Dag 117 van die grendelstaat

Dag 117 van die grendelstaat

Dis net voor middernag. Dis doodstil. En ek het 'n kriek in my kamer.

Ek sukkel om my brein afgeskakel te kry. Mens neem soveel in deur die dag, bo-en-behalwe werk verbonde inligting. Hier word gebrand, daar word vermoor, hier word gelieg, daar word gesteel, hier is mense wat jy ken, familie, siek met Covid, daar veg iemand vir oorlewing want inkomste is min tot niks. Liewe magtag, 2020 is regtig die prostaat ondersoek jaar maar die KY is klaar. Dis harde werk om al die goed lank genoeg eenkant toe te skuif sodat jy immers net 'n kans staan op ongeveer 5 ure se ononderbroke slaap.

Doer aan die begin van die inkerkering was die stadstilte oorverdowend. Stadsmense is 'n permanente agtergrond kakofonie van geraas gewoond. Dis die agtergrondmusiek in die Jazz kroeg wat ons 'n stad noem. Daarsonder voel jy effe ontuis, alhoewel dit ook lekker is. Dis net so vreemd. Ons het dit net begin gewoond raak toe hef die regering die aandklokreël op en skielik voel die geluid van verkeer na donker weer vreemd uit plek uit. Dis steeds 'n bietjie van 'n verassing om 'n vliegtuig te sien oorvlieg. Hoe dit ookal sy, ons het net weer die nagtelike meganiese agtergrond koor begin gewoond raak toe is die aandklokreël weer met ons.

Skielik is die nagte weer doodstil en ons leerkurwe begin van nuuts af. Weg is die agtergrondmusiek, vervang met 'n dawerende stilte. Hierdie keer egter voel die stilte vir my soos 'n indringer. Soos onkruid. Dis nie meer lekker nie. Dit versinnebeeld die stille noodkrete uit miljoene honger, depressiewe, moeë, gatvol, stukkende mense wat deur die virus of die gebreekte ekonomie tot stilstand geruk is. Dit voel soos 'n swaar roukleed.

Dis seker hoekom dit klink of die verdomde kriek onder my kussing sit en tjir. Dalk tjir hy harder as gewoonlik omdat selfs hy die stilte aanvoel en probeer kompenseer. Dalk tjir hy vir my 'n wiegielied, sy kriek poging om my aan die slaap te sus. Dis dalk 'n stukkie geskiedenis wat hom hier in my kamer afspeel - die wêreld se heel eerste omgee kriek. Wat my aan die slaap probeer tjirrrr dreunsang...

"Thula thul, thula baba, thula sana,
Thul'u babuzo ficka, eku seni.
Kukh'in khan-yezi, zi-holel' u baba,
Zim-khan yi-sela indlel'e ziyak-haya,
Sobe sik hona xa bonke be-shoyo,
Be-thi bu-yela u-bu-ye le khaya,
Thula thula thula baba,
Thula thula thula sana,
Thula thula thula baba,
Thula thula thula san.

Keep quiet my child
Keep quiet my baby
Be quiet, daddy will be home by dawn
There's a star that will lead him home
The star will brighten his way home
The hills and stones are still the same my love
My life has changed, yes my life has changed
The children grow but you don't know my love
The children grew but you don't see them grow."

Daar is iets gerusstellend aan my kriek se stem. Iets standvastig in 'n tyd van reuse verandering. Dit laat my glimlag.

Thula thula thula baba...

Riaan Coetzee
Kopiereg
28 Julie 2020



Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf