Dag 4 van Suid Afrika se Grendelstaat
So dit is dan min of meer hoe gally slawe tydens die Romeinse ryk gevoel het waar hulle, vasgeketting op houtbankies, dag in en dag uit moes sit en roei vir oorlewing.
Onseker, verward, ongebalanseerd, vraend, soekend, bang. Die slawemeester het jou vasgeketting, vir jou ‘n swaar roeispaan in die hand gestop en in jou ore gegil – ROEI BLIKSEM!! En dis AL wat jy mag doen totdat EK vir jou ‘n ander opdrag gee!!!
Die nuwe dag breek. Jy gaan deur jou lysie doen dinge – asemhalings oefeninge, gryp die sandsak en begin sy gal werk, maak koffie, eet iets vir ontbyt, luister musiek, stort, swem, lees, skryf, Gesigboek, tob, kyk videogrepe, steek die hond se bene weg want jy is verveeld, slaap, doen dalk werkies in en om die huis.
En herhaal.
Alles dinge wat tydens vakansie heerlik voel, maar in hierdie tye wanneer die winde van verandering aangehuil kom soos ‘n trop uitgehongerde wolwe, voel dit net so effens minder na ontspanning of hoe?
Dit voel ‘n bietjie geforseerd. Jy doen dit want dit is nodig en dit help jou om hierdeur te kom, maar dit voel nie heeltemal soos ontspanning nie. Dalk omdat jy weet jy gaan more die siklus herhaal?
Ek vermoed die grootste bydraende faktor tot die melankoliese gevoel is die feit dat jy letterlik oornag gestroop is van feitlik al jou regte en vryhede.
Ja, ek weet dis oor die virus en omdat almal in vrees lewe dat dit die bevolking van die Aarde gaan halveer en dat ons na afloop uitgelewer is aan die boosheid van 5G en so aan.
Maar dink daaraan – selfs al besluit jy om vir ‘n langnaweek net met Jan Tuisbly se karretjie te ry en nie te beweeg nie weet jy dat jy in jou motor kan klim en gou ry om ‘n koffie te gaan drink of om jou brandewyn versameling aan te vul. Jy weet as die gevoel jou beetpak kan jy sonder om twee keer te dink daaraan, vinnig oor die straat stap en die buurman se boormasjien leen.
Skielik mag jy dit nie eers doen nie. Die kleinste aspekte van die betekenis van Vryheid is nie deel van hierdie geforseerde vakansie nie. Jy mag grotendeels net op jou bankie vasgeketting sit en roei.
En dit is waarskynlik die enkele grootste struikelblok om te oorwin.
Dis ‘n baie onwerklike gevoel en ons is nog maar besig om stadigaan te prober gewoond raak aan hierdie nuutjie. Dit bly voel of ek ‘n onwelkome byspeler in ‘n baie swak geproduseerde rolprent is.
Maar oorwin moet ons – tye van verandering is daar om gebruik te word.
Om jouself weer te vind, om jouself oor uit te vind, weer te bepaal wat belangrik is in jou lewe, wie belangrik is, watter ander rigtings daar vir jou is om in te slaan na afloop hiervan, ontslae te raak van slegte gewoontes en dit te prober vervang met goeies, lyste te maak van dit wat jy het waarmee jy kan werk.
Nieteenstaande die geroffel van dreigende onheilstromme wat ons heeldag wil toetrek met ‘n donker kombers van wanhoop behoort ons hierdie tyd gebruik om ons denke dienooreenkomstig aan te begin pas sodat ons selfs regkry om te begin uitsien na nuwe uitdagings wat wag.
Dit ‘n tyd vir baie introspeksie.
Ons moet hierdie Mensdom Toets wys gebruik.
Kopiereg
Riaan Coetzee
30 Maart 2020
Riaan Coetzee
30 Maart 2020
Comments