Dag 64 van die grendelstaat

Wees versigtig as jy tunaslaai maak voor jy heeltemal wakker is.
Nee, die blik het my nie gesny nie. En dit was tuna. Ek het dit in 'n bak uitgegooi, asof van nêrens af het daar 'n eetlepel mayonnaise in beland, en 'n gekookte eier wat fyngekap is. Net omdat ek kon.
Toe loop kry ek die pakkie klein uitstal tamatietjies en besluit om hulle sommer heel in te gooi synde dit altyd 'n avontuur is om sulke klein tamaties te sny. Dus word daar toe 'n handvol bygegooi en heel in my skik met myself meng ek die lot deurmekaar en gryp die naaste lepel om die eerste mondvol te proe.
Alles proe heel skaflik tot die tamatietjie in my kies knars. Want die smaak was effe anders as jou tipiese tamatiesmaak.
By nadere ondersoek blyk dit toe dat ek die druiwe gebruik het.
Dit is belangrik om eers wakker te word en dan tunaslaai te maak.
Sover was dit 'n kookmeesterstuk naweek. Gisteraand het ek uitgevind dat jy beslis sampioene so kan braai dat dit nie net lyk soos rosyne nie, dit proe ook soos plastiek.
Dit help nie jy vra my die resep nie. Ek weet nie eers hoe ek dit reggekry het nie, behalwe dat ek dit goed gedoen het. Daar was rook. Hoe het jy dit geweet??
Gepraat van rook - ek sien een of ander slimjan beweer hy kan glo help met rookgoed. Sy buurman wil blykbaar sy Ford Ranger verkoop.
My bure het 'n braai aan die gang. En ek het hulle nie verklik nie. Ek daal vir niks so laag nie. Inteendeel, dit klink vir my soos die tipe normaal wat ek so verskriklik mis. Ek het geen idee of hulle gaste ook het en of dit net hulle groot gesin is nie. Ek gaan ook nie kyk nie. Hulle speel Jolene van Dolly Carton kliphard. Ek meen Parton. Skuus, die arme rokers wat so wroeg het duidelik 'n impak op my.
Die musiek klink fantasties. Ek hoop hulle gaan tot middernag aan. Hulle lag en gesels en nou sing Neil Diamond van die ouman wat dood is en niemand het gehuil nie. Hartseer dog pragtige lirieke wat so goed inpas by hierdie droewige tyd.
Dankie buurman. Ek hoop julle geniet elke oomblik. Ek weet ek doen hier waar ek julle lag kan sit en aanhoor. Julle braai is vir my siel net so goed as wat dit vir julle s'n is.
Het jy agtergekom hoe ongemaklik mense deesdae is wanneer dit kom by die oomblik van fisiese aanraking as jy groet? Twee maande gelede was 'n handdruk of drukkie so normaal soos asemhaal.
Skielik kan jy in mense se lyftaal sien hoe onseker hulle is wanneer jy groet. Moet ek sy hand skud? Moet ons mekaar druk? Gaan hy my uitskel as ek dit wil inisieër? Gaan hy die polisie bel? Ek weet nie werklik hoe om dit te hanteer nie. Dis ongemaklik en onaangenaam. Dis nie my nuwe norm nie. Dis 'n onding. Virus of nie virus nie. Ek wil jou hand skud of jou 'n drukkie gee. Nie half verleë vir mekaar staan en kyk en dan ongemaklik die gesprek in 'n ander rigting stuur sodat beide van ons kan voorgee dit het nie gebeur nie.
Ek kan nie daardie as my norm aanvaar nie. My hele wese veg daarteen.
Ek dink tog ek gaan oor die muur hang en Neil Diamond saam met die bure sing. Kliphard, nie te goed op die wysie nie en moer vals. En lekker, so 'n diep lekker wat ons harte in ons borskaste gaan laat bokspring soos wat dit tot ons deurdring - ons leef. En dis wonderlik.
Ek het 'n gevoel ons gaan dit nie gou vergeet nie.
"Morningside
The old man died
And no one cried
They simply turned away
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
"For my children"
Morning light
Morning bright
I spent the night
With dreams that make you weep
Morning time
Wash away the sadness from these eyes of mine
For I recall the words an old man sighed
"For my children"
And the legs were shaped with his hands
And the top made of oaken wood
And the children that sat around this great table
Touched it with their laughter
Ah, and that was good
Morningside
An old man died
And no one cried
He surely died alone
And truth is sad
For not a child would claim the gift he had
The words he carved became his epitaph
"For my children"
- Neil Diamond
Riaan Coetzee
Kopiereg
30 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf