Posts

Showing posts from 2020

Dag 118 van die grendelstaat

Image
Baie jare gelede neem ek deel aan 'n vlotresies op die Vaalrivier. Ek kan nie eers onthou of ons gewen het nie - ek dink amper so. Of wat die wenprys was nie. Ek dink ons het die prys vir die mooiste vlot gewen. Maar dit is kleingeld daai - die storie gaan oor die resies en wat alles daar gebeur het. So begin ek en ou Gert en die ander manne in ons span al 'n geruime tyd voor die beplande datum ons vlot aanmekaarslaan. Daar gaan groot beplanning in, dinge word gemeet en weer gemeet en oor vele biere bespreek. Die raam word baie noukeuring aanmekaargeslaan om voorsiening te maak vir 'n braaier aan die een kant en 'n groot koelerboks aan die ander kant, want vlotresies maak jou moeg, dors en honger. Die vlot word netjies geverf, daar word met verskillende groot dromme ge-eksperimenteer om te bepaal wat gaan die beste resultate lewer. Uiteindelik besluit ons op plastiek want die vlot is reeds aan die gewigtige kant en ons het nog nie eers die dakkie op nie! Of die bier! Pl...

Dag 117 van die grendelstaat

Image
Dag 117 van die grendelstaat Dis net voor middernag. Dis doodstil. En ek het 'n kriek in my kamer. Ek sukkel om my brein afgeskakel te kry. Mens neem soveel in deur die dag, bo-en-behalwe werk verbonde inligting. Hier word gebrand, daar word vermoor, hier word gelieg, daar word gesteel, hier is mense wat jy ken, familie, siek met Covid, daar veg iemand vir oorlewing want inkomste is min tot niks. Liewe magtag, 2020 is regtig die prostaat ondersoek jaar maar die KY is klaar.  Dis harde werk om al die goed lank genoeg eenkant toe te skuif sodat jy immers net 'n kans staan op ongeveer 5 ure se ononderbroke slaap. Doer aan die begin van die inkerkering was die stadstilte oorverdowend. Stadsmense is 'n permanente agtergrond kakofonie van geraas gewoond. Dis die agtergrondmusiek in die Jazz kroeg wat ons 'n stad noem. Daarsonder voel jy effe ontuis, alhoewel dit ook lekker is. Dis net so vreemd. Ons het dit net begin gewoond raak toe hef die regering die aandklokreël op en sk...

Dag 116 van die grendelstaat

Wat gaan die langtermyn impak van ons maskers en sosiale afstandhouding op ons wees? Is ons besig om gewoond te raak daaraan om nie ons gunsteling mense gereeld te sien nie? Is ons besig om gewoond te raak aan die gebrek aan sosiale interaksie op persoonlike vlakke? Of is dit stadig maar seker besig om 'n belangrike deel van menswees te versmoor, en wat gaan die prys wees wat ons daarvoor betaal? Dis die gedagtes wat in my kop rondflenter. Mense is van nature kudde diere. Verseker is daar diegene onder ons wat hulle eie geselskap verkies, ek self is baie lief daarvoor. Maar selfs die mees afgesonderde mense het ook nodig om met ander mense te konnekteer, interaksies te hê, aanraking te kry, sommer net mense vir wie jy lief is se gesigte en glimlagte voor jou te sien, hulle te kan druk as jy wil. Hierdie tipe aanrakings, persoonlike konneksies, interaksies is myns insiens uiters nodig vir balans in jouself. En al wat ons al vir 4 maande lank doen is kommunikeer met elektronika. Ons ...

