Dag 37 van die grendelstaat

Ses en net meer as 'n halwe kilometer!
Dis hoe ver ek vanoggend gepativeer het. Toe die klok 6 slaan ruk ek die hek oop en storm die strate in met my beste rebelse lyftaal. Daai van - hou vas my bier en hou my nou fyn dop. Behalwe net dat ek nie bier het nie.
Die gevoel van vryheid was heerlik, soveel so dat ek eers na die tweede kilometer onthou het ek moet na my asem begin hyg.
In die uur wat ek in totaal op straat was het ek seker omtrent 'n twintig stuks mede wettige rebelle gesien.
Almal groet mekaar vriendelik en 'n hele paar voeg by - whoohoo vryheid! Fietsryers, stappers, drawwers. So lekker om weer interaksie met ander te kon geniet.
Snaaks genoeg geen mense wat in daardie tyd met hulle honde gestap het nie. Wat het gebeur sedert hulle laas so gekla het hieroor? Was dit so lank terug dat die honde oud geword het?
Daar moet natuurlik altyd daai een wees. Een antie wat nie groet nie maar eerder van die oorkantste sypaadjie skree - waar is jou masker?!
Luister, ek oefen, ek is nie nou besig met n donnerse modeparade nie. Ek probeer genoeg suurstof in my longe intrek en dis klaar harde werk. Toe sy weer so skree loop ek oor na haar toe en begin gemaak hoes.
Binne twee sekondes verander ek haar oggend in 'n hoë impak kardio dag! Sy galop letterlik daar weg. Lekker my antie, suig jy nou vir ons suurstof deur jou maskertjie en geniet dit.
Gepraat van maskers. As jy van vandag af winkels toe gaan is jy verplig om jou beste bankrower gevreet op te sit anders laat hulle jou nie in nie. So het ek in die ry by Spar gestaan laat vanmiddag. Uiteindelik voorgekom, gesteriliseer en net toe ek begin die eerste item in die trollie laai onthou ek - ek het nie bankkaarte saamgebring nie.
Fok.
Gelukkig ken ek die bestuurder. Hy het natuurlik eers sy gat afgelag en toe gesê as ek terugkom moet ek hom roep dan reël hy met die ontsmettings tegnoloog by die deur dat ek net inkom. Ek het nogsteeds hogere Frans gespreek op die jaagtog huistoe en terug.
Die keer met my masker antie!!
Interessante ding is dat mense nou in die oggend op die sypaadjies langs strande mag stap maar glad nie op die strand nie. Vir diegene wat regtig nie weet nie - seesand is absoluut dodelik. Die sand se molekules is perfek gevorm om coronas soos magnete aan te trek, so elke strand is letterlik 'n doodsakker. Jy sal nie 300 meter maak nie dan moet hulle jou met 'n helikopter kom red. Bewapen jouself met kennis mense, en wees veilig daarbuite.
Ek sit en skryf hierdie buite onder die sterre. Die halwe maan knip vir my oog en Venus is helderder as 'n feetjie wat in 'n sonstraal dans. Nege keer helderder as sy naaste kompeterende planeet - Jupiter, en 'n hele twintig keer helderder as die ster Sirius.
Daar is 'n interessante storie te vertelle oor ons vriend Venus en sy helderheid. In 2011 het dit aanleiding gegee tot 'n lugvaart insident toe die mede vlieënier van 'n Air Canada vlug Venus aangesien het as 'n aankomende vliegtuig! Hy het dadelik 'n nood duik inisieer om volgens hom 'n ongeluk te vermy. 16 passasiers aan boord het ligte beserings opgedoen.
Waarskynlik almal vrouens - hulle kom glo van Venus af.
Die hele virus ding laat mense snaaks optree. En dom en kwaai en alles tussenin. Maar sommige mense het nie enige verskonings nodig nie. Hulle breins is van brood gemaak.
In Moeder Rusland wou 'n paar mense probeer om 'n ou staaltjie van 'n baie arm vrou wat 'n hoender onder haar rok uit 'n winkel smokkel na te boots en dit te verfilm.
So het 3 vriende afgesit na hulle naaste kruidenierswinkel. Daar gekom het hulle 'n hoendertjie gevat en oopgemaak, en die blonde dame (dit moes seker wees né) het haar onderklere uitgetrek en die hoender in haar lewensvruggie ingewerk.
Dis regtig waar. Ongelukkig.
Toe haar rokkie reggetrek en versigtig uitgestap. Om die hoek het sy wydsbeen loop staan en KERRRWAPS val daar 'n hoender op die sypaadjie.
Moenie vra hoe ek weet nie. Ek het eienaardige vriende.
Dis alles op kamera vasgelê en het soos 'n veldbrand versprei.
Sy is gearresteer en aangekla van winkeldiefstal, koekversiering en domgeit.
Die hoender is steeds op vrye voet.
Riaan Coetzee
Kopiereg
1 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf