Dag 118 van die grendelstaat
Baie jare gelede neem ek deel aan 'n vlotresies op die Vaalrivier. Ek kan nie eers onthou of ons gewen het nie - ek dink amper so. Of wat die wenprys was nie. Ek dink ons het die prys vir die mooiste vlot gewen.
Maar dit is kleingeld daai - die storie gaan oor die resies en wat alles daar gebeur het.
So begin ek en ou Gert en die ander manne in ons span al 'n geruime tyd voor die beplande datum ons vlot aanmekaarslaan. Daar gaan groot beplanning in, dinge word gemeet en weer gemeet en oor vele biere bespreek. Die raam word baie noukeuring aanmekaargeslaan om voorsiening te maak vir 'n braaier aan die een kant en 'n groot koelerboks aan die ander kant, want vlotresies maak jou moeg, dors en honger.
Die vlot word netjies geverf, daar word met verskillende groot dromme ge-eksperimenteer om te bepaal wat gaan die beste resultate lewer. Uiteindelik besluit ons op plastiek want die vlot is reeds aan die gewigtige kant en ons het nog nie eers die dakkie op nie! Of die bier!
Plastiekstoele word op verskeie plekke as vermis aangemeld maar teen daardie tyd was hulle reeds gesny, gesprei en vasgebout. En uiteraard wis ons van niks. Alles is geregverdig in oorlog en liefde.
En vlotresies.
Ons prakseer 'n dakkie - want mens wil nie bystaan dat die son jou braai voor ons die vleis kan braai nie. Hy is nou nie regtig vreeslik stewig nie, maar hy het goed gewerk vir die borgskappe wat ons kon reël! Nogal by n drankwinkel want die eienaar het saam met my in dieselfde gimnasium geoefen.
Roeispane word gebou, ringe word opgesweis waarin die roeispane moet pas - ons het geweet die beste sou wees om om te draai sodat ons vir die agterkant van die vlot kyk en so roei. Wenners roei mos gatkant toe om! Net die skeepskaptein het vorentoe gekyk. Iemand moet seker sien waarheen ons op pad is! En stuur, dis nogal belangrik. Alhoewel die roer wat ons geprakseer het waarskynlik die mees oneffektiewe skeepsroer ooit was.
Ons reël reddingsbaadjies ook nogal. Bier en rivier kan 'n man laat versuip as jy nie oplet in die klas nie. Uiteindelik breek die dag aan en douvoordag is algar daar weg met vlotte op trokke en sleepwaens. Dis nie heeltemal so groot soos die uittog uit Kanaän van ouds nie maar dis beslis naby. By die rivier aangekom op die plek waar ons gaan vlotte lanseer heers groot chaos en opgewondenheid. Laaste instruksies word luidkeels uitgedeel, die organiseerder is nog besig om ons die Leviete voor te lees oor die feit dat ons eers na die resies mag drank gebruik toe hoor jy al TSSSSSS hoe knak die biere onderlangs. Die organiseerder gaan maar eerder net aan asof niks gebeur het nie en uiteindelik beveel hy ons basies net om nie te versuip nie. En hy herhaal in watter rigting ons moet roei sodat iemand nou nie teen vanaand 8 kilometer in die ander rigting opeindig en wonder waar is almal nie. Hy gaan staan tot amper halflyf in die water en wys die rigting aan om seker te maak ons het dit.
Uiteindelik is almal op die water met hulle vlotte. Daar is 'n wilde verskeidenheid maar twee staan beslis uit. Ons vlot wat so netjies is, en Peet hulle se vlot. Dis so 'n plat gevaarte wat geheel en al uit veselglas gemaak is. Dis die wit Lamborghini van vlotte. Niks tierlantyntjies daar nie. Die sitplekke is sulke plat vierkantige hobbeltjies, drie elke kant. Agter is genoeg spasie waar die kaptein - Peet - sy kampstoel kan neersit, en hy moet sommer met sy bene toesien dat die koelerbokse nie afgly nie. Die ding is gebou vir spoed, nie gerief nie.
By nabetragting het ons by die tewaterlating reeds besef daar gaan 'n probleem kom, maar daai manne was gefokus en opgevuur. En gesuip. Ons was nugter so ons kon uitwerk waar hulle vlot tekort skiet. Natuurlik!
