Dag 36 van die grendelstaat
Ek mis Elizabeth se mieliepap.
Liewe ouers, niemand maak mieliepap soos sy nie. My een vriendin reken dis maklik man. Jy vat water, moer mieliemeel en sout by en roer.
Toe doen ek dit! 'n Uur later het ek maar roereiers gemaak. My vermoëns in die kombuis is meer gesentreerd om eiers, koffie en grondboontjiebotter toebroodjies. As Gordon Ramsay my op 'n kookkursus kry gaan selfs hy nuwe vloekwoorde aanleer.
Elizabeeeeeeeeth ek mis jou!
Ek verneem dat dames van die nag hulle dienste gaan uitbrei om hare sny in te sluit. Dis mos nou vindingryk, ek wonder net of hulle dit net daar op die hoek gaan doen. As pappa dus sê ek gaan net n knippie kry gaan mamma hom waarskynlik laat agtervolg.
Die grendelstaat affekteer letterlik almal. Vandag staan ek en kyk hoe my skoonsussie wasgoed ophang. Op die waslyn sit 'n tortelduif. Hy beweeg nie so sy moet letterlik om hom wasgoed hang. Hy sit en kyk net belangstellend na wat sy doen, geen vrees nie. Toe gesels sy maar met hom. Mens kan seker sê hulle het vir mekaar gekoer.
En toe skeit hy op 'n skoon handdoek.
Ons wonder wat hulle volgende sal verban? Toiletpapier omdat mense dit deur die gat trek? Blykbaar ruil eertydse paniek toiletpapier kopers nou hulle oorskiet rolle vir sigarette.
Desjare het 'n bekende sigaretvervaardiger mos gesê na aksie kom die satisfaksie. Na dese kan jy nie eers 'n doppie drink na aksie nie, en as jy wel kan rook doen jy dit skelm sodat sy nie dink jy is ryk nie.
Gepraat van, as jy regtig sigarette nodig het kan jy altyd die betrokke minister 'n luitjie gee. Laat dit belangrik lyk - laat jou mense haar mense bel. Sy ken glo iemand wat sigarette verskaf....
Eerste ding op 1 Mei pak ek 'n 5km aan. Net om weer bietjie te kan beweeg! Hou duim vas dat ek nie deur Checkpoint Charlie hoef te bars nie! Dit mag dalk net te veel opwinding afgee vir 'n gevangene wat op parool uit is.
Gelukkig mag ons darem nou weer ons gunsteling restaurante ondersteun en wegneem etes bestel. Ek wou nog altyd 'n bord wegneem sop bestel om te kyk hoeveel is oor teen die tyd wat die bord by my afgelewer word.
In Amerika het Joe Biden klaarblyklik aangedui dat hy in November vir Trump gaan stem. Of vir Kim Jong Un. Niemand weet werklik nie.
En net toe ons gedink het ons het alles gehoor...
In Lund, Swede, gaan die stadsvaders glo 'n hele ton hoenderbollie in 'n park uitgooi ten einde soveel as 30 000 inwoners te verhoed om feesvieringe by te woon vir Walpurgis Nag op 1 Mei.
Die boodskap is duidelik:
As jy gaan partytjie hou op Walpurgis Nag gaan jy in die kak wees.
Riaan Coetzee
Kopiereg
30 April 2020
Kopiereg
30 April 2020
Comments