Dag 115 van die grendelstaat

Ek is gereeld dankbaar dat ek vandag nog springlewendig en gesond is. En dit het niks met die virus uit te waai nie, alhoewel ek in daardie opsig ook dankbaar is vir gesondheid. Nee, dit het eerder te make met die hoeveelheid ongelooflike dom dinge wat ek al in my lewe aangevang het. Wragtag weet, dis slegs met 'n geweldige intensiewe poging deur my spirituele dier - Leila die beer, die geluksgodin en haar hele uitgebreide familie en 'n hele leërskare oorwerkte beskermingsengele dat ek vandag daaroor kan skryf en vir myself lag kry. Dekades gelede ry ek die dag rond in 'n Ford met 'n witwakswarm 3 liter V6 enjin. Letterlik net besig om gat te skuur. Ek eindig in Mountain View op, 'n voorstad wat teen die hange van die Magaliesberg gevestig is. Wat beteken dis opdraande een rigting en afdraande anderkant toe. Ek grom-grom stadig tot heelbo met die een straat en draai om dat die neus Suid wys, en die drie blokke tot onder lê afdraande voor my. Daar is twee strate wat ...

Dag 114 van die grendelstaat

Ek kla die grendelstaat maak my gek, maar eintlik is ek al lank nie lekker nie. Ek is in die gewoonte om, sodra ek by die huis instap, my broek te laat waai en in 'n onderbroek en t-hemp rond te loop. Ek weerhou myself darem daarvan as daar kuiermense is net ingeval jy nou wonder. Of meeste van die tyd in elk geval. So kom kuier daar toe 'n sekere rooikop een goeie dag sodat ons kan braai en wyn drink. Sy gee my 'n gemiste oproep om te laat weet ek kan maar kom oopsluit. Ek los waarmee ek besig is en storm die trappe uit hek se rigting toe en maak die parkeerarea se hek oop dat sy binne kan parkeer. Soos wat sy uitklim staan ek agter haar bakkie en wag sodat ons saam kan instap. Vrouens klim mos nie net uit as hulle gestop het nie. Alles moet eers nadergehark word, die inhoud van die handsak moet finaal goedgekeur word, klere word reggetrek, en die truspieël word nekaf geruk sodat hulle vir 'n laaste keer kan loer of die lippies net reg geverf en die maskara perfek is. ...

Dag 113 van die grendelstaat

Oom Cyril wil alweer met ons praat. Ek smeer solank my gat vet. Ek stel voor julle doen ook. As die president deesdae met ons praat is dit gewaarborg dat ons die skuld vir iets gaan kry. Dalk is ons gelukkig en dis net vir 'n virus wat nie onder beheer kan gekry word nie. Die feit dat die regering nie in staat is om 'n duikkompetisie vir 'n graad een klassie te reël nie is nie ter sprake nie. Ons vat net ons pak en maak gereed om nog voorregte op te gee. Buks, staan haaks, soos Ou Paal altyd uitgeroep het toe ek in die hoërkskool was en ons nie huiwerk gedoen het nie. In tipiese robuuste Suid Afrikaanse maniere om vrees en spanning te verwerk, doen ons intussen weddenskappe op sosiale media oor wat dit sal wees. Geen groente? Geen vrugte? Geen seks? Geen Netflix? Geen internet? Geen poep in openbare plekke net ingeval hulle waarnemings oor die virus se verspreidingspotensiaal 'n strontstorie was? Die spanning loop hoog. Ons weet reeds dat hy niks sal noem oo...

Dag 112 van die grendelstaat

Image
Vandag het ek in stille bewondering gestaan vir die restaurant- en verwante bedrywe, wat nieteenstaande die feit dat die regering hulle beplande landwsye protesaksie vir vandag onwettig verklaar het, tog voortgegaan het daarmee. In hordes stede en dorpe het werkgewers en werknemers in hierdie bedrywe skouer teen skouer opgestaan en vreedsaam geprotesteer teen al die verlore werke, verlore besighede, verlore inkomstes, verlore drome en die feit d at hulle effektief verhoed word om inkomste te verdien. Tafels is uitgepak op sypaadjies en in strate, plakkate is rondgeswaai, en mense het opgestaan om te begin veg vir hulle inkomstes. Vir hulle gesinne. Vir hulle selftrots. En ja, vir hulle drome! Want werk moet ons werk. Ongeag wat 'n minister met 'n oudmodiese hoed wil voorskryf. Niemand kan oorleef met geen inkomste nie. Ons ekonomie is reeds in sy dinges. Ons kan nie bekostig om hom verder onder die water te hou nie. Dit is verby die virus, dis suiwer oorlewing. Soos dit s...

