Dag 62 van die grendelstaat
Daar is die lansering van Elon Musk se Uber X vir Ruimtevaarders toe wragtag afgelas.
Sug.
Ek het so uitgesien na die een. So 'n bietjie positiewe geskiedenis midde in al die negatiewe geskiedenis wat tans op die mensdom se perkamentrol geboekstaaf word.
Gewese Suid Afrikaner word multi-biljoenêr, begin 'n privaat ruimtevaart besigheid, begin later NASA kontrakte losslaan om onderdele en toerusting te vervoer na die lnternasionale Ruimte Stasie, en hierdie sal die eerste keer wees wat ruimtevaarders 'n geleentheid kry op sy Ruimte Tesla.
Die twee ruimtevaarders is tot toegerus met futuristiese ruimtepakke en helms. Heelwat beter as die standaard ruimtepakke wat maar altyd lyk of hulle 'n kunsmis sak aangetrek het. Maar steeds effe soos 'n afgewaterde Stormtrooper uit Star Wars. Elon kon regtig maar 'n ekstra paar miljoen gegee het vir Darth Vader ruimtepakke.
Nou moet ons wag vir eerskomende Saterdag, hopelik is die weer beter sodat die lansering plaasvind.
Vandag het ons winter aangebreek. Sneeu in bergagtige gedeeltes van die Kaap en die Vrystaat. Ysige koue. Snerpende windjie. Ek blyk amper die enigste een te wees wat dit geniet! Mens swem dan so lekker as dit koud is.
Koud is die windjie en skraal;
Die berge lê spierwit en dis beslis nie hael;
As jy nou op die strand loop ou pel;
Sal Karen jou sien en die kliklyn bel;
En dan raak jy vuurwarm soos jy weghol voor die polisie jou inhaal.
Die berge lê spierwit en dis beslis nie hael;
As jy nou op die strand loop ou pel;
Sal Karen jou sien en die kliklyn bel;
En dan raak jy vuurwarm soos jy weghol voor die polisie jou inhaal.
Ek vermoed ek is die gevreesde Anti Digter.
Uiteindelik is ou Dudu deur 'n regter uitgewys as 'n opperste skurk. Misdadige Direkteur, en sy moet regskostes betaal boonop. Sy kon dan nou die dag nie eers opvlieg Johannesburg toe vir die hofsaak nie want sy was glo te arm. Sy sal seker twee of drie van haar Louis Vuitton handsakke verpand hiervoor. Nou beter die polieste vinnig speel om vir haar Sterling silwer om die polse te reël - voordat sy gevra word om oompie Pravin se nuwe SAA wat glo soos n wafferse Phoenix uit die as van die huidige een gaan verrys en met Monopoly geld gefinansier sal word - ook in die verderf in te lei.
So skoonheidsalonne moet nogsteeds toebly, maar drankwinkels maak oop. Daarom moet julle maar drink tot sy mooi lyk. Sterkte manne.
Vir tyd en wyl gaan babas eers met waterpistole gedoop word om eer te bring aan sosiale afstand regulasies, synde kerke weer mag werk. En skielik wil die branderplank klub in Gordonsbaai ook Sondagoggende in die vlakwater bymekaarkom, glo om te bid en kollekte te versamel. Hulle het seker maar net vir lede gevra om hulle planke saam te bring sodat hulle iets het om op te sit of hoe?
Voordeel van die twyfel en so aan.
Intussen wag ons steeds vir verdere inligting oor vlak 3 maar daai klomp poeierholle in die NCCC moet klaarblyklik nog besluit of hulle weer met ons wil praat.
Tot dan suip ons pynappelbier met knakstrooitjies om goed te lyk vir Facebook selfies en tel stompies op om aan te kou want geld vir malprys onwettige rookgoed raak skaars.
Riaan Coetzee
Kopiereg
27 Mei 2020
Kopiereg
27 Mei 2020
Comments