Dag 106 van die grendelstaat

Ek kan net nie gewoond raak aan die koorskonstabels wat jou oral staan en inwag om te kyk of jy warm of koud is nie.
Elke keer as jy aangestap kom sien jy sommer aan hulle lyftaal dat hulle dit wat nou gaan volg baie ernstig opneem. Hulle maak al doer anderkant oogkontak en hou jou dan soos 'n valk dop. Het hy sy masker op, haal hy asem, hoes die bliksem, sweet hy, lyk hy skuldig, bewe hy? Mens kan in hulle oë sien hoe hulle die lysie in hulle koppe afmerk en teen die tyd wat jy binne reikafstand is staan hulle oorgehaal om die koorspistool voor jou gesig rond te swaai.
Mens wonder hoe gedissiplineerd moet hulle wees om nie te skree "Hande in die lug bliksem!!!" nie. Want wragtag weet, ek sou. Die versoeking is net te groot.
Vandag het die enetjie by Builder's my egter 'n verassing gegee. Ek staan en wag effe onrustig vir haar om die ding teen my voorkop te druk - ek hou niks daarvan as enige iemand iets voor my rondswaai wat lyk of dit kan skiet nie. Die ding moet anderkant toe wys en jou vinger moet nie op die sneller wees nie. So is ek geleer.
Maar die spesifieke koors kontrolleerder had ander planne vir my. Sy mik-mik na my voorkop toe en wurm daai skielik ding hier in my nek in dat ek voel soos die hoofspeler in 'n gyselaardrama! Jy weet hoe jy vir babatjies kos gee wat nie wil eet nie as jy daai vliegtuigie ding doen.
Ek sweer sy het in haar binneste gestaan en neurie "hier kom die vliegtuigie, hieeeeeer kom die vliegtuigie, daaaaaarsyyyyyy!" in my verdomde nek in.
My hande skiet sommer vanself die lug in om oor te gee en ek begin onwillekeurig rondkyk vir hulp. Sy moes gesien het ek lyk soos 'n haas in 'n kollig want sy trek die koorspistool terug terwyl sy 'n sluwe glimlag gee en besigtig aandagtig die lesing.
Ek staan en wag bedeesd. Die hier waar die koring van die kaf geskei word.
"Ha!" knik sy tevrede vir haarself, gee my weer 'n glimlag en se ek mag maar ingaan.
"Hoe warm is ek?" vra ek so ewe.
"Meneer is baie warm, maar nie SO warm nie."
Ek sal maar so 'n bietjie moet dink oor daai een.
Riaan Coetzee
Kopiereg
17 Julie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf