Dag 114 van die grendelstaat
Ek kla die grendelstaat maak my gek, maar eintlik is ek al lank nie lekker nie.
Ek is in die gewoonte om, sodra ek by die huis instap, my broek te laat waai en in 'n onderbroek en t-hemp rond te loop. Ek weerhou myself darem daarvan as daar kuiermense is net ingeval jy nou wonder. Of meeste van die tyd in elk geval.
So kom kuier daar toe 'n sekere rooikop een goeie dag sodat ons kan braai en wyn drink. Sy gee my 'n gemiste oproep om te laat weet ek kan maar kom oopsluit. Ek los waarmee ek besig is en storm die trappe uit hek se rigting toe en maak die parkeerarea se hek oop dat sy binne kan parkeer.
Soos wat sy uitklim staan ek agter haar bakkie en wag sodat ons saam kan instap. Vrouens klim mos nie net uit as hulle gestop het nie. Alles moet eers nadergehark word, die inhoud van die handsak moet finaal goedgekeur word, klere word reggetrek, en die truspieël word nekaf geruk sodat hulle vir 'n laaste keer kan loer of die lippies net reg geverf en die maskara perfek is. Dit gebeur toe ook net so, en terwyl ek gedweë staan en wag dat die roetine afgehandel word staan ek en dink of ek alles reg het vir die braai. Belangrike dinge om aan te dink, dus, en in die proses dwaal my oë grondwaarts en vang my kaal bene skrams.
Ek kyk weer op en peins verder. Skielik skiet 'n stemmetjie in my kop op...
"Jou bene is kaal. Hoekom is jou bene kaal?"
My braaivoorbereidings bepeinsinge stotter tot 'n einde. Hoekom is my bene kaal??? My oë dwing weer grondwaarts en besigtig my kaal bene.
"O moer..." skiet die paniek deur my sisteem.
Ek het in my haas vergeet om my broek aan te trek. Dit is nou die mag van gewoonte in die kollig.
Ek kyk op, sy is besig om uit te klim! My maag gee sulke paniekerige krampe. Op daai stadium het ons mekaar nog skaars geken en hier ontvang ek haar in my bleddie onderbroek!
"Is dit jou gunsteling een met die gat in?" val die stem my in die rede. Ek begin dadelik 'n ligte sweet op my bolip ontwikkel en skielik wil ek sommer piepie. My brein is in volle veg of vlug paniek, daardie gedagte was die laaste strooi.
Ek skuifel al om haar bakkie soos wat sy begin naderstap en tel vinnig my t-hemp op om seker te maak. Dis nie my gunsteling onderbroek nie, en ek was lanklaas so dankbaar vir iets. Haar oë is vol vraagtekens want sy soek 'n drukkie en ek hol weg, ek trek al amper weer by die bakkie se voorkant!
"Wat doen jy??" vra sy verward.
"...kyk uh jy weet, kyk net of jou ligte afgeskakel is..." mompel ek terug.
Handjie op die heupie.
"Hallooooo! Ek kan bestuur hoor, 'tuurlik is dit af, kom hier en sê welkom."
"Jaaaaa nee ek sien hulle is af welkom en hoe uh, watsenaam, hoe gaan dit?" kry ek uitgesweet. Ek probeer vervaard uitwerk hoe ek myself uit die situasie gaan gepraat kry sonder dat sy summier weer inklim en ry.
Altwee handjies op die heupies nou. O koek, dis altyd 'n slegte teken, storm en drang.
"Wat gaan aan met jou?? Ek kom braai by jou en nou lyk dit of jy weghol." blits daai ogies in my rigting.
"Jy sien ne" wurg ek uit deur my kurkdroë mond, "dit staan nou so."
"Wat staan hoe? Jy maak nie sin nie!"
"Uhhh jy sien, die watsenaam. Die broek. Aaah. My broek. Hy uh hy. Ek..." probeer ek sin maak deur my paniek.
"Ek luister..." gluur sy terug.
Handjies nogsteeds op die heupies. O bliksem.
"Verdomp! Ek het nie 'n broek aan nie!"
"Wat??"
"Ek het vergeet om my broek aan te trek." terwyl ek in alle rigtings kyk behalwe vir haar.
"Ek kon sweer jy het gesê jy het nie 'n broek aan nie..." grootoog sy.
Nou is sy nog hardhorend ook, dink ek.
"Uhhh ja. Korrek. Ek het vergeet om die ding aan te trek..."
"Hie hie hie hie hie hie!" begin sy lag. Ek weet nogsteeds nie watter kant toe nie.
"Het jy darem 'n onderbroek aan?
"Ek het ja, en gelukkig nie my gunsteling een nie."
"Wat is dan jou gunsteling een?"
Gaan sy nou wragtag eers 'n Spaanse Inkwisisie op my trek in my uur van nood!
"Hy watsenaam. Jy weet."
"Nee ek weet nie."
"Man, hy... toemaar, al wat belangrik is, is dat ek hom nie nou aanhet nie en kan jy nou ander goed vra asseblief tog."
"Kom uit daar dat ek sien." beveel sy, maar gelukkig met oë vol lag. En die handjies is nie meer op die heupies nie. Goeie teken, dalk bly sy darem vir die braai!
Ek skuifel nader. Sy gooi 'n ogie oor my bene.
"Netjies." Sy begin lag. Seker lanklaas in haar lewe 'n man so beteuterd gesien bloos.
Ek begin ook giggel. Ek meen, wat kan mens anders doen. En daar staan ons altwee en lag.
Dit was die ysbreker van die eeu. Ons braai nog gereeld saam, en lag nou nog vir die onderbroek storie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
25 Julie 2020
Comments