Dag 111 van die grendelstaat

"Tik jy hom net?"
"Nee, ek doen nie. Jy moet hom indruk."
"Ah ek sien! Kom ons probeer."
"Is hy al in?"
"Amper..."
"Dit werk nogal as jy hom so 'n bietjie wikkel."
"Goed ek maak so.... daarsy!"
"Hy nou in?"
"Ja! Nou kan ons klaarmaak!"
"Sien, daai wikkel ding maak 'n verskil."
"Verseker, dankie!"
En ander gesprekke wat ek gereeld met kassiere by betaalpunte voer as hulle wil weet of my bankkaart een van die nuwe tipes is wat jy net kan tik teen die kaartmasjien.
As mens jouself nie kan vermaak nie, wie gaan dit vir jou doen. Meer nog in hierdie gekkeparadys waarin ons onsself bevind.
Ek is glo agter op die dae. Ek weet glad nie hoe nie en ek pleit afwesig. Selfs my kalender is deurmekaar, en hy is veronderstel om datums te verstaan.
So hier is ek by dag 111. Ek weet nie waar die res van julle is nie, maar sit solank en gooi 'n drankie in. Ek bedoel koffie, tensy jy nog pynappelbier het. Ek vermoed meeste mense het intussen opgehou daarmee want hulle is of gatvol vir die smaak of die babbelas wat die soet drank gee is te veel om te hanteer. Of hulle is al so professioneel dat hulle nie meer kan bekostig om op sosiale media daaroor te spog nie.
Dalk het die regering pynappels ook verbied.
2020 is so bietjie soos 'n stuk karringmelk beskuit wat jy in jou koffie wil doop. Jy sit hom in (nie alweer nie...) en wag dan vir presies die regte oomblik om hom uit te haal en op te tel tot by jou mond en die deurweekte stuk af te byt sodat jy dit genotvol kan verslind. Nes jy jou bek ooprek om daai happie te vat waarna jy so uitgesien het, breek die nat stuk af en val met 'n moerse plons terug in jou beker dat daar tot koffie teen die dak spat en jy sit en loer met 'n oophangmond na die droë stukkie wat verwese agtergebly het tussen jou vingers.
2020 voel regtig soos 'n "ag fok" oomblik wat nie wil ophou nie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
21 Julie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf