Dag 113 van die grendelstaat
Oom Cyril wil alweer met ons praat.
Ek smeer solank my gat vet. Ek stel voor julle doen ook. As die president deesdae met ons praat is dit gewaarborg dat ons die skuld vir iets gaan kry. Dalk is ons gelukkig en dis net vir 'n virus wat nie onder beheer kan gekry word nie.
Die feit dat die regering nie in staat is om 'n duikkompetisie vir 'n graad een klassie te reël nie is nie ter sprake nie. Ons vat net ons pak en maak gereed om nog voorregte op te gee. Buks, staan haaks, soos Ou Paal altyd uitgeroep het toe ek in die hoërkskool was en ons nie huiwerk gedoen het nie. In tipiese robuuste Suid Afrikaanse maniere om vrees en spanning te verwerk, doen ons intussen weddenskappe op sosiale media oor wat dit sal wees.
Geen groente? Geen vrugte? Geen seks? Geen Netflix? Geen internet? Geen poep in openbare plekke net ingeval hulle waarnemings oor die virus se verspreidingspotensiaal 'n strontstorie was?
Die spanning loop hoog.
Ons weet reeds dat hy niks sal noem oor die 500 biljoen se stelery nie. Of oor die feit dat misdaad al meer hande uit ruk soos wat meer industrieë vernietig word en meer en meer mense honger en desperaat raak nie. Geen weddenskappe is nodig om te bespiegel of hy dalk, net dalk, sal bevestig dat die regering met onmiddellike ingang bedank nie. Mens mag mos maar hoop, of hoe.
Dalk sal hy vanaand weer probeer om ons te vermaak en 'n ietsie met sy masker aanvang net voor hy klaarmaak om ons aandag af te lei dat ons dink hy is oulik, en dan so half onderlangs byvoeg dat Mammie Zuma ons na die naweek sal vertel van wat nou eintlik gaan gebeur.
Ek gaan nou maar vinnig al die Netflix rolprente deurdraf wat ek nog wou kyk. Net ingeval hulle dalk op dit besluit het vir hierdie rondte. Ek wil nie weer met my broek op my enkels gevang word soos met die nuwe drankverbod nou die dag nie!
Hy sal ook niks kwytraak oor hulle herfinansieringsplanne vir SAA met Suid Afrikaners se pensioengeld nie. Ons moet seker vir Pravin daaroor vra. Ek is seker hulle was almal hoog toe hulle hierdie een uitgedink het.
Ek gaan nou maar koffie drink. Grotendeels want my drank is regtig klaar so ek val maar terug op wat beskikbaar is.
Riaan Coetzee
Kopiereg
23 Julie 2020
Kopiereg
23 Julie 2020
Comments