Dag 91 van die grendelstaat
Dis een ding om jou speelgoed uit die kot uit te gooi.
Dit iets heel anders as jy besluit om dit met 'n hamer te vermorsel.
Toe ons klein laaities was het ons 'n swetterjoel speelgoed karretjies gehad. Kleintjies, middelslag en groot karretjies. Maar laat ons volstaan met die feit dat daar genoeg was. Genoeg om twee woelige laaities vir ure lank besig te hou, saam met die plastiek weermagmannetjies, waarvan ons ook honderde gehad het. Die twee wat my tot vandag toe nog byval is my Tonka padskraper - daai ding was so sterk dat ek bo-op sy kajuit se dak gesit en hom gery het soos 'n stootfiets. En daar was 'n lekker groot VW Beetle. Die res was, wel, karretjies.
So kuier Ouma Sannie by ons uit Namakwaland uit. Sy sit en hekel heeldag op haar bed in die lekker sonnetjie, en ons is in en uit by haar om goed met haar te deel. Sy het ons 'n liedjie geleer wat ek vandag nog loop en sing.
"Gat jy more dorp toe,
Sien jy 'n kameelperd.
Kolletjies op sy voorkop,
Kolletjies op sy... gat jy more dorp toe..."
Sien jy 'n kameelperd.
Kolletjies op sy voorkop,
Kolletjies op sy... gat jy more dorp toe..."
Namakwalanders draai nogal nie doekies om as dit by praat kom nie en ons het vinnig agtergekom dat dit groot pret was om haar skrik te maak. Die resultaat was gewaarborg - elke keer. Nog iets wat ek nooit kan vergeet nie is hoe sy male sonder tal uitgegil het "kont se kjend se kont se kjend nee my allamagtag julle twee swernote vandag breek ek 'n kierie op julle se gatte", gevolg deur twee stelle proeslaggies soos twee laaities laat spaander.
Skielik kry ek die briljante idee om 'n reuse ongeluk na te boots terwyl ons so met al die karretjies speel. By nabetragting het ons duidelik geweet dis 'n ongure gedagte as ek onthou hoe ons vir Ouma Sannie gaan vertel het van ons grootse plan hiermee, en haar plegtig laat belowe het om nie vir my Pa te vertel nie.
Sy moes egter haar vingers gekruis gehou het agter haar rug. Duidelik nie die eerste keer wat sy in haar lewe met klein laaities se slim plannetjies te doen gekry het nie.
Hoe dit ookal sy, ons was jonk en naïef en het besluit dat dit veilig genoeg is om voort te gaan. Ouma Sannie is mos nou aan ons kant of hoe.
Ons loop haal my Pa se grootste hamer uit die motorhuis uit - die grootste een wat ons laaitie armpies gemaklik genoeg kon hanteer in elk geval. Al die karretjies word plegtig in gelid uitgepak en die destruksie begin. Hierdie mannetjies van Antifa dink hulle kan goed verwoes. Die arme bloedjies het nog baie lesse nodig. Ons roer ons karretjies dat die des moerse die plek vol lê. As ons besluit ons gaan 'n ongeluk naboots ou pappie, dan maak ons nie grappies nie!
Ons moer daai speelgoed met 'n hamer dat hulle wens hulle was nooit vervaardig nie. Dis 'n harde ding om te doen maar iemand moet dit doen. Of hoe.
Toe alles uiteindelik afgehandel is, lyk dit so 'n klein bietjie soos 'n Europese stad gedurende 1944 nadat 1000 Amerikaanse bomwerpers elkeen 'n paar ton bomme daarop losgelaat het. Met ander woorde daar was al mooier gesigte. Hierdie een was droewig. Maar klein laaities voel vere vir sulke detail nie, so ons handewerk word bewonder. Deur onsself. Uiteraard. Ons loop wys vir Ouma Sannie sodat sy ook kan bewondering hê vir haar kleinkinders se vindingrykheid en deursettingsvermoë en oortuig onsself dat die staalkyk in haar oë wel bewondering is, en nie gedagtes van hoe my Pa ons gaan moer nie.
Sy het immers "nannies kapella" gesê met 'n baie vroom gesig en dit tel punte jy weet!
Terug by die Slag van Brug 14, 15, 16, 17, 18, 19 en 20 tot 35 word die wrakke in verskeie posisies uitgestal om te kan bepaal wie van ons die grootste ongeluk kan bymekaarskraap. Die drama is groot en daar gaan heelwat beplanning en bespreking in. Na heelwat ge-oor-en-weerdery word daar deur die hoof beoordelaar besluit dat, synde hy die oudste is, sy rangskikkings wen. Dis nou ek. Die jonger beoordelaar raak hewig bemoerd en gryp die hamer om 'n addisionele ongeluk vir die hoofbeoordelaar te organiseer. Die hoofbeoordelaar is geskok met sulke gedrag en die resultaat is dat beide die deelnemende beoordelaars slaags raak, soos wat boeties doen. Ouma Sannie kom breek die gemoerdery op met haar kierie, wat ons vinnig laat besluit om ons altwee as die wenners aan te kondig toe ons waarneem hoe wild sy daai kierie rondswaai.
Dit maak ons gelukkig en ons gooi al die wrakke terug in die emmers waarin dit gehou was, en beweeg aan na ons volgende speletjie toe. Dit kon enige iets tussen Cowboys en Crooks of Armies en Terries gewees het, of modderforte bou of busse wat verbyry met niksvermoedende staatsamptenare wat net wil huistoegaan in, met kleilatte te bestook. Basies was daar 'n groot verskeidenheid dinge om uit te kies waarmee ons kak kon aanjaag. Maar groot pret kon hê.
So gaan die agtermiddag vinnig verby en my Pa kom by die huis aan. Teen daai tyd het ons al begin twyfel oor die wysheid van die hele slagveld speletjie, en die bekommernis het maar vlak begin lê. Ons redding was die feit dat Ouma Sannie daai "nannies kapella" ingewerk het... met haar vingers gekruis agter haar rug, soos ons op die punt was om uit te vind.
Na die gebruiklike gegroetery en "vertel my wat het julle alles gedoen vandag" verby was, beduie sy vir hom dat sy met hom wil praat. Ons loer versigtig vir mekaar en besluit om in elk geval maar wegkruiplek te loop soek. Voorsorg teenoor nasorg, julle weet mos.
Dit was ook nie lank nie toe bulder daai stem oor die vlak. "Riaan!!! Deon!!!! Kom hier!"
Ons stembande was skielik egter onvoorsiens onklaar en niemand antwoord hom nie. Inteendeel, ons was seker dat ons hom nie eers gehoor het nie. En laaities kan baie goed voorgee hulle hoor nie.
Amper net so goed soos groot mans.
Maar hy het ons wegkruiplekke geken. Ons was so in ons moer so in ons moer as wat kan kom en dis bevestig toe hy ons daar uitsleep en ons beveel om die karretjies te loop haal, hy wil iets sien.
Iets sien....
Issiiiiiiiit!
Toe sien hy die wrakke. Hy was nog so besig om hulle een vir een te besigtig toe klap die broekgordel al die eerste keer hier oor ons gatte. Hoe hy sy broek se gordel so stilletjies afgehaal het met een hand terwyl hy die wrakke inspekteer en die eerste hou ingekry het sonder dat ons besef het wat broei hier uit, is 'n benydenswaardige taak wat net die hoogste lof verdien. Nou, nie op daardie oomblik nie.
Nou ja, nodeloos om te sê het ons vir lank daarna niks meer speelgoed gekry nie, en daarna moes ons maar sakgeldjies inspan en eers bewys ons is nie meer antifa vakleerlinge nie voordat die ouers ons eers weer vertrou het met verdere speelgoed.
En van kolletjies op sy gat het dadels gekom - dit was meer soos duidelike blou strepe.
Die groot geheim is om altyd jou ouma se hande dop te hou as jy haar laat sweer om stil te bly.
Riaan Coetzee
Kopiereg
30 Junie 2020
Kopiereg
30 Junie 2020
Comments