Dag 22 van die Grendelstaat


Kry julle ook sulke interessante dog vreeslike vreemde drome?

My vriend Gideon het ‘n papegaai. Een van daai grys geveerdes wat so lekker praat.

Ek droom toe ek en die voël beland saam in ‘n kroeg in Calvinia. Ek weet nie hoekom daar nie, ek was nog nooit daar nie. Maar daar sit ons twee.

Ons kyk vir mekaar. Die voël krys, “Hallo".


Wel dis ‘n normale begin, dink ek, al sit hy langs my. In ‘n kroeg. In Calvinia. “Hallo” antwoord ek. “Soek jy ‘n cracker?”

Stilte. Ek kou ‘n handvol grondboontjies. Girts girts girts kners dit in my mond.

“Wat?” mompel ek al om die grondbone.

“Jou moer” reken die papegaai.

Ek verstik byna.

“Ek is dors” raak hy kwyt, “Koop vir ons ‘n bier ek wil met jou gesels. My naam is Okkie, net dat jy weet.”

Dawerende stilte.

“Wat?” vra Okkie vir my.

“Wat???!!!” roep die kroegman.

“Ekskuus my?!” vra ek ook maar.

“Jy praat dan met jou voël!” kry die kroegman uit.

“WAT??!!!” skree ek geskok terug.

“Hou jy jou neus uit ons sake uit” skree Okkie vir die kroegman, wat homself skielik vreeslik besig hou om ons bier te tap.

“Wat?” vra hy weer vir my.

“Defok???” stotter ek. “Jy praat dan soos ‘n mens!”


“So? Dis jare na Covid, vreemde dinge het intussen gebeur. Plus, jy is besig om te droom – just go with it.”

Hy mik om ‘n sluk van sy bier te vat. 


“Soek jy ‘n strooitjie?” vra ek vir hom.

“Ag jou moer man!” antwoord hy en vat ‘n reuse sluk sonder om ‘n druppel te mors.

Dis een te veel vir my en ek sluk daai bier so vinnig af dat my keel nie eers nat word nie en gil vir die verskrikte kroegman: “Moenie ophou bier bring nie swaer!”

“Gaan jy nou vir my rustig raak sodat ek met jou kan praat?” vra Okkie. 


My nuwe beste vriend. Dink ek. Wat bier drink sonder ‘n strooitjie. Ek begin giggel. Hoe anders verwerk jy so iets???

“Ok goed” kry ek uitgeproes. “Waaroor wil jy met my praat?”

“Die toekoms” skud Okkie sy vere reg en vryf ingedagte oor sy snawel met sy een poot. “Ek wil met jou praat oor die toekoms.”

“Laat loop maar” reken ek, duidelik oor die ergste skok.

“Goed. Luister nou mooi, julle het nodig om hierdie te hoor.”

“Ek wil vir jou sê dat jy ok gaan wees” kyk Okkie my ernstig aan. “Dis ‘n sware tyd, en dit gaan nie oornag skielik anders wees of verdwyn nie. Maar julle, die mensdom, sal ok wees. Op die ou end wen julle weer, en lag julle, en kry julle dit reg om die slegte tyd agter te laat.”

“Regtig Okkie?” vra ek, skielik ook ernstig. “Gaan ons regtig ooit weer ok wees?”

“Ja, julle gaan. Julle is sterker as wat julle besef. Onthou dit net, en probeer net rustig bly nou. Kyk mooi na julleself. Dan kan julle harder terugveg. Julle gaan moet veg vir die een.”

“Jis Okkie, ons almal se koppe hak maar so bietjie uit teen die tyd” vertel ek hom. “Die onsekerheid is vreeslik."

“Ek weet ou pella, ek weet. Maar luister nou mooi – julle gaan ok wees” en hy skud sy vere reg en kyk na die kroegman, wat intussen stil-stil nadergestaan het om ook te hoor, en vra, “Gaan ‘n papegaai dan nou nooit weer bier kry nie huh?”

“Maak dit maar twee asseblief” stoot ek my leë glas nader. “En kry sommer een vir jouself, hierdie is te groot om droog te bly.”

“No shit Sherlock” grom hy oor sy skouer en voeg by “Dalk moet ons sommer ‘n shooter byneem vir die harte?”

“Kry julle maar shooters”, reken Okkie. “Man moet nog huistoe vlieg en die spietkops is deesdae eers vol kak.”

“So Okkie” leun die kroegman vertroulik oor die toonbank. “Vertel ons meer asseblief? Verander hierdie ding die mensdom darem, hopelik ten goede? En Greta, is Greta nou gelukkig?” 


Hy het homself ingewurm in die gesprek.

Okkie kry ‘n peinsende uitdrukking, vat ‘n sluk bier en sê, “Nee, sy is net ouer en het nooit skool klaargemaak nie.”

Ek sukkel nogsteeds met die feit dat ‘n papegaai bier drink sonder om te mors.

“Ai”, kry ek uit. “Ja-nee” seg Okkie, “die aarde het vir homself gesorg na Covid. Hy sien heelwat beter daar uit en mense behandel hom met meer ontsag. So dis goed.”

Ek en die kroegman kyk vir mekaar en glimlag.

Okkie skittery op die kroegtoonbank.


“Skuus manne” vra hy verskoning. “Dis ‘n papegaai ding.”

Die kroegman gryp net ‘n lap en maak skoon sonder om ‘n woord te rep. Mens veg eerder nie met pratende papegaaie nie.

Okkie stap nader en kyk ons stip aan, “Ek moet gaan kêrels, ek los julle hiermee – die mense is ok. Daar is ongelukkig nogsteeds idiote, maar die hele ding het beslis mense nader aan mekaar gebring. Hulle gee oor die algemeen meer om vir ander. Alles eindig oor die algemeen goed. Hou net uit.”

Ons sê in een asem dankie.

Okkie kry skielik ‘n vreemde uitdrukking op sy gevreet en kug ‘n paar maal.

En lê ‘n eier in die bakkie met grondboontjies.

Die eerste ding wat ek gedoen het toe ek wakkerword was om Gideon te bel om te hoor of die papegaai ok is.

Maar ek het ‘n rustigheid in my vandag.

Dankie Okkie.

Riaan Coetzee
Kopiereg
17 April 2020



Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf