Dag 109 van die Grendelstaat
Ek was redelik agter om bloed te skenk omdat ek nie te veel beweeg het met die hele inkerkering nie.
Maar ek het ingehaal, en spog met ‘n splinternuwe gat in my arm as bewys. Meer as een gat in my arm om presies te wees.
Alles het goed afgeloop – behalwe dat ek sonder my leesbril daar aankom en uiteindelik die bloedtoets beampte moet vra om die vorm vir my in te vul. Dis nogal ‘n toets nou – jy moet eers by die deur ‘n Corona toets slaag voor jy nog kan ingaan. Dan moet jy die bloeddruk, yster en vorm invul toetse slaag. Dan kry jy ‘n sakkie en soek ‘n stoel. Dis vriendelike mense, en hulle dra dadelik koekies en koeldrank aan. Ingeval jy omkap. Hulle kan bloed hanteer maar mense wat omkap maak hulle ongemaklik.
Uiteindelik het hulle klaar my bloed uitgesuig en daar word ‘n wattetjie opgedruk en met twee pleisters vasgeplak, en ek is vort. Sonder dat ek omkap.
Die volgende dag sit die rooikop hier by my vir ‘n koffie. Ek besluit sommer dis tyd om die pleisters af te trek want nou irriteer hulle my erg, so ek sit daad by die woord. Eers voel-voel ek die kante van die pleisters so, maar ek kan voel hoe begin my armhare protesteer. Uiteindelik besluit ek om maar oë toe te knyp en gee ‘n magtige ruk. Dit werk uiteraard. Alles kom af. Die pleisters, en sommer ‘n stuk vel ook!
My oë rek groot. Die rooikop sit verstar. Soveel bloed het sy nog nooit gesien nie!
Ek meen, ‘n halwe druppeltjie bloed is bloed! Dit was dalk effe minder, in die geharwar mis mens soms belangrike detail. Nadat hulle my bloed uitgesuig het, het ek ‘n goeie liter of twee minder as normaalweg, so ‘n halwe druppel grens nou aan oorlewing. Ek gryp my arm vervaard vas en gaan sit sommer van skok.
Die rooikop begin lag. Regtig? In my uur van nood!
Wie het nou weer gesê dames het sagte hartjies en voel maklik jammer vir jou? Hier sit ek met ‘n reuse gat in my arm, slegs ‘n skamele 2 sentimeter weg van waar hulle die vorige dag ‘n aar se sysagte wand deurboor het met ‘n naald so dik soos ‘n renoster se neusgat. En deur die nuwe gat kan mens omtrent die volgende dag sien aankom! Mits jy mooi fokus en jou verbeelding gebruik. Dis seker nie onvanpas om te staaf dat ek my gat gesien het nie.
Maar die rooikop giggel nogsteeds.
“Nou wat nou?” vra sy, “jy is dan so tough, nou skeur jou velletjie van ‘n pleistertjie?”
“Ekskuus my!” roep ek geskok verontwaardig uit. “Wie de ongeluk beplan vir so ‘n geval? Eers bied jy jou bloed vrylik aan, hulle suig jou bykans leeg, en dan plak hulle een of ander donnerse aanvalspleister op jou vel?!” verdedig ek myself.
“Ek meen, wie doen so iets? Nie eers Dracula sal so iets probeer nie!"
“Ja ja” reken sy, “ek kan sien jy voel skoon swak…”
Nou hierdie tipe van ding het alle mans oor dekades heen verfyn met verkoues. So ek begin dadelik effe bewe en vlakker asemhaal en my gesig trek van pyn terwyl ek my arm krampagtig vashou. Net in geval daar dalk nog ‘n druppel bloed wil uitsyfer. Mens kan nie te versigtig wees nie.
“Het jy nie iets om op die gapende wondjie te sit nie?” vra sy.
Altyd voorbereid, ekke, so ek gryp die Vicks en smeer ‘n stewige dosis aan die wond.
Die rooikop kyk my weer ongelowig aan.
“Wat?” vra ek.
“Vicks???” kry sy uit. “Regtig? Jy smeer Vicks aan? Het jy nie ‘n tipe wondsalf nie?”
“Ek weet nie, en ek is so by so nou te bewerig om verder te soek” kap ek tee. “Buitendien werk Vicks vir alles.”
Sy kyk my so en sê "Dit werk moerse goed vir jou verbeelding ook."
Ek hou net my arm stywer vas en probeer 'n sweet uitkry vir effek.
Sy skud haar kop. “Jy kom met al die stront uit en jy het nie eers meer drank om my te help om dit te verwerk nie.”
“Nee, maar ek het Vicks.”
Julle weet hoe lyk dit as ‘n vrou haar oë so hard rol dat die wit wys?
Riaan Coetzee
Kopiereg
20 Julie 2020
Kopiereg
20 Julie 2020
Comments