Dag 66 van die donnerse grendelstaat
Mal. Maller. Gekste.
Die wêreld op 1 Junie 2020.
Amerika brand. Die president is glo in sy versterkte bunker en die oproeriges probeer inderhaas 'n baksteen ontwerp wat dit kan penetreer.
Terwyl hulle hiermee besig is, het 'n oud Suid Afrikaner 'n maatskappy opgebou wat 'n vuurpyl ontwerp het wat nou ook mense die ruimte in kan neem. Dis weereens 'n bewys dat positiewe, opbouende aksies altyd beter uitkomste bied as negatiewe, afbrekende, destruktiewe aksies. Hulle wat oorlog maak teen ander het geen vrede in hulleself nie.
Wanneer gaan ons tog hierdie les leer?
Een moontlike voordeel hiervan is dat gimnasiums en haarsalonne in die VSA sekerlik ook nou maar kan oopmaak - ek meen, as dit in orde is vir honderdeduisende betogers om bymekaar te kom mag die fris Chrisse en die fikse Frieda's tog ook seker hulle gunsteling aktiwiteite beoefen of hoe?
Op die tuisfront het antie Zuma, ons eie kampkommandant, glo gelas dat huilery by begrafnisse dalk verbied mag word. Trane kan verdamp en die virus makliker versprei. So van nou af mag ons net begrafnisse bywoon van mense van wie ons niks gehou het nie. Sy beweer ook hulle is besig met 'n waterdigte plan om te verhoed dat enige Suid Afrikaner ooit weer sterf. Ons weet hulle is die meesters van organisasie, so ek gaan vanaand heerlik slaap wetende dat ouderdom nou nie meer 'n probleem is nie.
Ons gaan dus nou almal Highlanders word soos in die 1986 rolprent met Christopher Lambert. Ek soek net 'n moerse swaard asseblief.
Soos verwag, het hordes drankwinkels vandag gesteier onder 'n instroming van dorstiges wat die berugte Swart Vrydag kopies laat lyk na 'n piekniek. Rye het op plekke blokke ver gestrek. Mense het hulleself nog dorser gesing terwyl hulle wag om hulle deel van die Bacchus Fees te geniet. Ek vermoed sommiges het die eerste 6 biere al gesink voor hulle nog by die kassiere kon uitkom. Ekonome beweer dat twee derdes van vandag se aankope nooit die huis gehaal het nie. Die polisie bevestig dat die land vanaand vol karre staan met slapende mense in wat ook nie die huis kon haal nie. Gelukkig mag hulle nou na donker uitbly synde die virus aangesê is om ons nie meer in die donker te pla nie.
Jy mag net nie warm wees as jy gaan drank koop nie. So reël byvoorbaat met Mamma dat daar geen gevroetelry plaasvind voor jy Tops toe ry nie. Hulle gaan jou nie glo nie - as hulle meters jou optel gaan jy helaas sonder resultate protesteer en droëbek huistoe gestuur word.
Ek praat met die eienaar van 'n drankwinkel vanaand - hy vertel my hy het vandag 'n halfmiljoen Rand se drank verkoop. Sy winkel se beste dag sedert hy jare gelede deure oopgemaak het. En dis nie 'n groot winkel nie. Dink net wat die werklike groot drankwinkels dan gemaak het vandag.
Ooglopend het die pynappelbierstokers al hulle geld uitgegee op pynappels en gis, terwyl hordes mense 'n spaarplan gehad het sodat hulle vandag die winkels kon leegkoop. Kan julle ons dalk uithelp met 'n regte bier asseblief?
Ten minste weet die meer romantiese mense nou - as iemand werklik in jou belangstel, sal hy ure in die ry gaan staan om vir jou 'n knertsie OBS te koop.
Goeie nuus vir die visvangers - plesierhengel word nou weer toegelaat. Daar is net een haakplek. Strande is steeds dodelik vir mense, aldus die kabaal minsters wat slim genoeg is om van hierdie goed te weet. So ek hoop julle het die grendeltyd gebruik om julle ingooi te oefen want julle gaan dit nodig kry. Beland jou aas op die strand gaan jy 'n gewigtige klop op die skouer kry van 'n konstabel of die strand se selfaangestelde Karen.
Alles is egter ver van maanskyn en rose af in onse landjie. Miljoene mense het reeds, of is in proses om hulle werke te verloor. Dis dalk hulle wat vandag die drank opgekoop het - enige iets om te vergeet of hoe. Grappies op 'n stokkie - ons moet maar mooi met mekaar te werk gaan, hierdie ding het diep getref. Nie almal is sterk en vol brawade nie, daar is hordes mense wat sukkel, regtig sukkel, om die impak hiervan te verwerk. Groot aanpassings word van ons geverg met die herbou.
Die toerisme, akkommodasie, lugvaart en konstruksie industrieë is slegs 'n paar voorbeelde waar die skade wat deur Covid-19 aangerig is, feitlik nie in geldewaardes omgesit kan word nie. Dit gaan nie oornag herstel asof niks gebeur het nie.
Hier lê reuse werk voor vir ons almal as ons eendag wil terugkyk op hierdie tyd en weet dat ons uit die gat kon klim en weer bo uitkom.
Laat ons by onsselwers begin - vandag nog.
Riaan Coetzee
Kopiereg
1 Junie 2020

Comments