Dag 115 van die grendelstaat

Ek is gereeld dankbaar dat ek vandag nog springlewendig en gesond is.

En dit het niks met die virus uit te waai nie, alhoewel ek in daardie opsig ook dankbaar is vir gesondheid. Nee, dit het eerder te make met die hoeveelheid ongelooflike dom dinge wat ek al in my lewe aangevang het. Wragtag weet, dis slegs met 'n geweldige intensiewe poging deur my spirituele dier - Leila die beer, die geluksgodin en haar hele uitgebreide familie en 'n hele leërskare oorwerkte beskermingsengele dat ek vandag daaroor kan skryf en vir myself lag kry.

Dekades gelede ry ek die dag rond in 'n Ford met 'n witwakswarm 3 liter V6 enjin. Letterlik net besig om gat te skuur. Ek eindig in Mountain View op, 'n voorstad wat teen die hange van die Magaliesberg gevestig is. Wat beteken dis opdraande een rigting en afdraande anderkant toe.

Ek grom-grom stadig tot heelbo met die een straat en draai om dat die neus Suid wys, en die drie blokke tot onder lê afdraande voor my. Daar is twee strate wat Oos/Wes hardloop wat my straat kruis. Soos ek afkyk is die eerste kruisstraat 'n stopstraat vir aankomende Oos/Wes verkeer en die tweede een 'n blok verder af is die stopstraat myne.

Jongmanne in hulle 20's is mos maar vreeslik windgat en dink hulle is onsterflik en ek was geen uitsondering nie. Een van my stemmetjies vra my skielik wat se spoed dink ek behoort ek te haal in die eerste blok teen die tyd wat ek die eerste dwarsstraat kruis. Een van my ander stemmetjies laat nie op hom wag nie en voor Leila of die geluksgodin nog 'n vermanende woord tot die teendeel kan inkry lieg hy kliphard - "As jy nie ten minste 120 in een blok haal nie moet jy maar 'n tweedehandse Anglia koop."

By nabetragting kan ek duidelik hoor hoe die hele leërskare beskermingsengele snak na hulle asem en hulle oë rol.

Maar die stemme wen en en druk die rathefboom in eerste in terwyl ek die V6 se toere begin opjaag. Geen verdere denke of oorweging is nodig nie, hier is 'n uitdaging om uit te sorteer. Ek trek met skreeuende bande daar weg, die V6 sing soos 'n kanarie met 'n diep basstem. Ek hak tweede rat en die Ford beur met hernude ywer vorentoe, die versnellerpedaal is vas teen die vloer getrap.

Toe hak ek derde rat.

En skielik begin die stemme se aanmoediging vervaag soos wat die geluksgodin se skrilgeskreeude stem deur die geraas dring.

"Die dwarsstraat vorm 'n natuurlike ramp Riaan, en jy gaan hom tref teen die spoed van wit lig in drie, twee...."

Dit tref my soos 'n nat vis. Die dwarsstraat is inderdaad mos mooi horisontaal gegooi en die een waarin ek aftuimel soos Komeet Ford sluit by hom aan met 'n hoek, en daar waar die twee bymekaarkom vorm dit 'n oprit, of ramp in Engels, wat vir Evel Knievel aanloklik sou gelyk het! As jy natuurlik binne die spoedgrens ry maak dit beswaarlik saak. Maar as jy teen die tipe spoed beweeg wat ek het teen die tyd toe ek derde gehak het, beteken dit jy was laas halfpad deur die eerste rat deel van versnelling by die spoedgrens gewees. Dis natuurlik te laat, helaas, en nou is ek slegs 'n passasier in my eiegemaakte drama....

"Een....!"

Tref ek die dwarsstraat dat die onderstel sulke wit krapmerke op die teer los, en toe is die Ford 'n vliegtuig. Die enjin skree vervaard, want ek vergeet om die petrolpedaal te los. Ek klou krampagtig aan die stuurwiel vas, maar my gedagtes is so afwesig soos skelm politici in 'n tronk. Ek het nie eers tyd om bekommerd te word nie. Hier kom 'n oom in sy Toyota bakkie van voor af aan, sy gesig 'n wit kol soos hy uit die venster hang en opkyk na die spektakel van 'n Ford wat soos 'n Boeing op short finals in die ander laan by hom verbygevlieg kom. Sy mond vorm 'n perfek ronde O in sy gesig. Ek kyk af na hom toe, ons maak oogkontak. En ek glimlag.

Nee, moenie vra hoekom of waar dit vandaan gekom het nie. Dis iets soos dertig plus jaar later en ek weet steeds nie, maar ek is doodseker hy het daai storie by meer as een braai met groot smaak oorvertel.

Wat my red is dat die Ford presies reguit vlieg en glad nie skuins draai nie. Gravitasie is egter op Fords ook van toepassing so na die oomblik van oogkontak, kompleet met die nonchalante glimlag, trek ons weer grondwaarts en tref die teer met 'n slag. Ek het egter nie tyd om te dink oor die sukses van my vlug nie, want toe besef ek dat ek op die volgende dwarsstraat afpyl en hierdie is my stopstraat!

My voet is steeds loodswaar op die versneller, maar vinniger as 'n vuil gedagte wissel hy na die noodstop afdeling toe en ek trap die briek dat die are soos slange op my kuit bult. Die Ford se neus druk feitlik in die teerpad vas en die bande gil soos honger zombies. Die stopstraat snel nader terwyl twee pare Good Year bande met mag en krag veg om my betyds tot stilstand te dwing. Die dwarsstraat dra besige verkeer op 'n Saterdag oggend. As ek nie stop nie gaan daar groot moeilikheid wees.

Net voor die stop ruk ek die handrem amper tot onder my linkeroor op en draai die stuurwiel verwoed na regs. Die Ford, nou finaal bewus dat hy nooit bedoel was om te vlieg nie, doen 'n grasieuse 180 grade draai en ek kom tot stilstand in die ander laan met die neus wat terugkyk in die rigting waarvandaan ek gekom het.

Witblou rubberwolke dartel tussen die huise in en die reuk van brandende rubber hang swaar in die lug. Geskokte inwoners storm hekke toe om te kyk wat die onaardse skouspel veroorsaak het. Die V6 grom rustig voort asof dit net nog 'n dag se werk was. Ek sit hom maar weer in eerste en ry rustig deur die warrelende rubber rookwolke terug terwyl ek vir die mense waai. Nou moet 'n man maar enduit gaan met die opvoering!

By die einste dwarsstraat wat my die hoogtes ingeskiet het draai ek links en ry rustig weg van die toneel waar ek sopas oorleef het van iets so onnosel dat woorde dit nie werklik kan beskryf nie.

Maar ek maak net drie blokke, toe begin ek bewe en ek sukkel om asem te kry. Soveel so dat ek gedwing word om te stop en eers rustig te raak. Seker 'n goeie twintig minute later slaag ek daarin om veilig verder te ry. Ek wou nog nooit weer so iets aanvang nie, want elke keer as ek aan so iets dink sien ek hoe daai oom uithang by sy ruit en oopmond opkyk na my.

Maar ek is oortuig daarvan ek het verder in 'n Ford gevlieg as die Wright broers tydens hulle eerste vlug op 17 Desember 1903.

Riaan Coetzee
Kopiereg
26 Julie 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf