Dag 112 van die grendelstaat

Vandag het ek in stille bewondering gestaan vir die restaurant- en verwante bedrywe, wat nieteenstaande die feit dat die regering hulle beplande landwsye protesaksie vir vandag onwettig verklaar het, tog voortgegaan het daarmee.
In hordes stede en dorpe het werkgewers en werknemers in hierdie bedrywe skouer teen skouer opgestaan en vreedsaam geprotesteer teen al die verlore werke, verlore besighede, verlore inkomstes, verlore drome en die feit dat hulle effektief verhoed word om inkomste te verdien.
Tafels is uitgepak op sypaadjies en in strate, plakkate is rondgeswaai, en mense het opgestaan om te begin veg vir hulle inkomstes. Vir hulle gesinne. Vir hulle selftrots. En ja, vir hulle drome! Want werk moet ons werk. Ongeag wat 'n minister met 'n oudmodiese hoed wil voorskryf. Niemand kan oorleef met geen inkomste nie. Ons ekonomie is reeds in sy dinges. Ons kan nie bekostig om hom verder onder die water te hou nie. Dit is verby die virus, dis suiwer oorlewing. Soos dit staan begin al hoe meer ekonome onrusbarend vra of ons ekonomie ooit sal kan herstel van hierdie dubbele gatslag.
Geen klippe is gegooi nie. Geen geboue is gebrand nie. Mense wat grotendeels maande laas inkomste verdien het, het waardig standpunt ingeneem en hulle stem begin dik maak. Hulle teenstanders in hierdie publieke kryt was amptenare wat inderdaad elke maand steeds hulle volle salarisse verdien. Die ironie kan eenvoudig nie gemis word nie.
Dit is meer as wat die hele korporatiewe wêreld in SA kan aanvoer.
Ek stap by 'n plek in vandag om kaas en vleis te koop. By die deur staan 'n voettrappertjie, soos ek die masjiene noem wat jy met die voet trap en dan spuit jy jou hande met ontsmettingsmiddel.
Die man voor my trap daai masjien dat ek begin dink hy is die verlore tromspeler van 'n 80's popmusiek orkes. Die onsmettingsmiddel spuit later dat dit van sy arms afdrup en ek kry selfs druppels op my sonbril. Dit lyk soos 'n buitelug stort.
Toe tik ek hom maar op die skouer en vra of ek vir hom sjampoe kan bring?
Die kyke wat ek die res van die tyd in die winkel gekry het was genoeg beloning.
En het my amper laat uitstap om ook maar te stort.
Riaan Coetzee
Kopiereg
22 Julie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf