van Corona. Die tyd toe die wêreld tot stilstand geruk is op wyses wat twee wêreld oorloë nie eens kon regkry nie.
Ek verloor letterlik tred met beide tyd, datums en dae en moet gereeld die kalender nadertrek om gou seker te maak.
Enige mens wat in die tyd voorhou hy is glad nie gespanne nie, of dit nou baie gespanne is of net 'n klein bietjie, lieg. Meestal vir homself.
Wat wag vir ons anderkant die grendelstaat? Meer daarvan, of gaan die lewe skielik net aan asof die mensdom 21 dae afgevat het met onbetaalde verlof?
Ek vang myself wonder of ons ooit weer sal terugkeer na selfs net 'n modikum van dit wat ons norm was tot 'n skamele 12 dae gelede? Gaan mense mekaar weer in hulle persoonlike spasies vertrou? Gaan ons weer gemaklik bladskud of drukkies uitdeel? Of gaan ons vir maande of dalk jare net kopknik en mekaar met wantroue bekyk - nies net jou blikskater dan sien jy my nooit weer nie.
2020 is sover die jaar van rubberbal emosies. Dan wip jy op, dan wip jy af. Dan voel jy vere, dan sukkel jy om te slaap.
Daar is beslis genoeg dinge om oor bekommerd te wees. Gaan ons nog 'n besigheid oorhê, waar sal my geld vandaan kom, gaan drank vir altyd ge-Cele word, gaan hoes in die openbaar strafbaar gemaak word met tronkstraf, gaan ons vir altyd maskers dra, gaan politici skielik eerlik raak, sal Chuck Norris die virus versmoor met sy persoonlikheid?
Tog is ek meestal kalm. Soms wonder ek of ek nie TE kalm is nie.
Ek vloek te veel, moet ek aanhoor. Hah. Met die mensdom wat so vergeklik raak by die dag dink ek weer ek vloek te min.
Ek fokus maar op die klein dingetjies. Die son skyn steeds. Die gras voel nogsteeds lekker onder my kaal voete. Ek waardeer die krieke wat vroegaand begin sing, dalk omdat hulle nou so duidelik hoorbaar is sonder die normale stadsgeraas. Ek is dankbaar dat ek lewe en gesond is. En kos in my maag het. Die maan is absoluut briljant helder in die sterreruim. Ek verkyk my daaraan.
Verskeie planete is op verskillende tye sigbaar - Venus, Mars, Jupiter, Saturnus. Dit laat my klein voel. En rustig. Die wete dat daar iets veel groter daarbuite is as net ons nietige planeetjie vol paniekerige mense.
Die klas van goed help dat mens nie verswelg word deur die tsunami van inligting waarmee jy van alle kante af gebombardeer word nie. Hordes konflikterende boodskappe deurpriem jou reeds versadigde brein dag in en dag uit.
Meestal vals, onware, loutere snert. Baie daarvan selfs kwaadwillig, om reeds angsbevange mense verder in die verderf van blinde paniek in te dryf.
Maar mense verslind dit in hulle sienende blinde paniek en dit versprei selfs vinniger as die virus.
Niemand praat regtig oor die emosionele impak van hierdie verandering nie. En dit is nodig.
Eintlik is verandering nie heeltemal korrek nie. Dis meer 'n wegskeur van die oue en inforseer van 'n onbekende nuwe.
Dit voel onwerklik maar dis allesbehalwe.
Dit gebeur.
Met ons!
Ongeag watter kant toe, ons leef in 'n tyd waarin die geskiedenisboeke herskryf word!
Ons moet diep grawe in onsself om staande te bly. Dis nie net belangrik om anderkant uit te kom nie. Ons moet floreer, en dit beteken ons moet emosioneel weer gesond word.
Êrens in ons diepste wese dreunsang ons vir onsself...
Lank sal hul lewe
Lank sal hul lewe
Lank sal hul lewe in hul gloria!
Lank sal hul lewe
Lank sal hul lewe in hul gloria!
Riaan Coetzee
Kopiereg
7 April 2020
Kopiereg
7 April 2020
Comments