Dag 10 van die grendelstaat



Die Grendelspook en die Brandewyn.
Ek is 'n deesdae 'n baie klein drinker. Die bestuurder by my naaste Tops lag en sê ek is sy kakste kliënt.
Ek geniet 'n ou doppie. Glo my vry, ek het in my jonger dae al gepartytjie dat vreemde mense my moes inlig wat ek alles aangevang het. Bekende mense ook. Mettertyd het ek net meer van koffie begin hou as drank.
So het ek het al tydens een partytjie vir twee hoogs bekende en geliefde rugbyspelers my handtekening loop gee. Hulle was so verbaas dat hulle dit aanvaar het. Op 'n servet natuurlik, soos mens dit mos doen. Ek is selfs belowe dat hy dit gaan raam en by sy kroeg ophang so "jy weet wie jy is" as jy hierdie per toeval raaklees - beloftes maak skuld!
Dan was daar die keer toe hoogs ontstigte spietkops ons van die verkeersligte in Potchefstroom moes afruk want ons was besig om die goed met ons hoedjies toe te druk. Een ou het sy broek gebruik. Hy moes want hy het sy hoed vir 'n vreemdeling geruil vir nog 'n bier.
Dit was ooglopend dat die spietkops nie die aansig van straatvlak af waardeer het nie....
Maar dit was 'n oujaarsaand van formaat.
Ek het baie sulke stories, maar ons praat nie uit nie.
Het jy geweet as jy genoeg brannas nuttig kan jy n snortjor op die reguitste deel van die snortjorbaan omwetter? Ek ook nie, tot vroeër daardie selfde dag. Selfs die eienaar van die besigheid kon dit nie glo nie. Toe hulle die tjorretjie van my afgetel het en my opgehelp het vra hy my met 'n bulderende stem "Hoe in een enkele ewige donner kry jy dit reg?!"
Ek breek toe so 'n ligte windjie op en antwoord "Oom my Pa het gesê ek moet elke dag een nuwe skill aanleer..."
Ons was toe verban van sy baan af.
Maar ek dwaal af.
Toe dit nou amptelik geraak het dat ons grendelstaat gaan afskop het ek afgeskiet Tops toe en vir my n klein kwartbotteltjie brandewyn gaan koop. Ek het gereken met my karige drinkgewoontes sal dit goed wees vir drie weke.
Vir my 50'ste etlike jare gelede het ek by goeie vriende 'n paar bottels whisky gekry. Ek geniet 'n goeie whisky vreeslik. My smaak neig na die duur kant toe, so ek neem 'n knertsie met letterlik net een eetlepel water vir 'n enkeltjie en op die meeste een verdwaalde blokkie ys. Perfek.
Ek noem dit nou maar net ingeval iemand dalk oorval word deur barmhartigheid. Eendag, wanneer ons weer mag drank aanskaf.
Ek het langer as 'n jaar geneem om deur daardie geskenkdrank te werk.
Dis hoe liggies ek en Bacchus nou se dae skadudans.
Ek drink honderd koffies vir elke alkoholiese verversing deesdae. Elke dan en wan lus ek ook ietsie soet dan koop ek sommer een of twee blikke klaargemengde brandewyn en kola.
In lig hiervan het ek dus geredelik aanvaar my "dumpy" brandewyn sal goed werk.
Ek het nie gereken met die spook van afsondering nie.
Julle het teen die tyd sekerlik al self begin agterkom presies hoeveel van 'n bliksem hierdie spook is.
Agterna word ons toe mos boonop ingelig deur die owerheid dat daar geen drank te koop sal wees gedurende grendelstaat nie. Dit sal as te ware agter slot en grendel bly. Toe stormloop paniekerige skelm alkoholiste die drankwinkels en koop alles wat alkohol bevat.
Selfs toe het ek gereken ek en my klein botteltjie brandewyn sal okay wees.
Tot so teen dag drie.
Toe besef ek skielik dat ek hier sal moet toorkunsies uithaal om dit so lank as moontlik uit te strek. En met drakoniese maatreëls van my eie het hy gehou tot dag 7.
Jy sien, ek het besef dat die absurde vreemdheid van die situasie waarin ons onsselwers bevind ook lei tot vreemde gedrag.
Want skielik was ek elke dag lus vir 'n knertsie. Nie om te suip nie, ek lus net iets alkoholies.
Dit was nou ook 'n herinnering aan die ou dae, iets bekends, en nou baie meer as net nog 'n dop.
Dit was skielik lafenis vir my gemoed.
Maar iets soet. Ja - met Coke. Stik gerus aan daai een puriste!
Ek het selfs vir my Pa 'n doppie geskink uit hom uit. Maar julle moet nou weet, as jy 200ml brandewyn oor sewe dae strek dan gooi jy Coke in jou gunsteling blikbeker en jy maak hom letterlik net skrik met die alkohol.
Jy druk jou vingerpunt in die botteltjie drank en doop hom dan in die Coke. En lek dan jou vinger af boonop om doodseker te maak jy vermors nie eers een enkele druppel voggies nie.
Dis meer 'n geval van jy seën net die koeldrank met die smakie van die brannas. Net sodat die koeldrank ietwat meer na die brandewyn proe as na homself.
En jy bly ver weg van ys af. Hier gaan ys net jou saak vertroebel. Dit is 'n geweldig ernstige oorlewing saak die, en ys is oorbodig. Amper soos 'n diaken by Teazers.
Dis net jy, die Coke en die hoogs geseënde paar druppels brandewyn. En julle moet nou weet hoe jy elke teug waardeer! Jy drink hom soos 'n fynproewer. Elke mondvol word behaaglik rondgerol sodat elke smaakklier in jou bek kans kry om sy bydrae te lewer.
Soms, wanneer jy seker is niemand kyk nie, gorrel jy so liggies met hom voor jy hom uiteindelik teësinnig afsluk.
Na elke sluk sukkel jy met 'n tikkie heimweë. En jou oog vang die botteltjie brandewyn op die rak en jy voel effe bevrees.
Toe die bottel uiteindelik leeg was word hy oopgesny en ruim met Coke besprinkel om seker te wees jy het elke molekule brandewyn gebruik.
Die grendelspook raak ook dors. Duidelik.
Want jy besef - jy het die situasie onderskat.
Jou bietjie brandewyn was nie genoeg nie.
Hierdie is ekstreme omstandighede en jy beny skielik al die bliksemse paniekkopers wat immers nie net hulle Coke hoef skrik te maak met hulle brandewyn nie.
Maar soos die slim manne tereg sê - Spyt kom altyd te Cele.
Kopiereg
Riaan Coetzee
5 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf