Dag 8, SA grendelstaat
Ek gaan nooit weer kla oor kersversierings in Oktober nie. Ook nie my ore toedruk as die winkelsentrums Little Drummer Boy van Goombay Dance Band speel nie.
Selfs al speel hulle hom in Julie.
Middernag, 31 Desember 2020 as ek nuwejaarsvoornemens uitstip, gaan ek een in hoofletters skryf....
2021 GAAN EEN MOERSE GOEIE JAAR WEES!!
Want 2020 is gebreek.
Sy mojo is moertoe.
Iemand het die melk uit sy koffie gesteel.
Want die hele wêreld word mal,
en luister in die donker uur,
na die naggeluide,
Van die Corona brolloks en bittergal.
en luister in die donker uur,
na die naggeluide,
Van die Corona brolloks en bittergal.
'Skuus Koos.
Die wêreld is mal.
Ek meen, hy was seker nog altyd maar nou, met die spook van 'n virus wat die oorhand het, nou is hy behoorlik mal.
Stapelgek.
Op loop soos n ontsnapte uit n gestig uit wat deur n leërskare polieste gejaag word.
Mense kan beswaarlik wag om hulle bure te verklik - hallo polisie? Dis Karen. Ja. Daai ene - my buurman staan in die straat en blaf vir die maan. Ek dink hy is gekirouna. Kom vat hom asseblief weg!
Ons slaan vuis oor toiletpapier. 2020 is die jaar wat dubbellaag toiletpapier vir n tyd lank meer waardevol was as as goudstawe.
Ons weet net nogsteeds nie hoekom nie.
Wat 'n kakspul.
Almal dra maskers. En vir n verandering nie om kontant te trek by n geldwa nie maar om brood te loop koop.
Mense kyk mekaar skielik suspisieus aan en loop koes-koes verby mekaar. As jy durf nies in Spar bespring 3 gemaskerde helde jou met sulke wyd verstarde oë en spuit jou met ontsmettingsmiddel dat jy drup soos 'n versadige sonsopkoms.
Daar is n liedjie oor dit. Êrens.
Ons kibbel en grom vir mekaar oor waar die ding ontstaan het, wie se skuld dit is, ons moet maskers dra, ons moenie maskers dra nie, dis net griep, dis die einde van die mensdom.
Alles pure verniet.
Want dit is nou wat dit is. En ons moet nou maar saamry of ons daarvan hou of nie.
En baklei en veg is eintlik 'n nuttelose vermorsing van energie wat beter aangewend kan word om onsself te help voorberei vir die Groot Onbekende wat wag. Vir ons almal.
Ons moet ophou veg met mekaar. Ons moet ophou kerm oor alles.
Ons, almal van ons, smag eintlik maar net daarna om weer Little Drummer Boy te hoor aan die einde van hierdie grondpad.
Pa Ram Pa Pa Pam
Kopiereg
Riaan Coetzee
3 April 2020
Riaan Coetzee
3 April 2020
Comments