Dag 48 van die grendelstaat
Dis nou regtig genoeg.
Vandag het die afgelope 47 dae my net ingehaal soos 'n wafferse Usain Bolt terugvegpoging.
Maar instede van my net verbysteek het hy my gepooitjie en toe met sy enorme nommer 15 spykerskoene herhaaldelik oor my geloop en sommer 'n paar skoppe in my ribbes ingekry terwyl hy besig was met my.
Sowat van 'n gemoedsbekakking het ek lanklaas in my lewe beleef.
Die hele tydperk wat ons ingekerker was bly ek nog 'n glimlag van êrens af opdiep, bly ek soekend na positiewe dinge wat my kan opbeur, en kon ek grotendeels daarin slaag. Want dis nodig en ek is veronderstel om tough te wees en ek het darem 'n bed om in te slaap en kos in my maag en die son skyn en daar is memes met positiewe boodskappe en memes wat my vertel ek is basies net 'n klaende druipnat uilskuiken wat hopeloos te maklik kla want daar is soveel mense wat alles verloor het of niks het om mee te begin nie of wat soveel erger ly so as ek 'n ware man is sal ek net aanhou lag in die gesig van hierdie aanslag.
Vandag is ek nie tough nie.
Vandag voel ek blootgestel en uitgelewer en befok en hartseer en moedeloos en gatvol en hokbefok, sommer alles op een slag.
Vandag breek my hart sommer net vir almal wat werke en inkomstes verloor het, wat al mense verloor het, wat slapelose nagte het oor inkomste en onbetaalde rekeninge en wat ingekerker sit saam met afknouende, vernielende mense, mense wat nie meer weet hoe om die geforseerde afsondering te hanteer nie. Mense wat spook met selfmoord gedagtes en mense wat niemand het om hulle harte te hoor nie. Ook vir mense wat lang ure moet toustaan en hoop hulle kry nog 'n kospakkie. Vir mense wat nie hulle hartsmense kan sien en druk nie.
En vir myself.
Ek lees dat die SA groep vir depressie en angstigheid in hierdie tydperk daagliks 'n gemiddeld van 1400 oproepe hanteer. Dis 'n nie winsgewende groep en hulle beweer as hulle normaalweg 700 oproepe per dag hanteer het was dit geweldig baie. Nou is dit dubbel en dit groei.
Op die koop toe het ek ook skielik vandag die hooikoors uit die hel. Dit help nie.
Ek rig hierdie skrywe aan almal wat sulke af dae of af tye deurgaan. Want ek weet ek spook nie alleen om geestelik, en waarskynlik selfs fisies ook, staande te probeer bly nie.
Vandag is dit my beurt om so te voel. Môre is dit dalk joune. Selfs die heel sterkstes onder ons gaan gebukkend onder hierdie kleed van wanhoop. Dis feitlik onmoontlik om altyd positief te bly en te glimlag wanneer daar geen einde in sig is nie en wanneer ons gefaal word deur leiers wat nog nooit besef het of verstaan hoe belangrik goeie, aaneenhoudende kommunikasie met hulle mense is in tye van werklike groot nood nie.
Dis net sampioene wat floreer as jy hulle in die donker hou.
Liewe verlore siel, weet net dat jy inderdaad nooit alleen is nie, al voel dit so. Weet dat jy altyd kan uitreik en selfs net vra vir 'n gewillige oor sodat jy net kan uitpak. Jy sal verbaas wees hoeveel gewillige mense daar steeds is wat bereid is om na jou te luister, selfs midde in hulle persoonlike drama.
Reik net uit.
Ons het mekaar nog nooit so nodig gehad as juis nou nie.
Fok jou Covid.
Riaan Coetzee
Kopiereg
12 Mei 2020
Kopiereg
12 Mei 2020
Comments