Dit was ook nie lank nie toe trek die wit gevaarte onder die res van ons uit. Ons roei vir 'n vale hel maar die vlot is swaar. Maar ons het baie bier en baie moed. En ons is jonk en fris en ons laat ons nie afsit nie. Skaars 'n kilometer in neuk die dakkie want hy bly omval en ons skuif nader aan die een wal en skiet hom eenkant toe. Iemand sal hom wel optel en bring.
Dis 'n luide stryd en die spanne gooi mekaar met allerhande verassings wat noukeurig voorberei en op die vlotte ingesmokkel is. Party maak rook, ander is net met water gevul. Ander klap weer. Hard. Baie hard. Maar ons praat nie daaroor nie. Die stryd is hewig. Maar ons het die tyd van ons lewens op daai rivier. Peet se span is vreeslik gulhartig. Hulle het reeds vasgestel dat niemand saam met hulle kan roei nie, so kort-kort wag hulle vir ons om in te haal. En dan hoor ons uiteraard hoe gevrek ons is en hoe swak ons ontwerpe is en hoe hulle ons gatte gaan skop.
Ons kom toe by die eerste stukkie stroomversnelling. Op 'n skaal van 1 tot 10 was die waarskynlik omtrent 'n drie. Maar nie alle vlotte blyk opgewasse te wees nie. Een breek sommer net daar in etlike stukke en die manne is op hulle swemvernuf aangewese om by die wal uit te kom.
Dis toe wat die noodlot die resiesvlot inhaal en hulle bewus maak van die gate in hulle beplanning.
Peet sit nog so en kaptein speel agter op daai veselglas vlot, toe swaai die rivier die vlot 180 grade om. Twee roeiers gly van hulle roeibankies af en plons in die water in. Peet wou nog iets kwytraak oor beter vashou toe skiet sy kampstoel agtertoe soos 'n kurkprop uit 'n bottel vonkewyn en, omdat hulle nooit ingefaktor het dat 'n bootreëling handig kan wees nie, hou hy net aan gly tot hy heel afgly en stoel en al in die water in moer. Sy gil word kortgeknip deur die helfte van die Vaalrivier wat sy oopgerekte mond instroom. Sy stoel val op hom. Gevolg deur 'n reeks koelerbokse, biere, glase, sonbrandmiddel en basies enige iets wat hulle in hulle gemotiveerdheid sommer net op die vlot neergesit het.
Die wit vlot dartel vrolik voort deur die wit watertjies met 'n streep koelerbokse en drie benoude spanlede in 'n streep agterna. As hulle bo die water is gil hulle, maar hulle is darem nugter genoeg om te besef om bek toe te maak as hulle onder die water is.
Hulle is baie onder die water.
"Gaan hulle nie versuip nie??" gil iemand van 'n ander vlot af.
"Nee wat" skree Gert terug. "As jy hulle nog hoor gil is alles reg, ons worry eers as ons hulle nie meer hoor nie!"
Uitgesorteer.
Nodeloos om te sê is die manne van die resiesvlot maar stillerig aan die ander kant toe Peet en die ander twee hulle uiteindelik inhaal. Hulle trek die manne op die vlot soos halfverdrinkte rotte, natuurlik onder luide aanmoediging en aanwysings van die ander deelnemers af. Die res van die wedren word met net 4 spane aangepak, en hulle bedel maar bier en braaivleis van die res af. Al die koelerbokse en Peet se nuwe kampstoel is seker nou nog op die bodem van die rivier. Behalwe as 'n hengelaar op 'n stadium gedink het hy het 'n reuse baber op die hoek en toe tot sy stille verbasing 'n watergevulde koelerboks of twee uitgekatrol het.
Ons het ook nie ongedeerd daarvan afgekom nie - een van die erfporsie stoele het gebreek, en een of twee van die ringe wat die roeispane in plek moes hou ook. En baie blase! Ek het daarna nuwe respek vir galleryslawe gehad wat die ou Romeine se skepe vir hulle moes roei.
Maar boeta, ons het lekker gebraai op daai vlot!
Toe ons daai agtermiddag uiteindelik 8 kilometer verder by die wenstreep aankom was dit 'n spul nat, moeg en gatlam manne wat daar van hulle vlotte afgeval het. Teen daardie tyd was die bier laaaaaank reeds klaar, en tussen die son en die roeiery was ons feitlik alweer nugter ook.
Maar die vlotresies sal lank onthou word as van die beste pret ooit.
En ons is jammer vir al die visse wat getraumatiseer is.
Riaan Coetzee
Kopiereg
29 Julie 2020
Comments