Dag 111 van die grendelstaat

Image
"Tik jy hom net?" "Nee, ek doen nie. Jy moet hom indruk." "Ah ek sien! Kom ons probeer." "Is hy al in?" "Amper..." "Dit werk nogal as jy hom so 'n bietjie wikkel." "Goed ek maak so.... daarsy!" "Hy nou in?" "Ja! Nou kan ons klaarmaak!" "Sien, daai wikkel ding maak 'n verskil." "Verseker, dankie!" En ander gesprekke wat ek gereeld met kassiere by betaalpunte voer as hulle wil weet of my bankkaart een van die nuwe tipes is wat jy net kan tik teen die kaartmasjien. As mens jouself nie kan vermaak nie, wie gaan dit vir jou doen. Meer nog in hierdie gekkeparadys waarin ons onsself bevind. Ek is glo agter op die dae. Ek weet glad nie hoe nie en ek pleit afwesig. Selfs my kalender is deurmekaar, en hy is veronderstel om datums te verstaan. So hier is ek by dag 111. Ek weet nie waar die res van julle is nie, maar sit solank en gooi 'n drankie i...

Dag 110 van die grendelstaat

Image
Duitse bierfeeste kan nogal interessant raak. So 'n hele klompie jare gelede het ek naby die Duitse Skool in die Ooste van Pretoria gebly vir seker so 6 maande. Soos wat die dinge uitgewerk het, was dit hoeka in die tyd van die jaarlikse bierfees daar. Nou daai lot Duitsers gaan groot. Daar was tot 'n regte oompah orkes gewees, ek wil my amper verbeel hulle was van oorsee af hier maar ek gaan nou nie my kop op 'n blok sit nie. Hoe dit ookal sy, die Vrydagaand is ek tuis sonder planne. Ek kan die gefuif hoor want dit is letterlik net 'n blok weg en uiteindelik besluit ek om tog maar om te stap en te gaan kyk wat aangaan. Dit was die begin van 'n lang aand. Genoeg om te bevestig dat ek later die orkes in vlot Duits gehelp het om die liedjies se woorde reg te kry. Die Saterdagaand slaan ek toe weer daar uit saam met 'n paar vriende nadat ek heeldag gelê en rus het. En toe kon ek nie 'n woord verstaan wat hulle sing nie! Die verskil wat 'n dag aan mens ...

Dag 109 van die Grendelstaat

Image
Ek was redelik agter om bloed te skenk omdat ek nie te veel beweeg het met die hele inkerkering nie. Maar ek het ingehaal, en spog met ‘n splinternuwe gat in my arm as bewys. Meer as een gat in my arm om presies te wees. Alles het goed afgeloop – behalwe dat ek sonder my leesbril daar aankom en uiteindelik die bloedtoets beampte moet vra om die vorm vir my in te vul. Dis nogal ‘n toets nou – jy moet eers by die deur ‘n Corona toets slaag voor jy nog kan ingaan. Dan moet jy die bloeddruk, yster en vorm invul toetse slaag. Dan kry jy ‘n sakkie en soek ‘n stoel. Dis vriendelike mense, en hulle dra dadelik koekies en koeldrank aan. Ingeval jy omkap. Hulle kan bloed hanteer maar mense wat omkap maak hulle ongemaklik. Uiteindelik het hulle klaar my bloed uitgesuig en daar word ‘n wattetjie opgedruk en met twee pleisters vasgeplak, en ek is vort. Sonder dat ek omkap. Die volgende dag sit die rooikop hier by my vir ‘n koffie. Ek besluit sommer dis tyd om die pleisters af te trek want ...

Dag 108 van die grendelstaat

Image
Amper praat die president weer vanaand met ons. Dis nou as jy die boodskappe glo wat vervaard op platforms soos Whatsapp begin het en soos 'n veldbrand versprei het. Ek sukkel maar om te verstaan waarom mense steeds opgewonde raak daaroor. Ek meen, dis nie asof hy skielik gaan aankondig die hele grendelstaat word gestaak en al die skelm politici begin van more af tronkstraf uit te dien nie of hoe? Dit blyk egter onwaar te wees, so ons kan rustig raak en 'n brandewyn skink. Behalwe as jou brandewyn klaar is. Dan moet jy maar 'n dubbel skink van jou trane en dit meng met pynappelsappies. Maak in elk geval nie regtig meer saak wat hy verkondig nie - die virus is steeds hier, die malligheid is steeds hier, die miljoene mense wat sonder werk sit is steeds hier, die nog meer miljoene wat tevrede moes wees met salarisverminderings is steeds hier, die regering is steeds onbeholpe en grotendeels gefokus op selfverryking, daar is nogsteeds mense wat 'n broekhoesie ontwikke...

Dag 107 van die grendelstaat

Etlike jare gelede ry ek een middag deur een van Pretoria se gegoede woonbuurte. Groot, weggesteekte huise agter hoë heinings, die reuk van geld wat aan jou kleef as jy daar verbyry. Of skuld, helaas. Midde in al die prag en praal ry ek verby 'n boemelaar. Wat my dadelik opval is dat hy nie by 'n kruising staan waar jy as 'n norm 'n bedelaar sou verwag nie. Dit maak tog net sin om te bedel wanneer voertuie, en dus potensiële skenkers, stilstaan. Nee, hierdie man staan in 'n voorstedelike pad, langs 'n spoedhobbel wat verkeer se spoed moet binne perke hou. Billik, maar met daardie doelwit as oogmerk eenvoudig nie prakties nie. Die enigste voertuie wat stop by spoedhobbels is peperduur Ferrari's en tweedehandse BMW's met bulderende uitlaatpype en onderstelle wat so laag gestel is dat die voorligte amper aan die teer raak. Die ander ding wat hierdie boemelaar dadelik anders maak is die feit dat hy 'n handgeverfe teken in sy hand rondswaai wat een...

Dag 106 van die grendelstaat

Image
Ek kan net nie gewoond raak aan die koorskonstabels wat jou oral staan en inwag om te kyk of jy warm of koud is nie. Elke keer as jy aangestap kom sien jy sommer aan hulle lyftaal dat hulle dit wat nou gaan volg baie ernstig opneem. Hulle maak al doer anderkant oogkontak en hou jou dan soos 'n valk dop. Het hy sy masker op, haal hy asem, hoes die bliksem, sweet hy, lyk hy skuldig, bewe hy? Mens kan in hulle oë sien hoe hulle die lysie in hulle k oppe afmerk en teen die tyd wat jy binne reikafstand is staan hulle oorgehaal om die koorspistool voor jou gesig rond te swaai. Mens wonder hoe gedissiplineerd moet hulle wees om nie te skree "Hande in die lug bliksem!!!" nie. Want wragtag weet, ek sou. Die versoeking is net te groot. Vandag het die enetjie by Builder's my egter 'n verassing gegee. Ek staan en wag effe onrustig vir haar om die ding teen my voorkop te druk - ek hou niks daarvan as enige iemand iets voor my rondswaai wat lyk of dit kan skiet nie. Die...

Dag 105 van die grendelstaat

Image
Dekades gelede neem ek deel aan 'n hengelkompetisie by Klerksdorp se dam. Daar was selfs 'n span uit Oostenryk gewees, as ek reg onthou 3 of 4 manne en dieselfde hoeveelheid vroue. Die een kêrel was groot. Regtig 'n baie sigbare Oostenryker. En 'n dors een op die koop toe. Dit was meer 'n vriendelike kompetisie gewees, en die reëls is effe verslap om hulle vis metode, en gepaardgaande minimum grootte visse, toe te laat. Dit was nogal 'n interessante spektakel gewees om dop te hou. Ons gooi pap daar van die dam se wal af in die diepwaters in en die lotjie vang met 'n tipe dobber met die oulikste ou klein hoekies wat jy al ooit gesien het. Ou grote sit kaalbolyf ondanks waarskuwings oor die Afrika son. Hy het daai aand die prys betaal vir slim wees! Dit was 'n vloedjaar gewees, en die dam was tot oorlopens toe vol. Vloedwaters het in kolkende massas verby die wal gedeelte voortgevloei en alhoewel ons brawe gesigte opgedis het en aanho...