Dag 63 (a) (iivxii) of iets van die grendelstaat
Ou Julius het weer sy stem gevind! Nou kan dinge weer normaal raak. Dankie tog.
Amerika brand. Vuurgloed so rooi soos EFF oorpakke verslind hulle besighede. Trump vat sosiale mediaplatforms aan. Minister van "Nie Eers Die Braai Mag Rook Nie" het glo vir ons gelieg.
FITA verklaar dat die syfers in haar responderende dokumentasie in die hofsaak wat hulle teen haar aan die gang het, noem dat daar maar slegs 1535 voorleggings was en nie die 2000 waarna sy verwys het toe sy die vorige keer vir Suid Afrika in kennis gestel het dat ons van nou af slegs bokdrolle, rooibostee, leë pype en haar konneksies se sigarette mag rook nie. Ons mag wel hulle onwettige gifpyle rook maar ons mag dit nie koop nie. Of ons mag dit nie op die strand verkoop nie. Of nee wag - jy mag nie die onderduimse sigarette saam met jou branderplank verkoop nie. So iets, dit baie moeilik om by te bly.
In my dae was die fieta's die manne met die olierige lang hare en moue wat halfmas opgerol is om hulle arms met die hempkraag oop tot daar waar borshare verwar word met, sal ons maar sê, ander hare sodat al 5 dik goue kettings sigbaar is. Hulle het leerbaadjies gedra en brullende V8 gevaartes gery, of Suzuki Katana's met uitlaatpype wat geen klankdempers ingehad het nie. Nou is dit groot besigheid - maar dit rook darem nogsteeds.
As die voorleggings wat niks met sigarette uit te waai het nie en die wat ten gunste van rook daarvan afgetrek word, was daar maar 'n skamele 454 voorleggings wat ten gunste was dat die verbod moet voortgesit word.
As jy die som met 'n sakrekenaar uitwerk is dit 'n moerse verskil teenoor haar 2000 en blyk dit dat sy die waarheid so effe aangepas het. Mens wil nou nie sommer net die lieg woord staan en bloots ry nie. As jy egter die som in jou kop uitwerk en jy trek vierhonder fyftu, nee vuivt... nee man! Vierhonderd vier en vyf en tag en twee duisend af van haar tweeduisend blyk dit dat daar soveel voorleggings was wat ten gunste was dat die verbod voortgesit word dat sy in elk geval nie korrek was nie. Inteendeel, haar skamele tweeduisend blyk hopeloos te min gewees het en dat al elf miljuisend miljoen watookal rokers 'n eie doel aangeteken het en aangedring het dat sy hiermee voorgaan.
Wat het julle besiel mense?
Gelukkig vir julle het BAT uiteindelik weer besef hulle het 'n ruggraat, al is hy geweldig diep weggesteek, en gaan nou weer volstoom aan met hulle regsaksie teen die agbare minister.
Hulle gaan mekaar aanvat tot die rook draai.
Ons mag steeds nie ons vriende en familie sien nie. Aldus een minister. Die een wat daai hoed dra. Hy reken mense wat hulle vriende en families besoek is sommer net besig om te gradueer om bankrowers te word en behoort geskop en gedonnor te word. Die ander minister, die een wat glo in die President se kantoor werk, reken weer ons mag. Maar net as hulle om die hoek bly. As hulle in 'n ander dorp of provinsie bly mag jy hulle net Zoom, en ook net as julle almal maskers dra. Net ingeval die virus die Zoom vergadering wil bywoon. Mens weet nooit met hierdie virusse nie. Ek meen, hulle lê ons hoeka al van die begin af op strande voor en slaap laat terwyl ons geoefen het tussen 6 en 9 in die oggende.
Die Japanese bring darem bietjie verligting in hierdie tye - hulle het wragtag 'n opblaasbromponie ontwerp, die Poimo, wat in jou rugsak pas. As jy bietjie wil resies jaag teen al daai verpestelike brullende gevaartes en hulle wil wys waar het Dawid die karton Stuyvesant begrawe, dan haal jy hom net uit, hy blaas op, en siedaar. Jy ry soort van op jou eie lugsak rond. Ek wonder net of dit gaan aanleiding gee dat mense jou 'n windgat gaan begin noem, met al daai lug onder jou.
Die goeie nuus is dat ek uiteindelik gesorteer is vir my middelvinger gesigmasker, en die in volgende week sal ontvang. Nou sien ek ook uit om masker te dra.
Riaan Coetzee
Kopiereg
29 Mei 2020
Kopiereg
29 Mei 2020
Comments