Dag 68 van die grendelstaat
Iemand vra my of ek nie 'n dag agter is nie.
Ek weet nie. Ek het lank terug ophou tel, ek probeer net min of meer byhou, nes ek probeer min of meer nie gek word nie.
So dalk is dit al dalk 69, dalk is dit al dalk 70. Dalk is dit dag 700. Wat dit baie beslis is, is nog 'n dag. En ek weet ek sien uit na dag 69 al kan ek nie onthou hoekom nie
En wat 'n heerlike dag is dit nie! Perfekte winterweer. Effe koue oggende en aande, heerlike sonskynweer deur die dag. Gauteng is mos nie op sy mooiste in die winter nie met die meestal blaarlose bome en vaal gras en velde oral. Maar laat niemand sê die weer is nie briljant nie!
Dis vir my hartseer en onrusbarend om te sit en toekyk hoe Amerika verval in 'n siklus van haat en geweld. Mens kan weke lank oor potensiële redes redekawel maar dit is absoluut nutteloos. Tensy jy dit geniet om jou bloeddruk deur die dak te laat styg. Wat vir my belangrik is, is dat ek regtig hoop hulle kan 'n pad vind deur hulle moeras en sterker anderkant uitkom. Dit is moeilik om heeltemal te ignoreer wat daar aangaan synde dit die mees sigbare huidige media inisiatief is.
Dit laat my beslis net wonder hoe gerieflik die hele bly tuis, hou sosiale afstand ding van die afgelope maande vergete geraak het die oomblik toe massaprotesoptogte begin het. Selfs die media wat ons al vir so lank hamer met hierdie boodskap het klaarblyklik nou daarvan vergeet. Bly Covid eerder self weg waar genoeg mense bymekaarkom en die gemoedere hoog genoeg loop? Indien wel kan die rugbyseisoen mos afskop - het julle al gesien hoe de moer in raak die mense op die pawiljoen vir 'n skeidsregter?
Daar is darem vir Amerika se donker wolkie 'n sigbare goue randjie. Die Suid Afrikaanse regering wil manmoedig hulle neuse in die Amerikaners se doen en late steek en hulle stem dik maak. So die einde is in sig. Amerika behoort binnekort soos 'n tipiese SAA uit die as van hulle eie doemvure te herrys. Pravin werk glo reeds daaraan.
En as hulle nie mooi oplet in die klas nie mag hulle eersdaags ook nie rookgoed koop nie. Daai antie vat nie prisoniere nie.
Ek vind dat ek onwillekeurig steeds my rum wil laat langer hou deur halfsopies te gooi. Ek is in elk geval 'n ligte drinker so een elke paar dae is maar my styl, maar ek moet myself herinner dat dit in orde is om darem 'n volle enkel in te gooi of, as ek nou wragtag die hoofrebel in my eie verhaal wil wees, 'n dubbel!
Ek het gister, na ek met myself moes praat oor daai halwe enetjie, opgeëindig met 'n dubbel. Nie beplan nie, meer die eindresultaat van gooi nog bietjie by. En nog bietjie! En ag wat de hel, nog bietjie! Uiteindelik was dit 'n sterk dubbel. Toe ondervind ek vir etlike sekondes 'n beklemming om die hart want wat gebeur as dit te gou opraak?? Gelukkig het ek vinnig onthou dis vlak 3 of iets en alles is dus in orde, ek mag weer koop sonder om met 'n kriminele rekord op te eindig.
Maar kom ek bieg nou maar - daai polisiekoffie was sterk! Bliksem.
Toe ek die stuk beskuit nader beweeg pass hy sommer uit in my hand.
Die hof het die regering se gat warm geslaan oor hulle metodiek van Covid bestuur. Hulle kan erg bly wees die regter was nie my destydse tegniese onderwyser nie. Ou Paal sou hulle laat haaks staan het met hulle koppe onder die swartbord se krytrakkie en hulle met sy berugte plank gewetter het dat hulle ogies so rooi soos politieke oorpakke raak. Hulle behoort dankbaar te wees.
Verwag egter dat die antie met die kopdoek haar gat gekrul gaan kry en met 'n haakhou uit die dekveld gaan terugkom om ons te wys wie is in beheer. Dalk moet ons maar nog drank loop koop voor sy ons verras.
Met petrolpryse wat nou weer hoog styg toe hulle besef het meer mense ry weer rond, moet mens dalk permanent van die huis af werk.
Dan kan jy jou dubbelkajuit inruil vir drank.
Reël net met jou buurman om jou te kom oplaai by Tops.
Riaan Coetzee
Kopiereg
4 Junie 2020
Kopiereg
4 Junie 2020
Comments