Dag 107 van die grendelstaat

Etlike jare gelede ry ek een middag deur een van Pretoria se gegoede woonbuurte. Groot, weggesteekte huise agter hoë heinings, die reuk van geld wat aan jou kleef as jy daar verbyry.
Of skuld, helaas.
Midde in al die prag en praal ry ek verby 'n boemelaar. Wat my dadelik opval is dat hy nie by 'n kruising staan waar jy as 'n norm 'n bedelaar sou verwag nie. Dit maak tog net sin om te bedel wanneer voertuie, en dus potensiële skenkers, stilstaan. Nee, hierdie man staan in 'n voorstedelike pad, langs 'n spoedhobbel wat verkeer se spoed moet binne perke hou. Billik, maar met daardie doelwit as oogmerk eenvoudig nie prakties nie. Die enigste voertuie wat stop by spoedhobbels is peperduur Ferrari's en tweedehandse BMW's met bulderende uitlaatpype en onderstelle wat so laag gestel is dat die voorligte amper aan die teer raak.
Die ander ding wat hierdie boemelaar dadelik anders maak is die feit dat hy 'n handgeverfe teken in sy hand rondswaai wat eenvoudig net sê "smile". Dit verskil daarwerklik van die gebruiklike aanslag wat oor die algemeen eindig met "Die Here seën U."
En hierdie boemelaar staan en wuif vir algar wat verbyry, wys wild na sy bordjie en lag dat jy net vuilwit tande sien onder die nie te skoon week oue baardstoppels.
Hy kry beslis reaksie. Goed die helfte van die voertuie wat hom sien toet vriendelik en wuif. Die ander doen wat ons maar omtrent almal as gesoute bedelaar ontwykers doen. Kyk stip voor hulle en ry vinnig vort - net ingeval hy eintlik met 'n set besig is en geld soek. Mens raak mos afgestomp as jy letterlik by elke kruising bedelaars moet trotseer. Dit help nie jy probeer jouself oortuig dat dit nie die geval is nie.
Ek voel genoodsaak om te stop. Ek wil graag meer weet, hierdie man prikkel my nuuskierigheid. Soos ek na hom toe aangestap kom begin hy reeds vir my waai en hy lag 'n kekkellaggie - "Hallo Meneer, glimlag!!" roep hy in my rigting. Ek doen, onwillekeurig. Sy laggie en sy humorsin is aansteeklik.
Ons skud blad. Sy vuil hand wat dae laas water gesien het rus skurf in myne.
"Vertel my nou eers jou storie ou vriend" vra ek. "Ek het nog nooit in 'n boemelaar vasgeloop wat net wil hê ek moet vir hom glimlag nie."
"Ke ke ke ke ke" lag hy weer.
"Meneer kan nie stry nie, as jy eers reggekry het om behoorlik te glimlag is dit moeilik om in te gee aan die negatiewe dinge wat die lewe oor ons pad bring."
Ek staar stip in sy oë. Vader alleen weet wat in sy lewe skeefgeloop het om hom tot op hierdie punt te kry. Ek gaan ook nie vra nie, tensy hy aanbied. Sy oë is diep poele waarin ek baie hartseer sien. Maar daar is ook baie lag, en die diep plooie om sy oë en mondhoeke is nie net 'n padkaart van sy lewe nie, dis ook lagplooie. Hierdie man lag baie, dit wys in sy siel se vensters.
"Meneer ek het al lang paaie gestap, fok weet. Ek het niks behalwe die klere aan my lyf en die paar goedjies wat ek kan saamdra nie. Maar meneer, ek lag in elk geval. Ek lag vir die lewe, ek lag vir die swaar, ek lag want dit laat my vergeet van dinge. En ek kry mense om saam te lag, dit laat hulle beter voel, dit laat my beter voel. Lag is goed meneer, lag is hoe die Here mens gesond hou."
Ek kan voel hoe my emosies oorkook. Hier staan ek en ek weet hoe gereeld loop ek met 'n nat handdoek oor my gemoed rond vir my eie probleme. En hier staan hierdie vuil, honger, uitgeteerde boemelaar en leer my hoe baie ek het om voor dankbaar te wees.
Ek gee hom 'n druk al ruik hy redelik sterk na min was, en bedank hom uit die diepte van my hart vir die wonderlike les wat hy my vandag geleer het.
My siel voel lig en ek ry met 'n glimlag daar weg.
Engele kom in allerlei vorms.
RIaan Coetzee
Kopiereg
18 Julie 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf