Dag 61 van die grendelstaat

Is die skielike kouefront 'n teken dat Tops solank hulle yskaste aangesit het?
Gaan kerke oopmaak of moet jy jou kollekte steeds met die koerier stuur?
Gaan ons 1 Junie na vlak 3 toe of gaan ons warm gloede ons die graad laat druip en ons bly op vlak 4?
Besef die agbare minister dat die warm kolle dalk is omdat mense so de moer in is?
Mag net die gelowiges saamtrek? Moet die ongelowiges steeds tuisbly?
Gaan nagmaal in die toekoms ie laaste lag hê en met pynappelbier bedien word?
As 50 mense mag kerk toe gaan mag ons seker by vriende bymekaarkom vir 'n braai? Ons gaan minder as 10 wees Edelagbare, en ook nie op die strand nie. Ons sal mos nie lieg nie. Nee nee Frikkie is reeds in kennis gestel dat hy nie welkom is as hy sy branderplank saambring nie.
Gaan rokers toegelaat word om bymekaar te kom om te bid vir sigarette?
Gaan daar 'n naam uitgedink word vir manlike Karen's of sal hulle net Meneer Karen gedoop word?
Gaan kinders skool toe of gaan hulle ouers Tops leegkoop sodat hulle kan vergeet van hulle wroeging?
Het ons 'n Eerste Minister of 'n President?
Wat rook die Eerste Minister en kan ons ook kry? En gaan sy ons met haar volgende inligtingsessie weer deur die ore werk? Mag ons die keer net eers smeermiddel koop?
Groot asseblief.
Wie het die President se hare gesny en is sy haarkapper nog op vrye voet?
Is SA se grendelstaat die langste in die wêreld?
So baie vrae. So min antwoorde. Klink min of meer normaal vir dag 61 of hoe.
Vandag, in 1865, in Shreveport, Louisiana, gee die laaste staande leër van die Konfederasie oor na 4 bloedige jare van siviele oorlog in Amerika. Corona beter nie so lank vat nie. Ek hoop hy lees die.
Die slag by Dunkirk. Tussen 26 Mei en 4 Junie 1940 word ongeveer 338000 soldate ontruim vanaf die strande. Ellelange rye soldate het die kaai en strande vir dae toegepak, feitlik heeltyd onder vyandelike vuur en grofgeskut.
In 2020 staan honderde duisende Suid Afrikaners maklik 'n dag lank per keer in kilometers lange rye in die hoop dat hulle gelukkig genoeg sal wees om daardie dag 'n kospakkie te ontvang en nie honger gaan slaap nie.
Die geskiedenis het soms 'n wrang sin vir humor. Nes sommige ministers.
Hoe groot moet jou erf wees om genoeg tabak te groei vir die buurt? Ek vra namens 'n vriend.
Riaan Coetzee
Kopiereg
26 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf