Dag 110 van die grendelstaat

Duitse bierfeeste kan nogal interessant raak.
So 'n hele klompie jare gelede het ek naby die Duitse Skool in die Ooste van Pretoria gebly vir seker so 6 maande. Soos wat die dinge uitgewerk het, was dit hoeka in die tyd van die jaarlikse bierfees daar. Nou daai lot Duitsers gaan groot. Daar was tot 'n regte oompah orkes gewees, ek wil my amper verbeel hulle was van oorsee af hier maar ek gaan nou nie my kop op 'n blok sit nie.
Hoe dit ookal sy, die Vrydagaand is ek tuis sonder planne. Ek kan die gefuif hoor want dit is letterlik net 'n blok weg en uiteindelik besluit ek om tog maar om te stap en te gaan kyk wat aangaan. Dit was die begin van 'n lang aand. Genoeg om te bevestig dat ek later die orkes in vlot Duits gehelp het om die liedjies se woorde reg te kry. Die Saterdagaand slaan ek toe weer daar uit saam met 'n paar vriende nadat ek heeldag gelê en rus het. En toe kon ek nie 'n woord verstaan wat hulle sing nie! Die verskil wat 'n dag aan mens se taalvaardigheid maak...
Jare later besluit 'n groep vriende ons gaan weer bietjie die plek besoek en saam bierfees. Ons kuier rustig tussen die tente deur en luister lekker oompah musiek en geniet onsself sommer net gate uit. Ons eindig toe in die grootste tent op, waar die lang tafels soos koolkoppe op 'n land ingepak staan en jy amper rug teen rug die plek vol sit.
Dit gaan jolig, alhoewel niemand in ons groepie werklik ernstig drink nie. Interessant genoeg kon ek steeds nie my bemeestering van Duits terugvind nie. Daardie aand moes seker maar 'n gelukskoot gewees het.
Hoe dit ookal sy, op 'n stadium is daar 'n geharwar aan die een punt van ons tafel. Dit blyk toe 'n heel aanvallige meisie te wees met 'n gevaarlike kort rokkie, wat bo-op die tafel geklim het met 'n stuk rubberpyp in die hand. Sy gaan van persoon tot persoon en druk haar pyp in almal se bier en neem 'n paar slukke. My vermoede is dat sy ook teen daai tyd vlot Duits moes gepraat het. Hoe sy dit reggekry het om nie af te moer nie was 'n besliste wonderwerk. As 'n man dit probeer het sou hy buite in die straat wakkergeword het. Maar haar kort rokkie het die saak in haar guns beslis, want soos sy aanbeweeg lyk dit soos 'n stadige aksie Meksikaanse golf aan haar agterkant soos die manne 'n oogvol vang. So nie 'n enkele persoon kla dat sy hulle bier steel nie.
Sy is so verby ons ook, en soos dit ordentlike mense betaam het ons weggekyk tot sy verby was. Kug kug.
So eindig sy op die buurtafel op. Direk agter my sit 'n man en sy vrou. Maar hierdie ou is eergister al verby vlot Duits praat. Hy is al besig om Russies onder die knieg te kry. Die bank waarop hy sit is rond soos 'n bal, as jy meet aan hoe gevaarlik hy sit en rondswaai. Sy ogies hang so op een uur en half ses. Mevrou is nogal stewig. Laat ek dit net weer probeer. Mevrou is baie stewig. En mevrou is baie kwaad ook. Sy sit sommer al so stokstyf en gluur almal om haar aan met doodsogies.
Maar pappie bestel dapper nog 'n biertjie, hy het duidelik besluit om eers weer die volgende dag versigtig te raak. En die tafelmeisie neem toe ook 'n lang sluk van sy bier, terwyl hy met verstarde, of was dit glasige, ogies teen haar kniegies vaskyk. Toe draai sy om.
En dis net daar waar die geveg begin het.
Die meisie buk om sy oorkantste buurman se bier te proe, en dan is daar nie verbeelding nodig agter nie. En pappie hang so vooroor om beter te kan sien my kind. Sy kop rol op sy nek rond soos een van daai skudkoppie hondjies wat ons in die 80's in ons Ford Cortina's se agterruite gesit het.
Dan kyk hy vir die meisie se agterstewe. Onder andere. En dan draai hy met moeite sy kop na mammie se kant toe, en gee so 'n sekonde vir sy oë om in te haal. Dan kyk hy of sy nog nie gereed is om hom by te kom nie. Dan draai hy weer met groot konsentrasie terug boudjies toe.
En mammie kook soos 'n mampoerketel.
Hy moes duidelik die somme in sy benewelde brein gemaak het en besluit het dis veilig genoeg om te voel. Sy hand lig stadig in die rigting van die meisie se onderstelletjie terwyl sy een oog soos 'n trapsuutjies in mammie se rigting loer.
En hy vat alles so vas.
Sy gesig helder stadig op met 'n glimlag wat amper reg om sy kop gaan.
Die meisie kry net 'n vinnige "OEH!" uit maar haar mond is te vol van die buurman se bier om nog iets by te voeg.
Sy vriende juig hom toe.
Hy glimlag nog breër.
En mammie, grote mammie, hak af met 'n rughand wat Martina Navratilova jaloers sou gemaak het en tref hom vol teen sy voorkop. Dit klap soos 'n geweerskoot. Sy kop snap agtertoe dat sy bier doer trek, en hy verdwyn in die klein spasie tussen die bankies in. Net sy bene is steeds sigbaar op die bankie en daar slaap die man.
Mammie vat die karsleutels en gaan summier huistoe sonder hom.
Sy vriende juig haar toe sonder om 'n oog te knip.
Die meisie het waarskynlik nou nog nie besef wat agter haar aangegaan het nie.
Die oompah orkes het nie 'n noot gemis nie.
En ek kan steeds nie daai liedjies se woorde onthou nie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
20 Julie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf