Dag 65 van die grendelleeftyd

Dit voel letterlik al soos 'n leeftyd.
Dis soms moeilik om terug te dink aan die tyd voor hierdie ding alles kom verander het. Dis moeilik om te dink dat ons vry kon rondbeweeg, by vriende kon kuier, jou hond vat vir 'n stappie, strand toe gaan, branderplank ry, in jou kompleks rondloop of drank en sigarette koop as jy 'n roker is, sonder om met 'n beklemming om die hart oor jou skouer te loer of daar dalk 'n polisieman naby is.
Dis moeilik om te dink daar was 'n tyd waarin ons gereeld moes aanhoor dat daar nie genoeg vervoer was vir polisiepatrollies of reaksie nie maar nou sien ons gereeld hoe 'n hele vloot voertuie asof uit die niet opdaag om nog 'n balhorige branderplankryer te wys waar Dawid die wortels begrawe het.
Of te wonder watter buurvrou in die straat of kompleks gaan of vir jou gil dat jy besig is om te oortree of jou hoogdawerend inlig dat jy nie jou masker dra nie. Veel erger nog, die polisie bel en soos 'n wafferse KGB informant vir jou 'n swerm vangwaens en 'n kriminele rekord reël. Net omdat hulle kan, net omdat hulle nodig het om goed te voel oor hulleself, en waarskynlik omdat hulle bloot net die tipe mense is wat absolute plesier put uit hierdie verwronge "magsgevoel" en hulle verlustig in ander se ongerief en leed. Dis moeilik om te aanvaar hoe gerieflik sommige mense hierdie rol omarm.
Na meer as twee maande voel dit asof daardie tye bloot net in ons verbeeldings bestaan het.
Ons weet steeds nie werklik wanneer skole oopmaak nie. Dit sou 1 Junie gewees het. Nou is dit klaarblyklik 8 Junie. Maar die jurie is steeds uit terwyl nog 'n onbeholpe minister wanhopig poog om uit te werk watter dag vandag is.
En intussen verloor miljoene kinders 'n skooljaar, want nie almal is bevoorreg genoeg om die elektroniese toegang te hê wat tuisonderrig bevorder nie. Terselfdertyd veg ouers met hulle gewetens. Hulle wil bitter graag hê hulle kinders moet terug skool toe maar hulle het hewige twyfel oor hulle veiligheid. Dit is nie 'n goeie plek om te wees nie. Ek beny niemand hierdie wroeging nie.
Is dit net ek wat permanent loop en wonder wanneer hierdie nagmerrie einde kry?
Intussen sit ons maar hier in die ry voor Tops en drink koffie sommer direk uit die fles uit in 'n wanhopige poging om warm te bly. Dit verg toewyding om drank te koop wat nie onwettig is nie hoor! Teen die tyd wat hulle deure oopmaak gaan ons brandewyn teen koffie temperatuur drink en eers teen Woensdag weer mens raak.
Teen eerskomende naweek is ons karige drankbegroting waarskynlik weer klaar en dan moet pynappels weer ligloop!
Heelwat van my vriende het my begin nooi om kerkdienste oor die volgende paar Sondae by hulle huise te kom bywoon. Ek moet glo net my eie vleis bring.
Ek bedoel kollekte!
Riaan Coetzee
Kopiereg
1 Junie 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf