Dag 105 van die grendelstaat
Dekades gelede neem ek deel aan 'n hengelkompetisie by Klerksdorp se dam.
Daar was selfs 'n span uit Oostenryk gewees, as ek reg onthou 3 of 4 manne en dieselfde hoeveelheid vroue. Die een kêrel was groot. Regtig 'n baie sigbare Oostenryker. En 'n dors een op die koop toe.
Dit was meer 'n vriendelike kompetisie gewees, en die reëls is effe verslap om hulle vis metode, en gepaardgaande minimum grootte visse, toe te laat.
Dit was nogal 'n interessante spektakel gewees om dop te hou. Ons gooi pap daar van die dam se wal af in die diepwaters in en die lotjie vang met 'n tipe dobber met die oulikste ou klein hoekies wat jy al ooit gesien het. Ou grote sit kaalbolyf ondanks waarskuwings oor die Afrika son. Hy het daai aand die prys betaal vir slim wees!
Dit was 'n vloedjaar gewees, en die dam was tot oorlopens toe vol. Vloedwaters het in kolkende massas verby die wal gedeelte voortgevloei en alhoewel ons brawe gesigte opgedis het en aanhou vis het, het ons algar maar daai water met bonsende harte dopgehou.
Toe vang daai ou grote 'n baber. En is die man oorstelp van vreugde - sy span se eerste vis op SA bodem! Hulle omhels mekaar en dit lyk of hulle spontaan in bierfees liedjies wil uitbars. Soos vissermanne nou maar eenmaal maak, staan jy nuuskierig nader as jy agterkom iemand het nou 'n mooie uitgetrek. Grotendeels sodat jy jaloers kan raak. Ons koek toe ook om die man saam en wonder waar is die baber dan nou? Met 'n groot glimlag word sy hand uitgesteek en daar, verlore in sy handpalm, lê 'n baber. Maar nie enige een nie. Die kleinste lid van 'n 3 dag oue baber broeisel. Hy is so 'n ou kleintjie dat die arme ding deurskynend is. Amper soos daai neon vissies wat jy in jou tropiese vistenk aanhou. Hy was net nie neon nie. Babers droom net om neon te wees.
Ons is verstom. Ek meen, hoe bedoel meneer dan nou? Die vrederegters word ingeroep om 'n besluit te neem oor die ou se vissie, en na 'n kajuitberaad word besluit om dit toe te laat - dis 10 punte vir hulle. Elke vis tel 10 punte. In Oostenryk is sulke vissies nie kuikenmoord nie, dis klaarblyklik kompetisiewenners.
Net na hierdie opwinding kom 'n dam konstabel van die natuurbewaring afdeling in 'n boot op ons afgejaag asof die duiwel homself kort op sy gat is. Ons wil nog veg oor die feit dat hy ons lyne des moers jaag toe begin hy gil dat ons onmiddellik moet padgee, daar is glo 'n 4 meter wal water op pad in die Skoonspruit af wat die wal waarop ons nou sit heel uit die pad gaan vee.
Nou kyk, vissermanne en vroue is as 'n norm traag om op te pak want jy ontspan en jy wil nog nie huis toe gaan nie.
Daardie dag was daar geen sodanige probleme nie. Die damwal ontplof in 'n koorsagtige heen en weer stormloop met arms vol visgerei, lyne word eenvoudig geknip, alles word in voertuie en op voertuie gegooi in een paniekbevange groot trek. Op die koop toe, na al die reën die week, is die wal se agterkant en die area daaragter waar die voertuie geparkeer is snotglad van die modder. So elke afstorm kar toe met visgerei is 'n balanseer toertjie wat meeste van die tyd beteken jy gly op jou gat af, en elke opstorm vir meer goed is 'n uitmergelende bergklim moddermarathon. Maar ons wen en dit was nie 15 minute nie toe is die laaste voertuig met 'n gejuig daar uit nadat ons afgespreek het om Orkney toe te karring en daar in die Vaalrivier die dag se hengel voort te sit. Meer om die besoekers te trakteer as enige iets anders.
Daar aangekom is ons in by 'n oord en maak ons onsself tuis op die lieflike grasperke langs die rivier.
Stokke word haastig voorberei sodat jy ten minste 'n wegneem ete in die water het terwyl jy die modder van die res van die goed, en jouself, afwas. Ek sit 'n erdwurmpie aan die hoek, met 'n mieliebol om dit sodat net sy kop uitsteek en dip die spul in een of ander rooi konkoksie, en gooi in. Sit die stok sommer net op die voorste mik neer met die handvatsel op die gras, en begin die tweede stok voorberei. Die volgende oomblik gil die manne vir my dat my stok besig is om rivier toe te storm! Ek los alles en gryp vervaard en kap. Het hom!! Toe veg ek met die Mike Tyson van babers! Daai ou laat loop op en af in die rivier dat my visstok soos 'n sekel staan en kreun en ek vrees die lyn gaan dit nie hou nie. Die ander manne trek uit om my kans te gee want hy is die hele plek vol. Lyk amper asof hy Kersfees inkopies in Menlyn Mall doen.
Na 'n goeie 15 minute kry ek hom uiteindelik in die net en hy word met ontsag op die gras neergesit. Dis toe nie sommer net 'n baber nie. Dis 'n 12 kilogram baber en heelwaarskynlik die Oostenryker se deurskynende babertjie se oupa grootjie. Hulle het beslis na mekaar gelyk.
Daai besoekers raak mal. Hulle bestorm my van alle kante af dat ek dag ek is man alleen in 'n kroeggeveg op Loftus. Elke liewe een van hulle het vir foto's geposeer met my baber en elke dan en wan selfs onthou om my ook in die fotos te kry. En toe die hele span en hulle afrigter. Ek kan net hoor hoe hulle terug by die huis vir hulle vriende vertel het hoe hulle al om die beurt die baber gevang het. Seker heelpad op die vliegtuig terug sit en bespreek hoe hulle daardie visstorie gaan afspeel.
Tien puntjies vir my.
Ons het die heelmiddag en die aand met die groot braai gewonder of die damwal nog staan en hoeveel visse versuip het. Dit blyk toe dat die damkonstabel iets sterk gerook het want die 4 meter watermuur het nooit gerealiseer nie. Al daai moddertrappery was seker vir sy eie vermaak. Maar ek het nie gekla nie.
Hopelik het die deurskynende babertjie 'n lang en gelukkige lewe gehad daarna, met 'n storie om te vertel.
Stywe lyne.
Riaan Coetzee
Kopiereg
16 Julie 2020
Kopiereg
16 Julie 2020
Comments