Dag 70 van die gendelstaat
Kreef pastrami, Simba Chips Soufflè en kolgans kolwyntjies.
Dis wat gebeur as jy aanbied om my te leer kook en ek vertel jou van my unieke resepte wat jou horisonne gaan laat verstar soos 'n haas in die kollig.
Want verbreed die gaan dit nie. Maar pret né, die gaan ons verseker hê wanneer die storie verby is en die res van ons gewone sterflinge mag weer saamkuier in plaas van net betogers in Amerika.
Die goewerment gaan appèl aanteken. Groot verassing. Hulle teken so gereeld appèl aan dat mens begin vermoed hulle is in die tertbedryf. Appèlterte met 'n effe korrupsie nasmaak. Heerlik as jy swak resepte waardeer.
Die antie eerste minister heerser oor vele en rookbevegter van formaat reken glo hulle moet bly met die rookverbod al seg die hof ook wat. Karl Marx sou trots gewees het. Rokers is teen die tyd of nie-rokers, of heeltemal platsak, of so gewoond aan perdedrolle en rooibostee zolle dat die groot sigaretmaatskappye se dae waarskynlik permanent getel is. Sy wen en swaai haar kopdoek van vreugde.
Daar word al maande lank bespiegel oor 'n antivirus vir die virus. Terwyl joernaliste elke uur van elke dag vir ons vertel om tuis te bly, sosiale afstand te behou, maskers te dra en sodoende lewens te red word daar gespook deur die wêreld se voorste medici en wetenskaplikes om die virus se gat geskop te kry.
Oornag egter het die vindingryke Amerikaanse burgery sommer die probleem opgelos en sederdien het selfs die joernaliste besef die stryd is gewonne. Die virus is verslaan. Niemand het meer iets te sê oor tuisbly en lewens red en sosiale afstande nie.
Al wat jy nodig het is etlike honderde duisende vreeslike de moer in mense wat die strate invaar met dreunsang en slagspreke skree en hier en daar 'n polisiekar brandsteek om die virus in die vlamgloed te verblind. En siedaar. Dis gedoen. Wie het nou al die slim wetenskaplikes nodig?
Reël net optogte, die virus is te bang om daarmee te heul.
My beker van dankbaarheid loop oor.
Ek is amper so dankbaar soos die oggend in Timbavati toe die twee maanhaarleeus aan my tent gestaan en snuif het. Ek was nie dadelik dankbaar nie, eers toe hulle uiteindelik aanbeweeg het sonder om te proe of ek lekker is.
Ek word wakker in my pampoententjie toe 'n leeu brul. Seker so 2 uur die oggend. Maar nie brul doer nie. Nee. Brul hier! Langs my in my tent. Stel dit so, as dit 'n tweemantent was en nie 'n eenmantent nie, was ons saam in die slaapsak. Ek skrik vir my dat ek skoon 'n wind laat. Die leeu moes gedink het dis kompetisie want hy begin vervaard grom en sy boetie kom nadergestorm om te kyk wat aangaan.
Nou is daar twee van hulle buite, teen my tent. Ek kan hulle hoor asemhaal. Ek hoor hulle voetval soos hulle om die tentjie stap, heeltyd ruikend om te probeer verstaan wat se prooidier poep so stink.
Ek lê hinderlaagstil in my slaapsak en haal beswaarlik asem. Een van hulle, of albei, ruik aan die tent se gulp. Op en af en weer terug. Ek dink so by myself as hy daai ding oopgetrek kry vanaand gaan ek gil dat Skukuza se hoofveldwagter my hoor, ek sweer. En dis ver van Timbavati af!
Een kom stop hier reg langs my. Ek veg teen 'n drang om die leeu deur die tent teen sy gat te klap. Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie maar skielik wil ek lag omdat ek in my geestesoog kan sien hoe hy so bietjies-bietjies piepie van skrik. Net voor hy omdraai en my kersie uitblaas.
Ek lê nog so en veg teen hierdie absurde drang toe word die toneel skielik verbreek met 'n skreeu van my vriend se tent af, seker so 'n goeie 30 meter weg.
"Sing vir hulle iets, hulle geniet musiek!"
"Kwaaaaaaaaaaaa!" brul hulle albei tegelyk hulle verontwaardiging ten hemele.
"Ooooo fooooooooook!!!" flits die woorde op my grafsteen deur my gedagtes.
"Ha ha ha ha ha ha ha" kom 'n laggende stem uit die donker aangesweef. Ten minste dink iemand sy eie grappie is snaaks. Toe dit stil raak, die leeus moes seker erg kopgekrap het oor die gegiggel, plof hulle altwee net daar langs my neer. Ek hoor hoe hulle mekaar se gevrete skoonlek. Een poep. Toe voel ek sommer dadelik meer tuis.
Ja, ek het 'n leeu gehoor poep. So wys my jou buffelvangery en ek lig jou 'n leeupoep.
Skaakmat.
En toe wil ek piepie. Die paniek druk my blaas soos 'n ystervuis. Ek het nog nooit so geknyp nie. Die trane loop later oor my wange, so hoog is die watervlak. Genadiglik, uiteindelik, besluit die twee here hulle het klaar gerus, dis tyd om verder te patrolleer. Hulle pote sleepklap die donker in en die sware leeu asems vervaag tot doodse stilte. Dis asof die hele Timbavati asem ophou om te kyk of ek lewendig daar gaan uitrol.
Ek doen. Maar eers omtrent 'n verdere 15 minute later, toe ek seker was hulle is regtig weg. Toe merk ek my gebied dat daar sulke manlike skuimbolle om die bome rondlê, want ek is mos braaf!
Toe vloek ek eers die laggende kampkomediant lank en aanhoudend. Wat hom net meer laat lag het.
En dis omtrent op daardie oomblik wat die dankbaarheid waarna ek verwys het my oorval het.
Riaan Coetzee
Kopiereg
5 Junie 2020
Kopiereg
5 Junie 2020
Comments