Dag 67 van die grendelstaat
Ek het vandag eers drank loop koop. Net 'n bottel whisky en 'n klein bietjie rum.
Dit was skokkend om iets soos R300 vir die whisky te betaal. Ek het R800 reggehou daarvoor, so al die kleingeld het my geskok. Toe koop ek maar 'n bietjie rum ook. Net om die seerower in my uit te bring.
Geen ry nie - al die groot kopers van gister slaap waarskynlik nogsteeds hulle roes af. Maar daar was weer 'n dame met 'n temperatuur meter. Sy rig die ding op my en ek skree "Wag wag wag, ek het eers 'n vraag!" met my hande beskermend voor my gehou.
Sy laat sak die ding verbaas. "Vat die ding my temperatuur of my IK?" vra ek.
Hierdie is belangrike inligting, ingeval hulle bevind jy is te warm om drank te koop. Soos dit is meet ek toe net meer as 35 grade. Sy wys my nogal, asof sy ook bly is vir my. Omgeemense is oral. Ek stel haar toe in kennis dat my leesbril by my kantoor is, waarop sy sê "35,5 meneer, jy mag maar ingaan."
Ek was lanklaas so dankbaar die ding meet regtig nie IK nie. Hoe sou ek daai een verduidelik het??
Op pad Spar toe beduie 'n sekuriteitswag ek moet my masker opsit. "Nie vandag nie Reichsmarschall" stel ek hom in kennis in die verbystap. Dis mos vir binne die Spar sodat niemand jou herken as jy te veel soetgoed koop nie.
"Huh?" kyk hy my hoorbaar agterna. Ek stap te vinnig om verdere reaksie te hoor, so watookal hy toe kwytgeraak het was verlore vir my.
Terug by die huis vertel Oupa Piet my dat daar 'n beseerde Hadida in die hoek van die erf agter sit. Ek loop kyk en wragtag, daar sit die skreegat en toe hy my sien begin hy dadelik met my gesels. Skielik is Stoffel ook by. Die ou grootwildjagter, hy het 'n wrok in die spesifieke voëls wat permanent in sy gebied kom sit sonder om lughawe belasting te betaal.
Met die een hand probeer ek die arme voël vasgevat kry sonder om hom verder seer te maak, en met die ander hand probeer ek die klein wetter weghou van die voël af. Ek weet nie regtig of hy die hadida sal eet of die hadida vir hom nie, maar dit keer Stoffel nie.
Kry die kêrel toe gevang, en moet vashou want hy is ontstig. Voel 'n bietjie bloed op die regtervlerk so dis moeilik om te bepaal of een van die brakke hom gevang gekry het en of hy homself beseer het.
Ons sit toe maar af na die naaste veearts toe wat ons weet wilde voëls invat. Ek het die hadida in 'n swart kussingsloop ingeboender en hy was sommer dadelik rustig. Toe krap ek maar sy koppie op pad veearts toe en vra hom of hy 'n biskuitjie soek. Antwoord steeds uitstaande.
Daar staan stoele in die hoof parkeerarea, pragtig gespasieër om die virus moedeloos te hou. Tent reg voor die deur, met die gebruiklike handontsmetting stasie. Meer maskers as 'n bende treinrowers in 'n wilde weste fliek. Ek vra toe vir die een man of hy in die ry sit?
"Nee, ek is gehelp en wag vir my hond." antwoord hy.
"O ek sien, so werk jou vrou hier?" vra ek.
"Ekskuus??" wil hy weet.
"Ek vra of het jy al jou shots gekry?" vra ek toe maar weer.
"Ha ha ha, ja en dit werk reeds" reken hy, "ek begin klaar hare op my handpalms kry."
"O ek sien, so werk jou vrou hier?" vra ek.
"Ekskuus??" wil hy weet.
"Ek vra of het jy al jou shots gekry?" vra ek toe maar weer.
"Ha ha ha, ja en dit werk reeds" reken hy, "ek begin klaar hare op my handpalms kry."
Ons kyk vir mekaar en begin gelyktydig lag. My tipe mens.
In die tent vra die een dame hoe sy kan help. Ek vertel toe die storie van die hadida en hoe ek hom uit die lug gevang het met slegs een sprong.
Nou kyk die hele tent vir my. Wel dis net die 2 dames agter die tafel met hulle wit jasse en maskers en handskoene, en 'n ander dame wat haar kat ingeboek het. Sy staan nog met die skaamkraag in haar hand, daai arme kat se nek is moer dun.
"Is jy ernstig??" vra die een dame.
"Nee" antwoord ek, "dit het net uitstekend geklink toe ek daaraan dink!"
"Ha ha ha ha ha!" lag hulle. Altans ek dink hulle het gelag, geen monde was sigbaar nie. Dalk het hulle net geluide gemaak.
Toe verduidelik ek maar die probleem. "Goed dan, ek kry gou iemand om hom in te vat." hoor ek, "ek het 'n fobie oor voëls so ek wil hulle nie eintlik hanteer nie."
"Interessante fobie" dink ek, maar voor ek kon uitbrei vra sy of ek hom wil terughê.
"Net as ek hom kan leer praat" sê ek. "Maar dis al laat, ek is moeg en honger en die tyd is min, so julle kan hom maar kry." lig ek haar goedhartig in.
So gesê so gedaan, en 'n man kom vat vir Hadie by my. "Soek jy die kussingsloop terug?" vra sy.
"As jy my skoonsussie gou bel en haar oortuig julle boek die sloop saam met ou Hadie in en sy reken dis in orde dan kan jy hom maar kry" antwoord ek. So pittig ne.
Sy lag weer en sê "Nee laat ons hom maar vir jou terugbring, wag net hier."
Sy bring die sloop vir my en vertel my die dokter sal na Hadie kyk, en die "bird lady" kom glo more deur en die sal dan oorneem.
Hopelik sal Hadie eersdaags weer piekfyn rondvlieg en almal se gatte krap.
Tensy die veearts 'n moerse luislang daar agter aanhou en Hadie aandete was.
Riaan Coetzee
Kopiereg
2 Junie 2020
Kopiereg
2 Junie 2020
Comments