Dag 116 van die grendelstaat

Wat gaan die langtermyn impak van ons maskers en sosiale afstandhouding op ons wees?

Is ons besig om gewoond te raak daaraan om nie ons gunsteling mense gereeld te sien nie? Is ons besig om gewoond te raak aan die gebrek aan sosiale interaksie op persoonlike vlakke? Of is dit stadig maar seker besig om 'n belangrike deel van menswees te versmoor, en wat gaan die prys wees wat ons daarvoor betaal?

Dis die gedagtes wat in my kop rondflenter. Mense is van nature kudde diere. Verseker is daar diegene onder ons wat hulle eie geselskap verkies, ek self is baie lief daarvoor. Maar selfs die mees afgesonderde mense het ook nodig om met ander mense te konnekteer, interaksies te hê, aanraking te kry, sommer net mense vir wie jy lief is se gesigte en glimlagte voor jou te sien, hulle te kan druk as jy wil. Hierdie tipe aanrakings, persoonlike konneksies, interaksies is myns insiens uiters nodig vir balans in jouself.

En al wat ons al vir 4 maande lank doen is kommunikeer met elektronika. Ons kan video oproepe maak ja, en stemboodskappe stuur, en boodskappe tik, en kommunikasie is moeiteloos en maklik. Dis verseker. Facebook en Instagram en Whatsapp vergun ons die gerief van gereelde verbinding met mense wat punte tel in ons lewens net wanneer ons wil.

Maar lyftaal, wat die grootste deel van menslike kommunikasie uitmaak, ontbreek heeltemal. Die warmte van iemand se nabyheid, die fyn lagplooitjies wat sigbaar raak as iemand regtig lekker lag en jy is bevoorreg genoeg om dit in lewende lywe te kan aanskou, die hartseer in iemand se oë wat maar net nie opmerklik genoeg is met elektroniese kommunikasiemiddele nie. Die sagte aanraking van iemand se hand, die warmte van 'n kinderlyf wat langs jou kom sit en jou arm vasgryp en in jou oor fluister hoe baie hy jou mis. Die gevolglike gevoel van jou hart wat effe breek want jy voel ook so en hierdie verdomde grendeldrama gaan net nie weg nie en jy weet dat dit nog maande kan duur voordat daar enigsens 'n mate van normaliteit in terme van kuiers mag wees. Die lekker sit en saamgesels om 'n vuurtjie terwyl die vleis sissend gaarword op die kole. Die krag wat daar is in heerlike samesyn met mense wat vir jou belangrik is, die idee van net klim en ry en met iemand op wie jy vertrou te kan loop sit en jou hart uitpraat en julle kan mekaar se gevoelens beter verstaan want jy kan dit sien in oë en die trek van 'n mond, die manier waarop die persoon sit of staan - alles dinge wat versmoor word in die elektroniese proses.

Is hierdie wegkruipertjie besig om ons menswees vir ewig te knou?

Dit voel gereeld so. Ek mis my mense, my hart se punte, ek mis samesyn, ek mis kontak, ek mis gereelde drukkies, ek mis mense in die geheel. Maskermense is effe robotagtig. Hulle is oral om jou as jy in 'n winkel is, maar dis asof julle vir mekaar deur 'n tonnel kyk. Dis nie net die helfte van ons gesigte wat weg is nie, dis die helfte van ons persoonlikheid, die helfte van ons menswees.

En na 4 maande, dalk al die grootste deel van ons siele.

Dis die Masker Majuba van 2020.

Riaan Coetzee
Kopiereg
27 Julie 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf