Dag 108 van die grendelstaat
Amper praat die president weer vanaand met ons.
Dis nou as jy die boodskappe glo wat vervaard op platforms soos Whatsapp begin het en soos 'n veldbrand versprei het. Ek sukkel maar om te verstaan waarom mense steeds opgewonde raak daaroor. Ek meen, dis nie asof hy skielik gaan aankondig die hele grendelstaat word gestaak en al die skelm politici begin van more af tronkstraf uit te dien nie of hoe? Dit blyk egter onwaar te wees, so ons kan rustig raak en
'n brandewyn skink.
'n brandewyn skink.
Behalwe as jou brandewyn klaar is. Dan moet jy maar 'n dubbel skink van jou trane en dit meng met pynappelsappies.
Maak in elk geval nie regtig meer saak wat hy verkondig nie - die virus is steeds hier, die malligheid is steeds hier, die miljoene mense wat sonder werk sit is steeds hier, die nog meer miljoene wat tevrede moes wees met salarisverminderings is steeds hier, die regering is steeds onbeholpe en grotendeels gefokus op selfverryking, daar is nogsteeds mense wat 'n broekhoesie ontwikkel as hulle iemand sonder 'n masker sien, jy mag steeds 'n taxi volpak solank jy die venster oophou maar nie by jou geliefdes kuier nie, misdaad vier steeds hoogty en die polisie sluit steeds eerder gewonde sterflinge toe wat strand toe gaan as om regte misdadigers te jag.
En die minister met die hoed dreig steeds hoe hy ons sal toesluit as ons durf waag meer as 50 mense by 'n begrafnis is, maar as 'n hogere kameraad tot ruste gelê word mag daar maar 'n duisend kamerade bywoon sonder om toegesluit te word. Of eers gedreig te word.
Klink maar mistroostig of hoe?
Wel, dit is.
Dit maak nou nie saak hoe jy die bal speel nie, die prentjie is donker.
Suid Afrikaners leef eintlik al dekades lank in 'n unieke SA weergawe van 'n grendelstaat. Dink daaroor - ons huise lyk soos maksimum sekuriteit tronke, met alarms en ligte en honde en elektriese heinings en kameras en altyd 'n onderlangse vrees vir die onbekende. Die onbekende is in hierdie geval net 'n misdadiger wat ewe gewetenloos as 'n virus toeslaan en hartseer en verdriet agterlaat as hy vort is. So ons is nie werklik heeltemal nuut in hierdie grendelstaat idee nie, daar het bloot net nuwe vlakke bygekom.
Dit behoort ons moed te gee deur die hartseer en woede en gepaardgaande emosionele skade. Want ons leef al so lank met hierdie emosies en effekte saam, en steeds oorleef en oorwin ons. Na regte behoort die Covid grendelstaat eintlik net nog 'n spoedhobbel op ons paaie te wees. Die keuses wat ons uitoefen in die verband gaan uiteindelik bepaal of ons, wanneer hierdie spesifieke malheid die dag finaal as geskiedenis beskou kan word, sal floreer of verdor aan die wingerdstok.
Dalk moet ek nie vergelykings gebruik wat moontlik aan alkohol gekoppel kan word nie.
Ons behoort heelwat tyd hieraan te spandeer, heelwat tyd te spandeer aan aktiwiteite wat ons kalm maak. Aktiwiteite wat ons gelukkig maak. Aktiwiteite wat ons aandag aflei van die modderpoel waarin ons spartel. Want as ons toelaat dat al hierdie negatiwiteit ons bestaan oorneem, as ons toelaat dat ons aandag so ten volle daarop gevestig bly dat ons later nie meer in staat is om die mooi in enige iets raak te sien nie, dan gaan ons die groot verloorders wees. En bly.
Nieteenstaande alles wat heeldag dreig om ons te verswelg is daar steeds soveel dinge om voor dankbaar te wees. Ons moet fokus daarop, en dankbaar bly daarvoor, en ons moet aktief dinge uikrap wat ons lekker kan laat lag. Ons moet fokus daarop om nie toe te laat dat die media en sosiale media se slegte nuus tsunami ons verswelg nie. Ons skuld onsself dit.
Ons skuld ook die volgende geslagte dit - sodat ons eendag vir 'n nuwe generasie kan vertel hoe erg hierdie ding was wat ons so uit die niet uit getref en ons hele wêreld oornag omvergewerp het.
En hoe ons dit uiteindelik nie net oorwin het nie, maar gefloreer het.
Riaan Coetzee
Kopiereg
19 Julie 2020
Kopiereg
19 Julie 2020
Comments