Dag 41 van die grendelstaat

Die hele wêreld het die kluts kwytgeraak.

En dit word net erger.

In Australië mag die polisie glo selfs in jou huis inkom en jou verwyder vir korrektiewe optrede as jy iemand in jou eie huis soen. Sosiale afstand is kritiek mense! Stuur vir jou vrou maar 'n vonkpos en vertel haar sy soen lekker. Moet net nie daad by die woord voeg nie. Of soen haar in die spens sodat geen straatspioen julle sien nie.

Selfs vry is nie meer vry nie.

In Missouri in die VSA is daar na dese 900 ontsettend bekommerde spioene.

Hulle het op ander mense en besighede geklik, wat beteken dat hulle name in 'n databasis vasgevang is wat deur die staat se konsentrasiekamp wagte bestuur is. Probleem is dat daardie data op een of ander "onverklaarbare" wyse uitgekom het en publiek gemaak is op sosiale media - so nou weet almal wie die staat se spioene in hulle midde is! Die vryskut spioene is nou bang vir 'n middernagtelike klop aan hulle deure. Kan jy nou meer.

Ander weer het geklik op maatskappye vir wie hulle self werk wat glo nie by die grendelstaat regulasies gehou het nie en is nou bevrees dat die maatskappye hulle dalk kan afdank.

Het iemand gesê vol sirkel...

Mens moet versigtig wees om nie jou mantel te na aan die wind te draai nie.

Die mens se psige is 'n interesaante ding. Hoe maller dinge raak met ons nefie Covid wat uit die tronk ontsnap het, hoe meer begin ons onderling met mekaar slaags raak oor allerlei makabere dinge en gebeure. En ons raak bitter kwaad as jy 'n ander opinie huldig.

Ek dink byvoorbeeld aan die "moordenaar perdebye" wat nou in Amerika hulle opwagting gemaak het. Nou kyk, laat ons mekaar mooi verstaan. As daar een ding is wat my elke keer 'n ligte broekhoesie kan laat ontwikkel dan is dit 'n verdomde perdeby. Daai gesig wat soos onweer lyk en die angel wat lyk soos Crocodile Dundee se mes is net nie my idee van oulik nie.

En hierdie monsters wat oorspronklik net in Asië gevind was, word tot 5 sentimeter groot! Jy het reg gelees. Sy angel word tot 'n volle sentimeter lank en steek gerieflik deur selfs by-oorpakke en volgens mense wat dit al ervaar het is dit 'n brand wat direk in die hel vervaardig word. Hulle lyk nie net soos mini helikopters nie, hulle klink selfs soos een! En 'n handvol van die monsters kan 'n byekorf met dertig duisend bye binne etlike ure vernietig dat nie 'n enkele heuningby oorbly nie.

Amerika is in rep en roer, genoegsaam om hulle minder onder mekaar te laat baklei oor die virus. Of dalk baklei hulle nou oor die lengtes van die perdebye se watsename. Angels. Vergeet ek het gevra!

Dis een steek wat niemand soek nie. Selfs mense wat spense vol toiletpapier opgekoop het het te min vir hierdie een.

Ons vriend 5G wil ook net nie verdwyn nie - en nou dat 'n vooraanstaande selfoon maatskappy aangedui het hulle begin met installasies in sekere stede, is almal so besig om foelie hoedjies te prakseer vir hulle eie veiligheid dat gesigmasker verkope blykbaar 'n knou gekry het. Dis nou een onderwerp wat letterlik deurspek is met die verkoop van knolle vir suurlemoene.

Vreemde Vliënde Voorwerpe steek ook weer kop uit. Waarskynlik is die kêrels juis nou aarde toe gestuur om 'n studie te kom maak van hoe vinnig 'n hele planeet kan kop verloor in die hoop dat hulle nooit dieselfde foute maak nie. Ons help mos graag.

Die nuutste halsmisdaad is branderplankry. Soos dit is mag jy op geen strand loop nie want die sand is dodelik, so as jy nou die fout maak om dit 'n stap verder te vat en met jou branderplank die see in te neuk, waar Covid glo in mini duikbootjies rondhang en wag vir slagoffers, kan jy verseker wees dat die blou ouens jou in 'n bakkie met 'n flitsende lig gaan wegvat.

So hou jou in - jy kan altyd in die sitkamer op jou branderplank sit en Youtube grepe kyk oor hoe dit gedoen word.

Ek sal julle 'n ander keer vertel hoe ek in die Krugerwildtuin branderplank gery het.

Intussen woed die stryd tussen die gevangenes wat toegelaat word om in die oggende te oefen fel voort. Dis die gemaskerdes teen die ongemaskerdes, en niemand wil die ander enige kwartier gee nie. Dit herinner aan die stoeiers jare gelede wat met hulle knap uitrustings en volgesig maskers mekaar aangevat het.

Het hulle iets geweet wat ons nie weet nie?

So hou vas julle X-Boks kontroles - ons bewimpel ons pad oop na die volgende vlak toe!

En as die dinge jou regtig onderkry kan jy altyd dans videos op TikTok begin maak. Ons wil dit net nie sien nie.

Riaan Coetzee
Kopiereg
5 Mei 2020














Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf